Hoofborge

Naamborg

 

100% Woordfees

100%!!! Woordfees 2018 vorm eenhonderd present deel van die eeufeesvieringe van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die eeufeesvieringe kyk terug op ‘n universiteitslewe van eenhonderd jaar.

Ons kyk terug, onthou en vier. Ons kyk terug op genuanseerde wyse. Daar is dinge in ons geskiedenis wat ons verbly, wat ons wil vier, en wat ons op selfs hoër vlakke wil voortsit. Daar is ook dinge wat ons graag anders sou wou doen. In ons Oorhoofse Strategiese Raamwerk van 2000 erken ons ons bydrae tot onregte van die verlede en verbind ons ons tot helende en ontwikkelings-prosesse.

Die Britse politikus, Winston Churchill, het gesê: hoe verder ons terugkyk, hoe verder sien ons vorentoe. Ons kyk terug, onthou, en vier sodat ons beter vorentoe kan kyk en reis. Ons vier die verlede ter wille van die hede en die toekoms.

En dis juis waar die kunste unieke en onontbeerlike bydraes lewer. Die kunste help ons om te onthou, om te vier, om te treur, om vorentoe te kyk, om met verbeelding te leef, om van die nuwe te droom, om ‘n samelewing van onvervreembare menswaardigheid, helende versoening, omarmende geregtigheid, verantwoordelike vryheid, gelykwaardigheid en gelykheid voor die geestesoog op te roep, om dit op verskeie wyses te artikuleer, en om geleidelik dit te word wat ons droom, wat ons verbeel.

Die kunste help ons op eenhonderd persent te funksioneer in terme van intensie, aspirasie en visie. Die kunste werk transformerend en rig ons tot perspektiewe en prioriteite, besluite en beleide, planne en prosesse, programme, aksies en handelinge wat aspireer na eenhonderd persent.

Nico Koopman

US Viserektor, Sosiale impak, transformasie en personeel


Trusts en Donateurs

Platinumborge

 

Luister saam met ons na die stories

Musiek is nie net note en woorde wat bymekaar gevoeg is nie. Dit dra ‘n boodskap oor, vertel ‘n storie. ‘n Storie wat behoue bly vir altyd. Vir almal om nou te geniet, maar ook vir generasies daarna.

Daarom is Sanlam bevoorreg om vanjaar vir die elfde agtereenvolgende jaar die borg te wees van die Musiekfees by die US Woordfees. Hierdie is voorwaar ‘n feesjaar. Nie net vier ons fees met musiek nie, maar beide Sanlam en die Universiteit Stellenbosch vier hierdie jaar hul honderdste bestaansjaar.

Sanlam ondersteun ons musikante eenhonderd persent - hul werk en die kreatiewe proses om kuns te skep. Elke woord is ‘n meesterstuk wat geslyp word, gevorm en hervorm word. En dan gedeel word.

Soos musiek, is die skep van waarde en welvaart vir ons kliënte ook ‘n fynbeplande proses, iets waarin Sanlam as Welvaartmeesters uitblink. Vir eenhonderd jaar al weet ons die skep van welvaart is ‘n persoonlike reis, net soos die proses om woorde te laat leef. Vir eenhonderd jaar al sien ons om na ons kliënte se persoonlike finansiële behoeftes. Daarom is dit gepas dat ons musikante ook ondersteun om hul persoonlike stories te vertel.

Met “elke woord is ‘n meesterstuk” as tema van vanjaar se Musiekfees, glo ons dat elkeen wat luister die stories sal hoor en geniet. Sanlam se ondersteuning van die Musiekfees is ‘n bewys van ons toewyding om saam met ons vennote ‘n blywende nalatenskap vir die taal en haar musiek te skep.

Sanlam nooi elkeen om saam met ons fees te vier met woorde en musiek. Om saam met ons na die stories te luister.

Geniet dit!

Carl Roothman
Uitvoerende hoof: Kleinhandel: Sanlam Beleggings

 

100% skeppend

kykNET is 100% verbind tot die vooruitgang en groei van Afrikaans en al haar sprekers – daarom ondersteun ons kunstefeeste wat dit 100% uitleef.

Afrikaans staan egter nie in isolasie van ander tale nie; ons woon in ‘n land waar ons oor kultuur- en taalgrense heen moet werk en kommunikeer. Afrikaans is reeds, en kan ‘n nog groter brugbouer word in ‘n verdeelde gemeenskap. Afrikaans is egter ook ‘n taal wat vermaak en verryk – en dit is kykNET se kernbesigheid.

Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, of hoe jou Afrikaans klink nie – Afrikaans-sprekendes is almal deel van die familie van Afrikaans. Ons wil graag ons familie ingelig hou; ons wil vir ons kykers van waarde wees, en ook waarde tot hulle lewe toevoeg.

kykNET is aktief betrokke by ‘n verskeidenheid inisiatiewe om die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf uit te brei en te bestendig.

Deur projekte soos die Fiestas, die Silwerskermfees en die Ghoemas te stig en te dryf, maak ons ‘n groter belegging in die vermaaklikheidsbedryf as die vervaardiging van meer as 4000 ure nuutgeskepte Afrikaanse televisie per jaar.

Die kykNET kanale is 100% skeppend en oorspronklik, soos die mense vir wie ons die beste en mooiste  stories wil vertel, natuurlik in Afrikaans!

Dis vir kykNET ‘n voorreg om ‘n platinum borg te wees van die Woordfees in die Universiteit van Stellenbosch se eeufeesjaar. Lekker verjaar ou maat(ie)!

Karen Mering
Direkteur, M-Net Afrikaanse Kanale

 



Natuurlike pasmaats

Media24 en die fees wat woorde vier is natuurlike pasmaats. Woorde is ons brood en botter en die fondasie waarop ons maatskappy meer as ‘n eeu terug gebou is. En by die US Woordfees skitter woorde behoorlik – deur poësie, prosa, debat, drama en musiek.


Die fees is egter nie net ‘n viering van die kunste nie; dit plaas ook die kollig op ons samelewing en die talle uitdagings waarvoor ons daagliks te staan kom. Dit bied die geleentheid om ons land se topskrywers, -digters en -kunstenaars elke jaar vir tien dae bymekaar te bring om kreatiewe oplossings te vind en nuwe rigtings in te slaan. En, natuurlik, warm gesprekke in Afrikaans.

Nes die Woordfees moedig Media24 ook gesprekke in Afrikaans aan. Met gesaghebbende en geliefde publikasies soos Die Burger, Rapport, Son, Huisgenoot, SARIE, Kuier, Landbouweekblad, Finweek en Weg!, digitale baanbrekers soos Netwerk24 en NetNuus, en ons leefstylkanaal VIA wat van krag tot krag gaan, bied ons geleenthede vir ons lojale gehore om in hul taal te gesels, dink en debatteer.

Daar wag jaarliks ‘n smorgasbord nuwe ervarings op feesgangers, en bied beslis iets vir die hele gesin.

Media24 bly ‘n trotse ondersteuner van die Woordfees. Geniet dit – hierdie een gaan weer een vir die boeke wees!

Esmaré Weideman
Media24 se uitvoerende hoof

 


Goue Borge



Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief