Die kuns van kyk en leer

Kunsrondleiding deur Theo Kleynhans, kurator. Visuele kuns. Begin by US Konservatorium in foyer. Daagliks 10:00-12:00. Geen rondleiding op Sondag 10 Maart.

Julle ken daai sêding “jy moenie iemand vlak kyk nie”? Vrydagoggend (1 Maart) is dit weer eens reg bewys toe ’n lekker groepie in die voorportaal van die Konservatorium opdaag vir die eerste kunsrondleiding van die week deur die Woord- fees se kurator vir visuele kuns, Theo Kleynhans.

’n Mens kon sien ’n gesiene dame of twee was kortstondig effens verras toe die ontspanne lang man met sy camo shorts, plakkies, punterige grys bokbaard en verweerde swart T-hemp waarop ’n prent van ’n beertjie in ’n blomtuin met groen gare vasgeborduur
is, toe sommer ook die groot indoena en kenner is wat ons gaan rondwys.

Theo vertel onderhoudend, ingelig en passievol iets oor elke uitstalling, gee agtergrond oor die kunstenaars en hulle temas en prosesse.
En nie hoe nie.

Theo, self ’n hoogaangeskrewe skilder en keramiekkunstenaar, vertel hy’t ’n láng geskiedenis van kuratorskap – dit is al die 11de keer  dat hy by ’n groot fees kunstenaars onder sy ervare vlerk neem en tot by die openingsaand begelei.

“Maar dis regtig nou die laaste jaar dat ek dit doen; dis nou genoeg! Ek dink daar’s jonger kids wat ook die kans moet kry.”

In die Konservatorium se foyer is vanjaar se twee feeskunstenaars, Penny George en Selvin Novem- ber, en die immergroen skilder Christo Coetzee se werk te sien.

Die toer stap daarna na die Visuele Kunste-gebou net oorkant die pad, langs dit is die J.H. Neethling-gebou, en dan stap almal deur die Botaniese Tuin tot by die Ou Konservatorium, waar die lieflike uitstalruimte bo is.

Daar is dus vier venues op Theo se rondleiding, met altesame 20 werklik uiteenlopende en uitdagende uitstallings, en die 21ste is op die wynlandgoed Neethlingshof op die Adam Tas-pad uit. Die titel daarvan is Artifactum, en dit word gereël deur Corli de Kock.

“Dit is ook ’n lekker plek as die fees te veel word; dis stiller en ’n mens kan ontspan.”

Omdat die Woordfees se oorkoepelende tema vanjaar “Jonk” is, het hy besluit om jonger kunstenaars te betrek.

“Pleks daarvan om een kunstenaar te kies wat mid-career is, iemand wat ’n groot uitstalling kry, wou ek dit liewer verdeel tussen twee mense, sodat ek jonger kunstenaars kon vra. ’n Uitstalling van ’n feeskunstenaar bestaan gewoonlik uit 40-60 werke, en vir ’n jong kunstenaar is dit partykeer moeilik om daai body of work aanmekaar te kry. Dit is makliker met twee feeskunstenaars.”

Penny fokus in Tergeo op objekte wat met skoonmaak en die rol van die vrou vereenselwig word. In Young, Free and Single kyk Selvin na die idee van slawer- ny, vryheid en wat dit beteken om jonk te wees.

Theo herinner ons daaraan dat Jan-Barend Wolmarans, die bestu- urder van die Christo Coetzee-museum op Tulbagh, ook rondleidings aanbied, maar net by die Coetzee-uitstalling in die Konserv.

“Dis rêrig die moeite werd om na hom te kom luister, want hy is waarskynlik op die oomblik die mees ingeligte persoon in Suid-Afrika oor Coetzee se werk.”

By heelwat van die uitstallings was die kunstenaars self daar om met ons te gesels, wat tot wonder- like gesprekke gelei het. Volgens Theo sien hy feesgangers wat die eerste keer by so ’n rondleiding kom en heel groen is oor kuns, en ná ’n paar jaar word hulle trotse kopers.

– Susan Booyens


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief