Hoofborge

Naamborg

 

Om jonk te wees…

20 jaar later en hier staan ons steeds. Nou sterker, groter, beter en jonger as toe!

Vir ‘n fees om jonger te word beteken dit dat dit ‘n fees moet wees wat kan leer uit foute, weer kan probeer en veg vir nuwe moontlikhede. Dit is ‘n fees wat weet wanneer om vir dit self te lag, wanneer dit vinniger of stadiger moet beweeg en wanneer dit ‘n ander rigting in moet slaan. Hierdie wysheid het ‘n vorentoe fokus juis omdat dit goed geanker is.

En dit is presies wat die US Woordfees oor die afgelope 20jaar gedoen het en wie die Fees vandag is.

Ons 20ste jaar beloof om ‘n jaar te wees waar ons nuwe vriende deur nuwe produksies ontmoet; waar ons die tweede bestaansdekade betree met ‘n terugblik op wat was; om ons nog meer te anker in ons diversiteit en om ons op verskeie maniere te inspireer. Daarom kan u daarna uitsien om inderdaad jonger te voel tydens die Fees.

Die impak van die Fees word wyd beleef. Dit is veral die impak van die mense van die Fees wat ons op ‘n daaglikse basis inspireer om ‘n groter verskil in ons samelewing te maak. En dit sal ons bly doen. Deur die kunste het ons dalk die beste kans om krities te reflekteer op onsself, ons land en ons toekoms.

Daar is dus inderdaad wysheid in ons jonkheid – met al die ander dinge wat daarmee gepaard gaan.

Dit is vir my ‘n voorreg om deel van ‘n span te wees wat ons volgende jaar jonk gaan laat en ek sien daarna uit om elkeen van julle daar te ontmoet.

Leslie van Rooi
Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie
Stellenbosch Universiteit


Trusts en Donateurs

 

Platinumborge

 

Op woordmusiek!

Musiek is nie net note en woorde wat bymekaar gevoeg is nie. Dit dra ’n boodskap oor, vertel ’n storie. ’n Storie wat vir altyd behoue bly. Vir almal om nou te geniet, maar ook vir generasies daarna.

Daarom is Sanlam bevoorreg om vanjaar vir die 12de agtereenvolgende jaar die borg van die Musiekfees by die US Woordfees te wees.

Sanlam ondersteun ons musikante, hul werk en die kreatiewe proses om kuns te skep. Elke woord is ’n meesterstuk wat geslyp word, gevorm en hervorm word. En dan gedeel word.

Soos musiek, is die skep van waarde en welvaart vir ons kliënte ook ’n fynbeplande proses wat tyd verg en ’n spesifieke kennis vereis, iets waarin Sanlam as Welvaartmeesters uitblink. Vir 100 jaar al weet ons die skep van welvaart is ’n persoonlike reis, net soos die proses om woorde te laat leef. Vir 100 jaar al sien ons om na ons kliënte se persoonlike finansiële behoeftes. Daarom is dit gepas dat ons musikante ook ondersteun om hul persoonlike stories te vertel.

Met “elke woord is ’n meesterstuk” as tema van vanjaar se Musiekfees, glo ons dat elkeen wat luister die stories sal hoor en geniet. Sanlam se ondersteuning van die Musiekfees is ’n bewys van ons toewyding om saam met ons vennote ’n blywende nalatenskap vir die taal en haar musiek te skep.

Sanlam nooi elkeen om saam met ons met woorde en musiek fees te vier. Om saam met ons na die stories te luister.

Geniet dit!

Mariska Oosthuizen
Hoof: Sanlam-handelsmerk

 

 

Op aansteeklike passie!

kykNET en die US Woordfees het in 2019 iets spesiaals in gemeen – die 20ste fees val saam met kykNET se 20ste verjaardag. Kunstefeeste en die televisie-omgewing is in ’n land soos Suid-Afrika, interafhanklik van mekaar. As karperde skep en vervaardig kykNET en die Woordfees al twee dekades lank inhoud om gehore en kykers vermaak. Albei bied ’n weerspieëling van Afrikaanse Suid-Afrikaanse kultuur. Feeste is dié platvorm vir jong kunstenaars om hul tande te slyp vir ’n soms uitdagende, en meestal bevredigende loopbaan. Dit bied ook ’n geleentheid waar jong en opkomende talent raakgesien kan word. Die Woordfees staan werklik in diens van die kunstebedryf.

