Theo Kleynhans

Nuwe kurator vir visuele kuns by die US Woordfees

Theo Kleynhans is pas aangestel as kunskurator vir die US Woordfees. Die feesdirekteur, Saartjie Botha, sê sy is baie opgewonde om dié bekroonde kunstenaar en ervare kurator in die Woordfeesspan vir 2019 te hê.

Kleynhans het reeds voorheen die Woordfees se visuelekuns-program behartig, maar hy meen hy is die enigste kurator wat al die Woordfees, Aardklop én die KKNK se kunsaanbiedings saamgestel het.

In sy eie werk spits Kleynhans, wat ook ’n gerekende beeldhouer is, hom tans op keramiekkuns toe. Hy sê hoewel hy deeglik bewus is van die feit dat 2019 ’n verkiesingsjaar is, sal sy hooffokus as kurator steeds skoonheid bly.

“Ek beywer myself om werk van hoë tegniese gehalte te wys wat die vakmanskap van die kunstenaar blootlê. Ek hou van ’n voorwerp wat goed gemaak is.”

Kleynhans reken die grootste kopseer van ’n kurator is nie noodwendig wat om in te sluit nie, maar eerder wat om uit te sluit. Dié uitdaging maak hom egter opgewonde.

“Ek sien vreeslik uit daarna om die visuelekuns-program vir die Woordfees 2019 aanmekaar te sit. Kunstenaars is uiteraard taamlik moeilik om te bestuur, maar ek het gelukkig al geleer uit my jare se ervaring hoe om met die spesie te werk. Vroegtydige sperdatums is van lewensbelang. Kom kyk gerus – dit sal die moeite werd wees.”


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief