ANTOINETTE KELLERMAN BLAAS NUWE ASEM IN SCHOEMAN SE HIERDIE LEWE

ANTOINETTE KELLERMAN BLAAS NUWE ASEM IN SCHOEMAN SE HIERDIE LEWE

Karel Schoeman se roman Hierdie lewe is met die CNA- en die Hertzogprys bekroon en dit word allerweë beskou as een van sy belangrikste werke. Ter viering van dié groot Bloemfonteinse skrywer, wat verlede jaar op 1 Mei oorlede is, het Saartjie Botha, eweneens ’n Vrystater, sy roman in ’n toneelstuk omskep. Dit is daarom meer as gepas dat dié bekroonde US Woordfees-produksie ook vanjaar by die Vrystaat Kunstefees te sien is.

Hierdie lewe is die nabetragting van ’n onvervulde lewe: Voor ’n ou vrou sterf in ’n eindelose nag word sy oorweldig deur herinneringe. Al wat sy kan doen, is om te wag terwyl sy die donkerte inbeur op soek na ’n laaste nuwe greep op haar verlede.

Daar is ’n kenmerkende tekstuur van stilte in Schoeman se werk en in die verhoogweergawe van Hierdie lewe, skryf Herman Lategan in ’n resensie, voel jy “die stilte tussen woorde teen jou nek afasem. Dat een man soveel troosteloosheid in hom kon dra en dit so mooi in Afrikaans kon verwoord, is eintlik ’n wonderwerk.”

Dié eenmanstuk met Antoinette Kellerman onder regie van die Fiësta-wenner Wolf Britz het reeds drie Kannas verower – Britz het die pryse vir Beste regie en Beste teaterontwerp ontvang en Kellerman die Kanna vir Beste aktrise. Braam du Toit het die klankbaan geskep.

Hierdie lewe word op 12, 13 en 14 Julie in die Andre Hugeunet-teater in Bloemfontein opgevoer. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

 

 


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief