Bravo! Bal

Kom dans vir liefdadigheid by die Woordfees Bravo! Bal 2018

Die eerste Woordfees Bravo! Bal was verlede jaar so ’n swierige sukses dat ons vanjaar op 17 Februarie weer so maak.

Kom geniet ’n uithangaand in die statige Stellenbosch Stadsaal op die aansteeklike maat van die Mike Campbell Big Band. Die stersjef Herman Lensing gaan kos optoor wat net so mooi is as wat dit lekker is, en Clemen Gold gaan sprankelende G&T’s bedien. Edmund Beukes XL Events sal sorg dat die dekor iets is om oor huis toe te skryf.

Die aand se plesierigheid sluit ’n opwindende kunsveiling in wat deur Aspire Art behartig sal word. Mark Coetzee, die uitvoerende hoof en kurator van die Zeitz MOCAA-museum in Kaapstad, het werke geskenk en kuns van onder andere Anton Kannemeyer en Strijdom van der Merwe sal onder die hamer kom. Danksy Louis Jansen van Vuuren kan balgaste ook bie op ’n eksklusiewe skildervakansie in Frankryk. Die Old Vine-projek voorsien ’n bottel uitsoekwyn, wat saam met die kuns opgeveil sal word.

Die opbrengs uit die veiling en kaartjieverkope gaan aan die Teaterbystandsfonds en die Ben Dehaeck-beurs vir eerstegenerasie-studente wat drama studeer aan die Universiteit Stellenbosch.

Kaartjies kos R1 500 per persoon of R12 000 vir ’n tafel van tien – koop op Computicket of kontak Ulrike Vorndran by woord@sun.ac.za om jou plek by die tweede Woordfees Bravo! Bal te verseker.

Kom sluit aan by bekendes soos Rolene Strauss vir ’n rooitapyt-aand. Dis die glanskuier-en-danskans van die jaar.


 


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief