Galery: Fringe

ANGLO ANGST

Met: Nichola Viviers, Mia van der Merwe, Jordyn Linklater, Thalia Alberts, Izette Blignaut, Vihann van Rooyen, Zoë-blu Mottram

Shakespeare se Romeo & Juliet word Romeo en Johanna: Die Anglo-­ Boereoorlog-weergawe in dié mal musical van Estefan Coetzee, ’n nuwe regisseur op die toneel wat uitblink in eksperimentele teater. Maar met die laaste kleedrepetisie loop alles skeef: Twee akteurs daag nie op nie, die verhoogbestuurder kry die intrektyd heeltemal verkeerd, en nou begin die kerk oor ’n halfuur in die lab. Hulle sal die hele ding moet Mickey Mouse.

BRANDMERK

Met: Jurgen McEwan, Miché C. van Wyk

Danny het ’n fobie vir roomys. Sy suster Debra sukkel om te slaap en is boonop gepla met Miguel, die man op die maan. Die twee verhuis met maansverduistering, maar Debra vind dit moeilik om alles net so agter te laat. Vrae oor die verlede duik op terwyl die aarde sy plek tussen die son en maan inneem.

BYSTER

Met: Lara Hattingh

’n Oningeligte, naïewe jong vrou sukkel om deur die diep waters van 2023 te kom. Sy’s regtig snaaks, maar waarskynlik ’n bietjie van ’n narsis. In ’n versameling oënskynlik lukrake stories vertel sy kaalvuis wat sy dink. Sy wonder wat dit beteken om ’n vrou te wees en of sy haarself regtig ’n Afrikaner kan noem. Sy weet dit nie, maar sy is besig om te hardloop. Maar of sy probeer wegkom van iets, is onduidelik.

DIE TWEE LAKSMANNE

Met: Nichola Viviers, Johann Dippenaar, Chrizelle Strydom, Merwe van Gent

’n Satire uit die era van die Franco-diktatuur herleef binne die konteks van ons moderne diktatuur van die tegnologie. Francoise leer haar twee kinders oor opoffering en skuld. In die kamer langsaan laat sy hulle pa doodmartel. Sy plaas fragmente van gebeure op Instagram. Sy volg eintlik ’n strategie van propaganda en fopnuus. Hoe ver strek cancel culture? Het ons te make met die Spaanse Inkwisisie van ons tyd?

IS ALS ORAAIT BY DIE HUIS VAN DIE HERE?

Met: Miché C. van Wyk, Vihann van Rooyen (klavier)

Niks bly stabiel wanneer die kerk toemaak nie. Auntie Bekkie rook haar longe plat. Suster Frances steel. Die polisie is pateties. Die res neuk ook maar net aan. Alles en almal behalwe die Here is teenwoordig op Kookfontein. Die duiwel is selfs nie eens meer die duiwel nie. Waar sal die gemeenskap se hulp vandaan kom?

JANTJIES AND THE PEARLS

Met: Miché C. van Wyk, Julia Marone, Kerscha Titus, Mikyall Harris, Tamia Thompson, Nequin Petro, Keagon Cochrane

Die Jantjies-gesin woon in die hartjie van Distrik Ses, vasberade om hulle huis van die gedwonge verskuiwing te red. In hierdie komiese, bittersoet worsteling met verlies, rou, ontkenning en hoop bedink hulle ’n vreemde plan waar hulle lot op pêrels berus: Hulle glo drie pêrels sal hulle red indien dit gevind word, maar dit lê in die besit van vurige Gadija, Boeta Char, ’n bendelid, en in die tande van ’n afgestorwene. Bekroon vir beste teks en beste ensemblespel by die Première-teaterfees.

PATISSERIE FEMME

Met: Liphelo Matthews, Nomfundo Selepe

Patisserie Femme is ’n satiriese komedie wat afspeel in ’n bakkery wat nie fyngebak verkoop nie, maar vroue! Die gehoor ontmoet ’n mengelmoes van karakters en word deel van die spanning en getuies van die snaakse én hartverskeurende biegstories van die spens se hoofbestanddele: Cherry on Top & Yeastica/Yeastiesha. Patisserie Femme is weliswaar ’n komedie, maar een wat ook ernstige vrae stel oor die manier waarop die samelewing vroueliggame beskou en hanteer.

THE SESSION

Met: Benna Bezuidenhout, Arnold Ntumvi-Nguti, Dyane Sampson, Tyrese Human, Sonwabo Duna

Die hedendaagse koshuislewe word ondersoek in dié komedie wat in die gange van die Simonsberg-manskoshuis gebore is. Die akteurs het saam die stuk geskep om hulle daaglikse ervarings in hierdiekomplekse ruimte oor te dra. Onder die vergrootglas is onder meer die afbreek van verwagtinge, die soeke na liefde, storte en die gewelddadige ontgroening waarvoor manskoshuise vroeër berug was. Die stuk is opgevoer by die jaarlikse Palesa-koshuis­ toneelfees en as wenner aangewys.

TOM PYN

Met: John B. Swart

Tom probeer sin maak van sy lewe, jóú lewe, óns lewe. Hy gaan elke oomblik steel wat hy kan. Is dit jou tyd werd? Hy gee nie om nie. Tom verwerk oomblikke van sy lewe en neem jou saam op dié reis. Daar was nood; daar was ’n vrou; daar was ’n hond, maar nie in daardie volgorde nie. Tom gee nie om as jy dink hy mors jou tyd nie. Dis alles onnodig, maar hy is nog hier.

TROU KOEK/TERT

Met: Margo Kotze, Elmé Oosthuizen

Koek en Tert staan op trou, albei in ’n spierwit rok. Dis middeltwintig-eksistensialisme! Is dit normaal om so warm te kry op ’n koel lenteaand? Daar is ’n klop aan die deur. Dis Adriaan. Twee trou­ rokke, een bruidegom, maar net een bruid stap môre in ’n wit rokby die paadjie af.

TSEKMATE

Met: Henrietta Cloete, Mikyall Harris, Nathaly Lottering, Ethan Patton, Nequin Petro, Tamia Thompson, Adri-Jo Waterboer

Tsekmate vertel die storie van ses gevangenes wat deur middel van ’n skaakspel probeer sin maak van die gebeure wat hulle uiteindelik hulle vryheid gekos het. Word hulle verwerp weens omstandighede of verkeerde keuses, of moet hulle aanvaar word vir wie en wat hulle was voor hulle misdade? Watter rol speel die omgewing in die soort mense wat hulle geword het? Die karakters en gehoor worstel met dié vrae – dalk wag uitkoms tussen die selmure.

Facebook
Twitter
LinkedIn