'n Hele eeu se voorblaaie

Landbouweekblad is vanjaar ’n eeu oud. Heléne Booyens vertel hoe 100 voorblaaie – van muilspanne tot hommeltuie – uit die argief tot op die Woordfees gereis het.

Tussen die rakke van Landbouweekblad se beknopte argief, waar al 5 000 uitgawes van 1919 tot nou gebêre word, kan ’n mens net-net kruisbeen sit.

Dis ses maande voor dié tydskrif se eeufeesuitstalling op die Woordfees. Ons merk elke voorblad wat ’n mens twee keer laat kyk: ’n Bosveldpionier met ’n weglêsnor, ’n Stellenbosse boer met arms vol eiervrugte, Swakara- jasse uit Namibië (hoogmode in die jare sestig), oorstromings op Calvinia – altesame 800 tref- fende voorblaaie van reg oor Suider-Afrika.

Toe begin ons uitdun. Voor- blaaie met deeglike byskrifte kry voorkeur, want name en plekke is belangrik: ’n Kaalvoet Paddy Rossouw van Robertson dra ’n melkemmer op haar skouer (1955); André le Roux van Wellington trippel die saalperd- hings Brutus (1963); Daan Smith van De Rust kerf ’n stukkie pruimtwak vir sy pyp (1965).

Die ou byskrifte is meer liries as vandag s’n. Op Rustenburg ken almal die Dalmatiese hond met sy “swart kolle soos rosyntjies in ’n roompoeding”. Op Volksrust boer Jeanetta Uys met South Devons, die “stiefkind van ons beeste”. ’n “Suikertapyt rol oop” by Malelane danksy die Krokodil- rivierskema.

En Landbouweekblad is seker die enigste tydskrif wat sonder ’n sweempie ironie ’n Charolaisbul beskryf as ’n “Franse vleisblok wat spog met yslike agterkwarte.”

Uit die nate uit

Vyf maande voor die Woordfees, en die oefening skuif uit die argief na Landbouweekblad se hoofkan- toor in Kaapstad.
Ou tydskrifte, bokse vol argief- foto’s en koeverte met uitknipsels staan op, onder en rondom my lessenaar. Die projek bars uit sy nate. Toe die derde joernalis oor ’n bundel boorgatstories struikel, kry ons ’n tweede lessenaar, en kort daarna ’n derde een en ’n rak bo die spaaryskas.

Ons plak honderde bank- kaart-grootte voorblaaie teen die sentrale raadsaal se glasmuur op – almal op kantoor moet vir hulle gunstelinge stem. ’n Stoere boer- vrou van Clarens met haar beste breëborskalkoen (1958) vaar goed, asook ’n pa en seun wat in plasse water dans ná broodnodige reën by Marble Hall (2016).

Uiteindelik is net 200 voor- blaaie op die kortlys. Die must- haves skuif na ’n tweede muur, soos volbladtekeninge deur die kunstenaars T.O. Honiball en Flip (oftewel Horace Coaton van Wellington, self ’n vrugteboer), Katinka Heyns wat op ’n perd galop (1970), John Deere-trekkers wat die Melkweg verlig (2016) en "'n skroeiende son wat plant en dier verteer" in die 1965-droogte.

Toe begin die groot skommel en kies, want elke streek, bedryf en landboutradisie moet ’n plekkie kry: dadels van Kakamas, spog- varke van Aliwal-Noord, ploeg- perde op Elsenburg, koring van Loskop, pomelo’s uit Swaziland, boerbokke van die Bo-Gamtoos, mielies van Hopetown, heuning van Christiana, emoes van Potchefstroom en nog en nog.

Net een boer verskyn twee keer: Flip Visagie van die plaas Sandkraal. Eers staan hy op die manshoogte duine wat die Riet-Rhenosterrivier amper oornag op sy saailande uitgespoeg het. Vier jaar later werskaf hy tussen welige rolbosse, wat beter as ooit groei nadat hy vrugbare slik met ’n yslike skaarploeg (vier voet ses duim diep) na bo gebring het.

’n Kunstige oog

Die US Woordfees was gaaf genoeg om vir ons die Adam Small-foyer  as venue beskikbaar te stel. Elizabeth Miller-Vermeulen kom as kurator aan boord.

Ons groepeer van die voor- blaaie volgens tema – soos oestyd, water en werktuie. Ander word in ’n chronologiese rits aangebied: Eers die advertensie-voorblaaie oor melksalf, Springbok-tabak en SA Spoorweë, dan die groot swart- en-wit opstalfoto’s, en uiteindelik vandag se reuse-stropers, hommel- tuie en skaars wild.

Die finale voorblad-seleksie gaan na die retoesjeerspan, wat dekades se vlekke skoonmaak en kreukels uitstryk voor die voor- blaaie drukkers toe gaan. 

Meet en pas

’n Week voor die US Woordfees word sewe yslike uitstalborde uit Kaapstad afgelewer. Nes jy na een kyk, vlek en kraak hy en minstens een van sy wiele val af. Ek verneem van die kunsgemeenskap dat uit- stalborde hulle altyd so gedra.

Ons bereken presies waar om die gaatjies te boor deur ’n skaal- model te skep op InDesign, die bladuitlegprogram wat Landbou- weekblad gebruik. (Dit is nie waar- voor die sagteware bedoel is nie, maar ’n boer maak ’n plan.)

Dit is ’n interessante storie om te installeer in ’n venue waar ook teaterproduksies aangebied word. Sekere tye moet alles tjoepstil wees, want Katvoet repeteer. Soms is die beligtingspan op die pik- donker verhoog, en jy mag nie dié deur oopmaak nie, want dit laat sonlig in. Toe ek my dagboek in die werkswinkel vergeet, navigeer ek net op gehoor soontoe.

Ons verdwaal gereeld in die smal, donker gangetjies rondomdieverhoog. In 'n stadium maak iemand 'n verkeerde deur oop en soos die poorte van die hel borrel die rook daaruit – die rook masjien wat vir die aand se vertoning opwarm. Gelukkig is daar gewoon-lik iewers ’n dramastudent met ’n papier-mâché-swaan onder die arm wat vir jou die pad sal beduie.

Ten spyte van ’n paar verkeersknope, wondergom wat vir oulaas nie wil saam werk nie, ’n pap wiel en die feit dat al die pienk Steri-Stumpies op Stellenbosch uitverkoop is, is die voorblad- uitstalling betyds gereed.

Heléne Booyens is ’n oud-redaksielid van INK.


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief