Hê aandeel in die 25ste Woordfees se kreatiewe identiteit
25ste Woordfees ‘deel’
Hê ’n aandeel aan die 25ste Woordfees se kreatiewe identiteit
Jy word genooi om saam met die Toyota Stellenbosch Woordfees deel te hê aan die viering van 25 jaar van kuns, kultuur en uitdrukking. Vanjaar se tema is “deel”.
Ons hou weer ’n lentefees in die Eikestad vanaf 11 tot 19 Oktober, en jou sketse, spotprente en illustrasies kan deel uitmaak van die feestema en -vieringe.
Wat beteken die woord ‘deel’ vir jou?
Deel jou skeppings met die feesbestuur, en dit word dalk deel van die fees se bemarkingsveldtog en kreatiewe identiteit. Ons het verlede jaar gespeel, nou gaan ons deel. Bydraes sal tot en met die einde van die fees aanvaar word, wat ook vir latere Woordfees-geleenthede soos die Woordtrofees gebruik kan word. Laai jou bydraes hier op.
Die program vir die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees word op 20 Junie by ’n spesiale geleentheid bekend gemaak en sal ook op die fees se webwerf, kommunikasie- en sosiale-media-platforms gedeel word. Daar is weer 12 genres op aanbod: Toneel, Toyota Musiekfees, EasyEquities Skrywersfees, Klassieke musiek, Diskoers, Kinderfees, Komedie, Leefstyl, Visuele kuns, Filmfees, Dans, Woorde Open Wêrelde Fees (WOW).

’n Boodskap van Saartjie
“In die kunste is ’n gedeelde ervaring altyd kragtiger as ’n eie afgesonderde een, omdat energie en emosie meesleur, of vrymaak, of diepgang gee. ’n Kunstefees bied ’n geleentheid aan onverwante feesgangers om ’n gedeelde ervaring te hê, en so word ’n unieke band gevorm. By ’n fees deel ons, of ons is deel, met en van mekaar, die kunste en kultuur, van iets groters, deel van ’n gemeenskap.
By die Toyota Stellenbosch Woordfees kan kunstenaars en feesgangers gedeelde ervarings en passies van uiteenlopende smake beleef en uitleef. Dis ’n fees van stories, skepping, nuwigheid én nostalgie, uitdaging en uitnemendheid, gevoel en gesprek – diep én ligsinnig – en ook sommer net ’n lekker bymekaarkom en partytjie.”Saartjie Botha: Direkteur, Toyota Stellenbosch Woordfees
Bepalings en voorwaardes
Deur jou werk in te dien vir die Toyota Stellenbosch Woordfees se publieke veldtog om ontwerpe in te samel, stem jy in tot die volgende bepalings en voorwaardes:
- Eienaarskap en regte:
Jy bevestig jy is die oorspronklike skepper van die ontwerpe, illustrasies of geskrewe inhoud wat voorgelê word (hierna verwys na as “voorlegging”), en dat jy die volle regte daarvoor besit. - Toekenning van regte:
Deur jou werk in te dien, verleen jy aan die Toyota Stellenbosch Woordfees die nie-eksklusiewe reg om jou voorleggings te gebruik vir promosiedoeleindes wat verband hou met die fees, insluitend maar nie beperk tot drukwerk, digitale platforms en sosiale media. Hierdie gebruik is vry van lisensiefooie. - Aanpassing/redigering van voorleggings:
Die Toyota Stellenbosch Woordfees behou die reg voor om jou voorleggings te verwerk, aan te pas of te verander volgens die fees se behoeftes, sonder om jou te nader of jou toestemming te bekom. Dit sluit aanpassings in vir gebruik op verskillende platforms en media. - Keuring en erkenning:
Die Toyota Stellenbosch Woordfees sal bepaal watter voorleggings gebruik sal word. Indien jou voorlegging gekies word, sal jou naam op die Toyota Stellenbosch Woordfees-webwerf verskyn vir erkenning. As jy nie erkenning wil ontvang nie en verkies om anoniem te bly, dien asseblief jou voorleggings anoniem in. - Geen betaling:
Indien jou voorleggings deur ons gekies word vir gebruik , sal jy nie geregtig wees op enige vorm van betaling nie. - Vrywaringsklousule:
Deur jou voorleggings in te dien, vrywaar jy die Toyota Stellenbosch Woordfees, die fees se werknemers, kontrakteurs en vennote onherroeplik teen enige regsgedinge of -disputes wat mag ontstaan uit die gebruik van jou voorleggings. - Vertroulikheid:
Jou persoonlike inligting en voorleggings sal met respek en vertroulikheid hanteer word. As jy nie erkenning wil ontvang nie en verkies om anoniem te bly, dien asseblief jou voorleggings anoniem in. - Wysigings van bepalings en voorwaardes:
Die Toyota Stellenbosch Woordfees behou die reg voor om die bepalings en voorwaardes in hierdie dokument vervat, op enige tydstip te hersien of te verander, sonder vooraf kennisgewing. Dit is jou verantwoordelikheid om dit gereeld na te gaan.