Met hul Karoo Suite het Deon Meyer en Coenie de Villiers gehore dwarsoor die land in vervoering gehad. Vanjaar keer die twee ou vriende terug met ’n aangrypende opvolger – Karoo Suite 2: Karoonagte. Dis weer ’n eiesoortige mengsel van woordkuns, musiek en treffende foto’s. Die titel verwys na Deon se gelyknamige boek en Coenie se bekende lied. Dis nagverhale deur Deon Meyer wat hy self op die verhoog vertel. Die musiek en orkestrasie word weer eens deur Coenie geskep en gespeel, bygestaan deur Mauritz Lotz op kitare.

Waarna sien Deon en sy vrou, Marianne, uit by vanjaar se Woordfees

Sê groete vir Ma 
’n Tragikomiese eenmanstuk met Hannes van Wyk oor ’n man wie se lewe draai om die vrou wat hom in die wêreld gebring het. Sandra Prinsloo is die regisseur.

Schalkie & Cassie hou konsert
Komediante Casper de Vries en Schalk Bezuidenhout kyk terug na hul skooldae en gesels oor skolesport, debat en redenaars, danse en huispartytjies en al die snaakse moeilikheid  wat hulle vroeg al aangejaag het.

Daniel Prozesky with the Amici quartet 
Die hoofklarinettis van die Kaapstadse Filharmonie, Daniel Prozesky, bied saam met die Amici-kwartet ’n konsert van kamermusiek vir klarinet en strykers aan met komposisies deur Mozart, Brahms en Peter Klatzow.

Die dinge van ’n kind
’n Verwerking van Marita van der Vyver se gelyknamige roman deur Francois Toerien tot ’n eenvroustuk met Cintaine Schutte. Dié produksie het by Aardklop 2019 die toekenning vir Beste vertolking in ’n solo-produksie gewen.

Azille Coetzee: In my vel 
Met haar outobiografiese boek, In my vel, het Azille Coetzee probeer sin maak van wat dit beteken om ’n wit Afrikaan te wees. Sy gesels met die historikus en DF Malan-biograaf, Lindie Koorts, en die jong teatermaker-skrywer Mercy Kannemeyer oor die vraag: Is daar ’n toekoms in dié land?

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on google
Google+
Lees ander berigte