Die Woordfees is egter meer as net ’n kunstefees is. Die Woordfees-span staan ook in diens van die Stellenbosse en die studentegemeenskap. Met projekte soos Woorde open Wêrelde en die wêreldbekende Stellenbosse Universiteitskoor, is die Woordfees nie net ’n 10-dag fees in Maart nie. Omdat die voetspoor wyd is en die reikwydte diep, is die fees beter verskans teen teëspoed en terugslae. ’n Projek soos hierdie is andersyds net so sterk soos die personeel wat dit bestuur. Die passie van die Woordfees- en WOW-spanne is aansteeklik: Baie word met min reggekry.

Die kykNET-span is net so passievol oor ons bedryf en die gehalte en omvang van werk wat by en deur ons ontstaan. Ons wil meer as net ’n borg vir die Woordfees wees, ons ondersteun die kunste en kunstenaars deur middel van die feeste en die gemeenskappe waarin dit gebeur. Ons vereer graag die werk wat gedoen word, deur erkenning en aanmoediging – deur onder meer die jaarlikse kykNET Fiëstas, Ghoemas, Silwerskermfees, Boekpryse en Nasionale Toneelkompetisie.

Geluk aan die Woordfees met jul 20ste verjaarsdag. Ons klink ’n glasie op julle en die inspirasie wat julle vir baie is.

Karen Mering
Direkteur, M-Net Afrikaanse Kanale

 



Op stories!

 Dis waaroor die US Woordfees eintlik gaan. Stories van mense, gemeenskappe en plekke, oor lewens en gebeure, gedagtes en gesprekke – vertel in woord, beeld en klank; in druk en digitaal; en deur ervaringe.

Dit is ook by Media24 die geval: in ons bekende koerante en tydskrifte – van Die BurgerRapport en Die Son tot Huisgenoot, SARIE, Landbouweekblad, Kuier, Weg! en tuis; op ons digitale platforms soos Netwerk24 en Netnuus; in die wye verskeidenheid boeke wat ons uitgee; en op die leefstyltelevisiekanaal VIA.

Dit maak Media24 en die US Woordfees meer as net goeie, jarelange vriende. Ons is as ’t ware familie, wat boonop met dieselfde kalwers boer – inlig, opvoed en ’n stewige skeut vermaak.

Media24 is dus besonder trots daarop om die US Woordfees te kan ondersteun en wens die Universiteit Stellenbosch en die organiseerders hartlik geluk met die besonderse mylpaal van ’n 20ste fees. Julle het oor die jare werklik baie vermag om Afrikaans lewend te hou, en span met ’n vol program al die kunsvorme baie vaardig in om die gemeenskap in sy volle diversiteit te weerspieël. Doe so voort!

Geniet die fees en kom kuier gerus vir ons by die Netwerk24-Feeskafee.

Ishmet Davidson
Uitvoerende hoof: Media24

 

'n Vuurwarm fees vir almal

Die Woordfees doen vanjaar weer sy reputasie gestand as ‘n vuurwarm platform vir ‘n heerlike mengsel van woordkuns, teater, gesprekke, kuns en musiek.  En NATi is opgewonde en trots om weer deel te wees van die vieringe. Die Woordfees is inderdaad byna bedwelmend in die grootheid en kwaliteit van die program. 

Woordfees het die laaste paar jaar ‘n wonderlike reputasie opgebou as ‘n tuiste vir jong kunstenaars om hul tande te slyp en ook eksperimentele werk aan te bied.  Die fees doen baie moeite om wyd en ver te gaan soek na jong talent en om ook kruisbestuiwend te werk met ander feeste en projekte (soos die Zabalaza-fees, Teksmark en die randfeeste by verskeie groter feeste). 

Maar sekerlik die belangrikste aspek van die Woordfees en die programsamestelling, is dat die fees streef na ‘n omarmende ervaring vir die hele Stellenbosch-gemeenskap.  Dit is skaars nodig om te beklemtoon hoe verdeeld die groter gemeenskap van Stellenbosch is, met duidelike geografiese skeidslyne wat steeds sigbaar is.  En projekte wat poog om die dorp met al sy gemeenskappe te betrek, misluk dikwels omdat dit ‘n volgehoue, daaglikse werk is.  En Woordfees (met al sy fasette ) slaag hierin.  En dít is die grootste rede vir ons assosiasie met die Woordfees. Dis ‘n fees vir almal.  Kyk mooi deur die program, en daar SAL iets vir jou wees.  Iewers is iemand besig om jou storie te vertel.  Gaan soek dit net.

Cornelia Faasen
Uitvoerende hoof: Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief

 


Goue Borge

 


Silwer Borge


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief