Wat jy alles moet weet

Gereëlde vrae oor die Woordfees (FAQs)

Kaartjieverkope

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Daar is ’n Computicket-verkooppunt in die Woordfeeskantoor in die Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch. Kantoorure is Maandag tot Vrydag, 09:00 – 16:00; 08:00 – 18:00, tydens die fees. Die kantoor sluit op 14 Desember om 13:00 en open weer op 7 Januarie 2019. Jy kan ook kaartjies koop by enige Shoprite of Checkers. 

As kaartjies vir ’n vertoning nie uitverkoop is nie, is dit teen ’n hoër prys by die deur beskikbaar. Beplan dus vroegtydig en spaar. Geselekteerde aanbiedings bied afslag aan studente, skoliere, pensioenarisse, alumni en lede van Klub Loyale. Hou ons webwerf en sosiale media dop vir spesiale aanbiedings en uitverkopings. Aanbiedings teen spesiale afslagpryse sal daagliks tydens die fees beskikbaar wees by die kykNET Leefarea voor die Konservatorium in Victoriastraat.

Waar kry ek die jongste inligting oor die fees?

Daar is meer as 1 000 aanbiedings op die program.

Hou ons webwerf en sosiale media dop vir aanbevelings wanneer jy jou program beplan sodat jy die meeste uit die fees kan put.

Volg die fees op Facebook, Instagram of Twitter en teken in op ons Nuusbrief om ingelig te bly. Kry al die feesnuus, resensies en ander inligting in die feeskoerant, Ink, wat van Maandag tot Saterdag by alle venues te koop is.

’n Woordfees-app sal teen Februarie beskikbaar wees as eenstop-inligtingsbron.

Nuwighede by die 2019 Woordfees
Die Woordfees groei organies sedert sy ontstaan en vir optimale benutting van ruimtelyk die feeskern in 2019 anders as die afgelope paar jaar.

  • Victoriastraat word die hoofstraat van die fees.
  • Die ATKV Boektent en -Boeke-Oase, bedryf deur Exclusive Books, skuif na die grasperk voor Wilgenhof (hoek van Victoria- en Ryneveldstraat).
  • Die Plataan skuif na die parkeerarea voor Die Khaya, langs die Kruiskerk (ou Studentekerk) met RSG wat vandaar uitsaai.
  • Uitstallings wat deel is van die Visuele Kunste-program, is te sien in die Konservatorium, die Visuele Kunste-gebou, die JH Neethling-gebou – almal in Victoriastraat – asook op die eerste vloer van die Ou Konservatorium in Van Riebeeckstraat
  • Ons eerste Fringe-fees het die Visuele Kunste Vierkant as kern. Die Vierkant word ook die tuiste vir stand-up, jazz en verskeie aanbiedings op die Sanlam Musiekfees.
  • Kuier en woon gratis aanbiedings by in die splinternuwe kykNET Leefarea voor die Konservatorium. Daaglikse vermaak, gesprekke, musiek en die geleentheid om skouers te skuur met van ons gunsteling-TV-akteurs en -persoonlikhede maak hierdie die plek om te wees.
  • Die Netwerk24-feeskafee skuif na Die Plataan voor Die Khaya. Al Media24 se Afrikaanse tydskrifte word teen ’n spesiale afslag hier verkoop en jy kan jou dag begin met Die Burger en ’n heerlike koppie koffie vir net R10. Dié geselsplek is die kalmte in die feesstorm en ’n fees vir die oog – besonderse handgemaakte produkte van reg oor die land is hier beskikbaar.

Pendeldiens en gratis parkering

Parkeer gratis by Hoërskool Stellenbosch in Jannaschstraat en oorkant Rhenish Girls’ High School in Kochstraat. Pendel van hierdie parkeerplekke met ’n feesbussie teen R5 per rit na alle feesvenues. Stellenbosch is ’n ou dorp met nou strate en min parkering. Laat dus genoeg tyd toe om van die een vertoning tot by die volgende te kom.

Klub Loyale

Sluit aan by die Woordfees se Klub Loyale en kry:

  • Die feesgids verpak in ’n spesiale Woordfeessak
  • BBP-parkering
  • Gratis toegang tot die pendeldiens (wat andersins R5 per rit / R10 retoer / R20 ’n dag / R100 vir die week kos)
  • Eerste toegang tot Computicket-besprekings (van 16 tot 19 November)
  • Afslag en spesiale aanbiedings via e-pos

Lidmaatskap kan aanlyn gekoop word op Computicket vir net R200. Pakkette moet by die Woordfeeskantoor, Erfurthuis, Ryneveldstraat 37 afgehaal word.

Rolstoelbesprekings

Met die uitsondering van drie ruimtes, is al die Woordfees-venues rolstoelvriendelik. Slegs die Drostdy Teater, Bibsaal en Ou Konsevatorium se uitstalruimte vir visuele kuns is ontoeganklik. Dis wel noodsaaklik om vooraf reëlings te tref vir ondersteuning met toegang, en veral parkering. Vir navrae hieromtrent, skakel 087 238 2078.

Kontantloos met Standard Bank

Die US Woordfees is ’n kontantlose fees en kontant word nie by enige feesvenue of -aktiwiteit aanvaar nie. Betaal met enige debiet- of kredietkaart of maak gebruik van SnapScan.

Te ete en te drinke

Kosstalletjies en kontantkroeë is by die meerderheid venues beskikbaar. Ondersteun asseblief ons verskaffers. Piekniekmandjies en eie drank sal nie by buitelugkonserte toegelaat word nie.

Water

Hoewel die damme gelukkig voller is as ten tyde van die vorige Woordfees, wil ons steeds soveel moontlik doen om ons voetspoor so lig as moontlik te hou. Gebruik asseblief water UITERS spaarsamig.

Weersake

Maart is hoogsomer in Stellenbosch. Onthou ’n sonhoed en sonskerm en drink genoeg water. Al is die dae warm, word dit vinnig koud sodra die son ondergaan. Bring ’n trui, baadjie of kombers vir buitelugvertonings.

Teater-etiket

Skakel asseblief jou selfoon af voor klassieke musiek en toneelvertonings.

Neem ander feesgangers en kunstenaars in ag met jou gedrag en optrede tydens ’n vertoning. Geen laatkommers word toegelaat by opvoerings nie. Begroot ten minste 30 minute vir aankope van verversings en drankies voor vertonings.

Gebruik van die feesgids (gedrukte programboekie)

Die chronologiese dagprogramme met kerninligting (tyd, plek, datum) is heel voor in die feesgids. Programbeskrywings se bladsynommers word langs elke inskrywing op die dagprogram aangedui. Die programbeskrywings is volgens afdelings gelys, soos uiteengesit in die inhoudsopgawe, en word met kleur aangedui op die sykant van die bladsyrande. Elke afdeling begin met ’n opsomming van wat volg. Die alfabetiese programlys is heel agter in die feesgids, ook met bladsynommers van programbeskrywings.

Die programbeskrywings in die feesgids is in Afrikaans. Die gedrukte feesgids asook ’n verkorte, maar steeds volledige, gedrukte Engelse program is by geselekteerde Exclusive Books-takke beskikbaar. Die volledige program is in Afrikaans, sowel as Engels, aanlyn beskikbaar hier

Noodnommers

  • Ambulans: 021 883 3444
  • Brandweer: 021 808 8888
  • Kampusgesondheid: 021 808 3494
  • (Weeksdae 08:00-17:00)
  • Rolstoelbesprekings: 087 238 2078
  • Mediclinic: 021 821 2000
  • Nooddienste (tolvry): 0800 60 11 37
  • Polisie: 021 809 5000
  • Stellenbosch Hospitaal: 021 887 0310
  • US Beskermingsdienste: 021 808 4891
  • Woordfeeskantoor: 087 238 2078

Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief