US Woordfees-kortverhaalbundel

Inskrywings vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel word ingewag

Skrywers kan nou inskryf vir die vierde US Woordfees-kortverhaalbundel, wat by die 2019 Woordfees bekend gestel sal word. Du Toitskloof Wyne borg weer die prysgeld van R30 000 vir die wenverhaal. Een van die gepubliseerde verhale sal ook weer met die ondersteuning van kykNET vir die Silwerskermfees as kortfilm ontwikkel word.


“Die Woordfeeskortverhaalbundel se statuur het in die afgelope drie jaar tot dié van literêre instelling gegroei,” sê Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees. “Die hoeveelheid inskrywings groei jaarliks saam met die gehalte van die skryfwerk en die tematiese verskeidenheid in die verhale. Ons is opgewonde om te sien waarmee skrywers vir die 2019-bundel vorendag kom.”

Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, het in die verlede elkeen R4 000 vir hul verhale ontvang, maar danksy Du Toitskloof sal elkeen volgende jaar R5 000 in die sak steek.

“Sedert die verskyning van die eerste Woordfeesbundel in 2016 word van die beste kortverhale in Afrikaans op hierdie wyse gepubliseer,” sê die uitgewersredakteur en sameroeper van die kompetisie, Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 by dié projek betrokke is. “Die wedstryd het laas jaar gegroei tot ’n rekordgetal van 237 inskrywings, met stewige prysgeld sowel as ’n prestigeryke filmprys wat skrywers kan inpalm. As jy nog altyd jou hand aan ’n kortverhaal wou waag, is hierdie jou kans!”

Die 2018-wenner, Clari Niemand, se verhaal Non (kompos) mentis word in ’n kortfilm omskep wat by die 2018 Silwerskermfees vertoon sal word.

Oor Du Toitskloof Wyne se betrokkenheid sê Marius Louw, uitvoerende hoof, dat Du Toitskloof die jaarlikse Kortverhaalkompetisie as een van die kalenderjaar se hoogtepunte beskou: “Daar waar kreatiwiteit heers, wil ons graag betrokke bly, want só deel ons in die ontdekking van die skrywers se goud, skuur ons skouers met die kunste en blink ons saam agterna. Ons deelname as borg inspireer ons tot groter vindingrykheid in elke volgende avontuur wat ons aanpak.”

INSKRYWINGSVORM: KLIK HIER (LET WEL: Vorms kan net op 'n rekenaar afgelaai word nie en nie op selfone/tablette nie)

  • Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal by die Woordfeesprogrambekendstelling in November 2018 bekend gemaak word. Die wenverhaal asook die verhaal wat vir ‘n verwerking tot kortfilm gekies is, sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, gedurende die Woordfees van 1-10 Maart 2019, aangekondig word.
  • Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 September 2018 om 16:00.
  • Stuur inskrywings per e-pos aan Pieter Eksteen by pieter.eksteen@za.pwc.com. Geen kompetisienavrae wat na hierdie adres gestuur word, sal beantwoord word nie.Inskrywings wat later as 16:00 op 30 September 2018 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word.
  • Vir navrae, stuur u0149 e-pos aan danie_marais@sun.ac.za– slegs skriftelike navrae sal beantwoord word. 
  • LET WEL: Vorms kan net op 'n rekenaar afgelaai word nie en nie op selfone/tablette nie.

Riglyne vir die Woordfees-kortverhaalkompetisie 

  • Slegs Afrikaanse kortverhale sal aanvaar word.
  • Die kompetisie is oop vir alle skrywers. Werknemers en familielede van Du Toitskloof Wyne en die US Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.
  • Slegs een inskrywing van 1 500 tot 3 000 woorde word per skrywer aanvaar.
  • Verhale moet nuutgeskryf wees en nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.
  • Die skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem word, sal elkeen ’n eenmalige betaling van R5 000 teen April 2019 ontvang.
  • Daar sal ongeveer 20 verhale in die bundel gepubliseer word.
  • Die skrywer van die wenverhaal ontvang prysgeld ter waarde van R30 000.
  • Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die US Woordfees. Indien verhale wat in die bundel verskyn ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan die US Woordfees sowel as volledige erkenning met publikasie.
  • Inskrywings wat nie vir die bundel gekies word nie, kan volgens die uitsluitlike diskresie van US Woordfees elders gepubliseer word, sonder dat US Woordfees of Du Toitskloof Wyne enige verpligting tot vergoeding in dié verband het.  Kopiereg van die verhaal setel in die skrywer, wat geïdentifiseer sal word as die outeur daarvan.
  • Kopiereg van vertaalde verhale moet tussen die skrywer en die vertaler uitgeklaar word. In die geval waar ‘n verhaal vertaal is, onderhandel die US Woordfees slegs met die skrywer van die verhaal.
  • Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer (en vertaler) – sien bostaande punt) se naam en kontakbesonderhede moet op die onderstaande inskrywingsvorm ingevul word. Slegs die titel moet op die verhaal verskyn, ten einde anonieme keuring te verseker.
  • Verhale moet in 12pt Times New Roman en 1.5-spasiëring in MS Word-formaat aangebied word. Geen PDF’s sal aanvaar word nie. Elke bladsy moet genommer wees met die titel van die verhaal duidelik sigbaar.
  • Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word waaruit beoordelaars sy/haar identiteit kan aflei, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.
  • Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.
  • Hoewel die bundel die feestema as titel sal hê, moet skrywers dit nie as riglyn vir of onderwerp van die verhaal gebruik nie. Die tema van die verhaal word geheel aan die skrywer oorgelaat.


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief