Strate toe met klassieke musiek

Die Gusha Duo – Visser Liebenberg en Dylan Tabisher – wil met hulle uitvoerings op die Woordfees klassieke musiek uit die konsertsaal na mense in Stellenbosch se strate neem.Wayne Muller het meer gaan uitvind.

Op pad na die onderhoud met die klarinetspeler Visser Liebenberg kruis my pad met twee straatmusikante wat voor ’n restaurant in Ryneveld- straat optree. Hulle is in blink geel en rooi uitrustings geklee; die een begelei hulle albei op die kitaar, terwyl sy vennoot al singend met ’n hoed in die hand geld by restau- rantgaste insamel.

Op Stellenbosch is dít nie ’n vreemde gesig nie: straatkunste- naars, van musikante tot akrobate, maak daagliks die sypaadjie hulle verhoog. Maar selde sien jy klas- sieke musici op straat; hulle vind jy gewoonlik binne die mure van die Endlersaal.

Vir die meeste mense is die eerste gedagte by die aanhoor van die woorde “klassieke musiek” dat hulle netjies moet aantrek en tjoepstil en stug in ’n konsertsaal moet gaan sit. Dis natuurlik ’n beeld wat nie ver van die waar- heid is nie, maar dis ook ’n beeld wat die twee musici van die Gusha Duo, Visser (27) en die perkussie- speler Dylan Tabisher (30), op sy kop wil keer.

Op vanjaar se Woordfees neem hulle as die Gusha Duo die klari- net en vibrafoon na Stellenbosch se strate. Soos visse uit die water sal die twee kyk hoe hulle die grense van klassieke musiek – en hulle eie praktyk van musiekmaak – kan beproef.

Visser vertel die idee het begin as “Pop-up Piazzolla”, ’n konsert wat soos ’n flashmob mense op straat sou verras. En met dié dat hulle die klarinet en vibrafoon ge- maklik heen en weer oor die dorp kan rondbeweeg, was dit ’n heel realistiese en blink plan.

“Ek en Dylan wou al lank saamwerk,” sê Visser.

“Aanvanklik wou ons musiek maak in nuwe, ongewone ruimtes soos museums en galerye, maar van dié ruimtes op Stellenbosch was nie gedurende die Woordfees beskikbaar nie. Ons het toe besluit om soos straatmusikante in die buitelug musiek te maak.”

Sover het Visser en Dylan se loopbaan in klassieke musiek ’n tradisionele pad geloop – albei het op skool hulle instrumente be- gin speel en toe musiek aan die US kom studeer. Visser se klarinetspel is al in dramas en flieks gehoor, én hy het in die Kaapstadse én Kwa- Zulu-Natalse Filharmoniese Orkes gespeel. Verlede jaar het hy as deel van die eeufeesviering van Nelson Mandela se geboorte as solis saam met die MIAGI-orkes opgetree op ’n Europese toer.

As perkussiespeler het Dylan ook met die voorste orkeste in Suid-Afrika opgetree en hy is in heelwat nasionale musiekkom- petisies vir sy spel beloon. Hy was boonop ’n semifinalis in die Wêreld-marimbakompetisie in Duitsland én ’n internasionale marimbakompetisie in België. Onlangs was hy vir meesterklassie by Keiko Abe in Tokio, Japan.

Vir albei musici was dit ’n ont- dekking om die ongewone kombinasie van ’n klarinet en vibrafoon saam te hoor, veral met musiek van Astor Piazzolla, wat Visser as “freakishly moeilik” beskryf.

“Dele van die Piazzolla-stuk wat ons sal speel, moes ek laer transponeer sodat die klarinet en vibrafoon se klank goed kan blend. Dis ’n stuk waarin ’n mens deurgaans die energie moet behou, anders verloor jy jou gehoor,” vertel Visser.

Hy meen dít gaan juis hulle grootste uitdaging wees: om die energie in die stuk te behou omdat hulle in ’n ongewone omgewing
in die buitelug is. In ’n konsertsaal het jy ’n gevange gehoor, maar op straat kan mense kom en gaan soos hulle wil. As die duo hulle gehoor wil behou, sal hulle inder- daad ’n boeiende 25 minute van musiek moet aanbied, anders kies die luisteraars koers.

“Dit plaas baie druk op ons as uitvoerders. Al sou ons gemak- liker wees in ’n akoestiese ruimte, maak die eksperimentering dit baie opwindend. Ons sal buigsaam moet wees in dieé omgewing, want ons ding letterlik mee met die elemente en straatgeluide. Ons is albei ongemaklik daar en ons maak ons oop vir wat ook al kan gebeur,” sê Visser.

Stellenbosch is egter vir hom ’n ideale plek vir so ’n straat- musiekkonsert.

“Die dorp is mooi en hier is reeds straatmusikante wat elke dag optree; vir inwoners is dit dus nie ’n vreemde verskynsel nie.”

Al verskil is dat hulle nie soos straatmusikante met ’n hoedjie hulle fooi sal insamel nie.

Die duo pak nie net Piazzolla se musiek aan nie, maar ook jazz, onder meer musiek van Dylan se pa, Keith, en die jazzpianis Ramon Alexander. Dié jazzkomposisies sal hulle wel in hulle eie klassieke- musiekstyl interpreteer.

Hieroor sê Dylan (op ’n Whats- App-stemnota, want hy kon nie die onderhoud bywoon nie): “Ons wil ook Suid-Afrikaanse komponiste vier en hulle musiek na ’n groter gehoor neem. Ons as klassiek-op- geleide musici gaan die stukke op ’n nuwe en interessante manier speel en ook improvisasie van die musiek verken. Hierdie is dus ’n uitdrukking van my liefde vir plaaslike jazzmusiek, maar geïnter- preteer op die vibrafoon in ’n styl waarin ek opgelei is.”

Visser stem saam dat hulle nie hulle opleiding in klassieke musiek kan ontvlug nie. Vir hom staan hulle tegniek wat in klassieke musiek gevestig is, steeds sentraal tot hulle inter- pretasie van die jazzmusiek.

As feesgangers in die Woord- fees-programboek kyk, sal hulle oplet dat daar eenvoudig na “ver- skeie venues” verwys word en geen tye gegee word nie. Dít is deel van die konsep – feesgangers moet juis nie weet waar hulle gaan speel nie, sodat hulle gehoor toevallig en lukraak by hulle kan aansluit vir mooi musiek.

“Ons sal dalk op sosiale media kort voor ’n optrede sê waar ons is,” gee Visser wel toe.

Dat hulle gehoor verras sal wees, is seker. Enersyds sal liefheb- bers van klassieke musiek verbaas wees om die klarinet en vibrafoon buite die konsertsaal te hoor – en in daardie kombinasie – en ander- syds, vir dié wat jazz verkies, sal die “klassieke” interpretasies iets nuuts op die oor wees.

“Ek dink veral die vibrafoon sal mense se aandag trek, want dis ’n instrument wat nie juis bekend is nie. Maar ek dink die gehoor sal ook klanke uit die klarinet hoor wat hulle nog nie voorheen gehoor het nie. Ons probeer nie berge versit of enigiets opsy skuif nie; ek was eintlik maar ’n bietjie verveeld en wou iets nuuts probeer,” voeg Visser skalks by.

Maar op ’n ernstige noot: Hier- die optrede beteken vir hom veel meer. Dit maak die veld oop – iets wat hy in sy huidige doktorsgraad- studie deur die Africa Open-in- stituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie aan die US wil takel.

In hulle voorbereiding vir dié optrede het Visser en Dylan self ontdekkings oor hulle instrumente gemaak.

“Dis verbasend hoe goed die twee instrumente kan blend, maar dan ook clash; die klanke is sowel mooi as lelik; klanke wat uitsta- an. Ek dink mense sal wonder oor al hierdie ‘vreemde’ klanke, wat die optrede sal oopmaak vir vele opinies en idees oor klank,” sê Visser, en skerts dan dat mense ná dese dalk nie weer na die klarinet as ’n “liquorice stick” sal verwys nie.

Hierdie optrede op die Woord- fees is die Gusha Duo se eerste projek, maar Visser en Dylan voel seker dat dié ’n vertrekpunt vir kreatiewe klankontdekking is. Hulle sal beslis wil aanhou om nuwe klanke en style te ontdek en deur improvisasie te verken.

Dan is daar ook nog die onge- wone naam – Gusha Duo. Waar kom dit vandaan?

“Gusha is ’n woord wat som- mer net in my kop was, maar toe Google ek dit en vind uit dit beteken ‘really good weed’. En
dit was ook in dieselfde tyd dat dagga in Suid-Afrika gewettig is. So, toe besluit ons op Gusha Duo,” vertel Visser.

As ’n mens so luister na hierdie musici en hulle entoesiasme beleef, besef jy dat hulle beslis die pyp kan rook in die musiekbedryf.

2 Maart - 18:30 Konservatorium Foyer
3 Maart - 10:00 Konservatorium Foyer
4 Maart - 12:00 Stadsaal Foyer
5 Maart - 10:00 Konservatorium Foyer
6 Maart - 09:00 Adam Small - buite
7 Maart - 13:00 Plataankafee RSG Spektrum
8 Maart - 09:00 Adam Small - buite

(Foto: Nardus Engelbrecht)


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief