'My boeie is los en ek is bevry'

Brett Bailey se jongste stuk, Samson, open Vrydag 8 Maart om 20:30 by die Woordfees. Met medewerkers soos Vincent Mantsoe (choreografie), Shane Cooper (musiek), Tanya P. Jansen (medestelontwerper), Wolf Britz (beligting) en Kirsti Cummings (video-animasie) kan gehore ’n multimediaproduksie verwag waarin Brett sy reputasie as regisseur en kunstenaar op elke vlak gestand doen. Marina Griebenow van INK het by hul repetisies met Brett gaan gesels. (FOTO: Nardus Engelbrecht)

KLIK HIER OM KAARTJIES BY COMPUTICKET VIR SAMSON TE BESPREEK

Die kunstenaar en regisseur Brett Bailey het geen bekendstelling nodig nie.

Al suig ons plaaslik effens aandie agterspeen, word sy verhoog- produksies en kunsinstallasies onder die vaandel van Third World Bunfight, sy produksiemaatskappy, wêreldwyd opgevoer en baie hoog aangeslaan, al is dit dikwels ook omstrede weens die kwessies wat hy deur sy werk toelig.

“Die laaste werk wat ons in Suid-Afrika gedoen het, was Mac- beth, in 2014. Voor dit het ons Exhibit A in 2012 gedoen en voor dit Medea. Ons kry min kans om ons werk hier te doen. Eintlik kan ons nie; dis net te duur. Toe ons dus deur die Woordfees genader word, het ons gedink dit is ’n won- derlike manier om ons werk in Suid-Afrika aan te bied,” verduidelik Brett onder die Zip Zap- sirkustent waar hy en sy span in snikhete omstandighede repeteer aan sy jongste produksie, Samson.

Hy woon al die afgelope 14 jaar op die Spier-landgoed en was ge- volglik bewus van die Woordfees, maar ken nie die werklike aard daarvan nie. Hy het verkeerdelik geglo dit is ’n Afrikaanse digters- fees. Hy beland toe in 2017 by Piekniek by Mpande, die herinter- pretasie van Piekniek by Dingaan, en kom tot die besef die fees is soveel meer as wat hy gedink het.

“Dit is ’n fees met ’n baie groot program en het geklink na ’n opwindende plek om te wees,” bieg hy. “Die Woordfees het die produksie aangekoop, maar ons is die vervaardigers. Ons kry ’n bedrag geld by die Nasionale Lotery. Dit is wat die produksie werklik finansier. Die Woordfees, IFAS en die Nasionale Kunstefees dra ook geldelik by. Ons doen dit dus ook later in die jaar weer in Makhanda.”

Ondanks ons gesprek oor finansies is dit duidelik dat sy kop baie meer by die kreatiewe aspekte van die werk is as by die administrasie. Daarvoor het hy sy vennoot Barbara Mathers. Terwyl hy dink oor dinge wat nog aange- koop moet word vir die stel- of kostuumontwerp – hy doen self Samson se ontwerp – is Barbara besig met die logistieke reëlings.

“Ek word nie deur geld gedryf nie,” sê hy vurig. “Ek maak my werk soos ek glo ek my werk moet maak. Ek maak dit nie vir ’n spesi- fieke gehoor nie.”

Tog sê hy as die mense van die werk hou, maak dit hom geluk- kig. Hy verwag dat mense tussen 20 jaar en 40 jaar oud by die werk aanklank sal vind, veral oor die musiek. “Die musiek is baie byderwets. Dit is presies wat op die oomblik in elektroniese musiek gebeur. Dis baie soos Radiohead.”

Hy het in Julie 2017 begin om aan Samson te werk, en temas soos migrasie, xenofobie, ongebreidelde kapitalisme, grondeise in ons eie land, kolonialisme, postkolonia- lisme en die wêreldwye uitbuiting en vernietiging van minerale en lewensbronne is alles ingesluit.

“Dit is die temas waarmee ek werk,” verduidelik hy. “Ek is ’n ‘one-trick pony’ as dit kom by my temas. Ek het ook ’n dwin- gende fassinasie met die mitologie. Ek het Orfeus gedoen, én Medea. Ek het belang gestel in hoe die Grieke hulle heilige geskrifte ontgin het om hulle komedies en tragedies te skep. Ek het toe na ons heilige geskrifte gaan kyk.

Ek gaan toe na die Bybel toe, op soek na ’n mite. Ek het gekyk na die verhale van Salomo, Paulus, verskeie profete, Adam en Eva, Kain en Abel, en selfs Noag, maar ek het telkens teruggekom na die Simson-storie. Ek het probleme daarmee gehad,” vertel hy.

“Ek het selfs ’n paar keer amper tou opgegooi. In Julie verlede jaar het ek gedink ek gaan dit nie kan doen nie. Ek kon nie ’n manier kry om dit te laat kliek nie. Wat op die ou einde die deurbraak gebring het, was dat ek nie meer so streng met myself was nie.”

Brett begin vertel wat agter alles geskuil het, en skielik maak sy huiwering meer sin.

“Daar was mos groot omstre- denheid omtrent Exhibit B in Parys en Londen, en ek dink dit het regtig my selfvertroue geskaad. Die uitstallings in Londen is gekansel- leer, maar nie in Parys nie. Exhibit A en Exhibit B was eintlik dieselfde produksie. Dit het gehandel oor koloniale vergrype en die manier waarop swart liggame benader is en hoe hulle van hulle menslikheid ontneem is weens kolonialisme. Dit het ook gekyk na die invloed van daardie benadering in die hede, waar xenofobie gerig is op mense wat ‘anders’ is.

“Ons het na 26 stede gereis met daardie produksie. Daar was geen probleme daarmee nie – tot omtrent die 19de weergawe... en toe bars die bom, in Londen. Tóé word toe gevra: Wie is hierdiewit ou wat die storie vertel? Hy is ’n wit Suid-Afrikaner. Hy is dus uit hoofde van wie hy is, ’n rassis. Hy kaap swart stories deur hierdie verhaal aan te pak. Ek skat dít is wat my selfvertroue geskaad het.

“Wat mag ek sê? Waaroor mag ek praat? Dit het nie net gegaan oor kulturele toe-eiening nie, maar dit was oor die toe-eiening van stories. Die akteurs is selfs met die dood gedreig. Altesame 300 lede van die onlustepolisie was nodig om die teater in Parys tien dae lank oop te hou. Dit was vir my geweldig stresvol.

“Die eerste werk wat ek ná hierdie voorval gemaak het, was Sanctuary, wat gehandel het oor vlugtelinge, vlugtelinge se situasie en xenofobie in Europa. Dit was op die ou einde ’n gekompromitteerde produksie, want ek was vol selfver- twyfeling. Wat gaan die gehoor sê? Ek was so bang wat ek probeer sê, word deur ’n narratief van politiek korrekte identiteitspolitiek gekaap, dat my selfvertwyfeling voort- geduur het.

“Dit het my op die ou einde ses maande geneem om te kom waar ek moes wees, maar ek dink ek het uiteindelik ontslae geraak van die drek wat my gekniehalter het. As ek aan ’n storie werk, of dit nou Samson is of nie, dan wil ek hê die storie wat ek vertel, moet debat aanmoedig. Dit moenie gaan oor ‘wie is hierdie ou dat hy dié storie wil vertel nie’. Ek was aanvanklik bang dat dit sou gebeur, maar toe sê ek vir myself: Fok dit, ek gaan sê wat ek wil sê! Dit was ’n proses om die boeie los te maak en myself te bevry.”

Wat ook gehelp het in sy soeke na ’n mite waaroor hy ’n werk kan maak, was ’n meestersgraadkursus oor mites wat hy in Amsterdam aangebied het. “Dit het gegaan
oor die krag van mites en wat die gevolge van mites kan wees. Ek het die voorreg gehad om spesialiste in die veld van reg oor die wêreld daarheen te bring. Dit was soos ’n intensiewe drukkoker-situasie en dit het my gedagtes oopgemaak vir die kompleksiteite van mites en waarmee ek kon werk.

“Om die Simson-verhaal of -mite te anker aan die probleme van die hede is ’n geweldig stadige proses. Ek is deurgaans bewus van nuusgebeure reg oor die wêreld. Ek staan soggens om sesuur op en ek lees die Guardian, kyk Al Jazeera, of wat ook al. Ek het ’n baie duide- lik sin vir wat oral in die wêreld aangaan en wat die brandende kwessies is. Dan het ek ’n storie. Dis soos ‘hier is ’n stukkie velcro en daar is ’n stukkie velcro’ of ‘daar is twee magnete en hulle doen iets nou dikwels of hoe gaan ek hulle kry om dit te doen’. Dit neem alles tyd. Sommige dinge is redelik voor die hand liggend en ander sweef weer rond en dit neem my ’n ruk om hulle vas te maak.

“Daarna gaan alles oor beeld en musiek en storie. Ek hou nie van teater wat die slaaf van ideologie is of wat ’n spesifieke ideologie probeer aandryf nie. Dit is die plek van dokumentêre films en artikels, nié kuns nie. Dit gaan nie net daaroor dat iets gebeur en dit is die storie nie. Dit gaan ook oor hoe ek daaroor voel en hoe werk ek dit in by die storie. Dit vat tyd. Hoe kry ek ’n toneel of beeld wat ’n verwysing laat sin maak? Met Samson is ek reeds amper twee jaar lank besig met navorsing
en ondersoek.”

Ek vra hom uit oor ’n berig wat beweer hy hou nie baie van teater- teks nie, maar voel meer aange- trokke tot klanke en beelde. Hy beaam dit. “Teksgedrewe teater begeester my glad nie,” sê hy. “Ek is nie ’n goeie luisteraar nie; ek is ’n goeie kyker. Maar daar ís eintlik baie teks in Samson.”

Hy verduidelik ’n verteller is eintlik ’n baie goeie manier om fokus te skep in ’n verhaal met soveel fasette. “Dit beteken ek kan op die verhoog doen wat ek wil, want die verteller hou jou altyd in voeling met die storie.

Ek is gek oor paradoksale situasies. Ek hou daarvan dat iets dáár gebeur wat jou oopmaak na daardie kant toe, maar jy is steeds geanker in die storie oor die verteller wat jou daar hou. In Orfeo het ek die eerste keer ’n verteller gebruik. Jy kan jou instel op die storie, maar daar gebeur vele ander dinge om jou.

“Miskien sal sommige mense dit nie verstaan nie. Daar is so ’n magdom dinge wat gebeur. Ons gaan van ’n intense rap-nommer na ’n toneel wat baie ritualisties is. Dan is daar weer ’n aria uit die Samson et Delila-opera van Camille Saint-Saëns. Vincent Mantsoe het die choreografie gedoen.

Hy kom uit ’n familie van sangomas en dít is die energie waarmee hy werk. In een toneel konfronteer Simson die duiwels wat uitgedryf moet word en in ’n ander is hy op soek na sy krag om iets te doen. Samson gaan eint- lik oor ’n man en sy verhouding met mag en die bose. Die interes- sante is dat die stuk in Suid-Afrika geanker is. Selfs al glo jy nie in wat hy glo nie, weet jy daar is iemand hier wat daarin glo.”

Ons tyd vir praat is verstreke. Die akteurs en musikante is terug op die verhoog en hulle gaan Samson die eerste keer deurspeel. Die geraamte van die stuk en die inhoud van ons gesprek hou die belofte in van nog ’n onthutsende en prikkelende produksie uit die kragtige verbeelding en slapelose gewete van Brett Bailey.

Samson. Rhenish Girls’ High School. 8 Maart om 20:30, 9 Maart om 12:30 en 20:30, en 10 Maart om 11:00 en 15:00.

 


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief