2 - 11 Maart 2018

Dae
Ure
Minute
Sekondes

Die verhaal van musiek van hier en oor die bloue berge heen

Die US Woordfees 2017 bied met trots aan

Die verhaal van musiek van hier en oor die bloue berge heen

Die pad wat musiek uit Afrika gevolg het, meesal al met die slaweroetes langs, en dan weer hoe dit sy weg terug gevind hier na ons kontinet. Dít is die verhaal wat vertel word in die twee produksies Al lê die berge nog so blou en ook Naledi berge nog so blou. “Die blues is die stamvader van ‘n groot hoeveelheid van ons hedendaagse musiek wat onder andere rock, soul, gospel en jazz insluit,” verduidelik baskitaarspeler Schalk Joubert, verantwoordelik vir die konsep, vervaardiging en regie van die twee produksies.

Vir altwee produksies maak Schalk van dieselfde kerngroep musikante gebruik – dink aan name soos Nick Turner, Ramon Alexander, Albert Frost en Kevin Gibson. As hoofsangers het hy vir elke produksie musikante gekies wat nie net populêr is by gehore nie maar ook oop is vir iets nuuts en die boodskap die beste sal kan oordra. Zolani Mahola, Francois van Coke tree op in Al lê die berge nog so blou, terwyl Katlego Maboe die storie in Naledi berge nog so blou optel.

Volgens Schalk kan ‘n mens die verspreiding van musiek grootliks aan die hand van slawehandel volg. “Die blues het sy oorsprong in Afrika, is deur slawerny versprei na Amerika waar dit allerhande permutasies aangeneem het en toe teruggekeer het na Afrika, met onder andere die Alibama, waar dit hier weer sy eie rigting ingeslaan het. Van die Blue Note in New York oor die blou waters tot terug in Bloubergstrand!”

In die ‘tweede aflewering’ is die fokus op die verskillende style en invloede wat uniek aan die Afrika kontinent is en veral aan Suid-Afrika met sy smorgasbord van kulture en style. “Ons skerts tong-in-die-kies dat ons opsoek is na die oudste liedjies in Afrika!” spot Schalk oor die vetoning se naam.

Hoewel die hoofstroom erkenning wat Al lê die berge nog so blou gekry het ietwat van ‘n verrassing was, sê Schalk dit is vir hom ‘n riem onder die hart as mense vanuit alle oorde ‘n produksie wat nié in alle opsigte as hoofstroom gesien kan word nie, soveel geniet. “Ek dink regtig daar is iets vir almal in die produksies. Ek dink mense leer geweldig baie uit die produksies sonder dat dit ooit n lesing raak. Dit is primêr gefokus op vermaak.”

En, op ‘n vraag of daar nóg berge voorlê, antwoord Schalk filosofies: “Daar sal altyd nog berge wees om oor te steek!”

Al lê die berge nog so blou word op 6 Maart om 20:30 opgevoer by die Spier Amfiteater, met Naledi berge nog so blou die volgende aand, 7 Maart, ook om 20:30. Die tydsduur van beide produksies is 70 minute en kaartjies kos R150, R130 of R100 vooraf of R170, R150 of R120 by die deur.

Vir meer inligting of om ’n onderhoud te reël, kontak vir Frieda le Roux by die Woordfees-kantoor by 082 742 4156 of friedaleroux@sun.ac.za. Die US Woordfees word van 3-12 Maart 2017 in Stellenbosch aangebied. Die volledige feesprogram is beskikbaar op ons webwerf, www.woordfees.co.za.

 

Meer oor die produksie

Al lê die berge nog so blou

Musiekregie en vervaardiging: Schalk Joubert

Met: Zolani Mahola, Francois van Coke, Pietman Geldenhuys, Nick Turner, Schalk Joubert, Ramon Alexander, Albert Frost en Kevin Gibson

 

Naledi berge nog so blou

Musiekregie: Schalk Joubert

Met: Ramon Alexander, Albert Frost, Kevin Gibson, Schalk Joubert, Koos Kombuis, Katlego Maboe,

Peter Mitchell en Nick Turner


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief