Fiësta-benoemdes by die Woordfees 2019

Die kykNET Fiëstas vereer jaarliks werk wat by kunstefeeste dwarsoor die land te sien was.

Die ses vervaardigende feeste wat vir die Fiësta-toekennings 2019 in aanmerking kom, is die US Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees en Aardklop. Die beoordelaarspaneel moes vanjaar om die 230 debuutproduksies in ag neem. 

Verskeie produksies wat vandeesweek vir Fiëstas benoem is, sal by volgende jaar se Woordfees op die planke wees.

Dit sluit Toutjies en Ferreira in, wat met agt benoemings die voorloper in die wedloop is. Toutjies is ’n nuwe drama deur Saartjie Botha, wat vanjaar by Aardklop gedebuteer het. Dié stuk bestaan uit twee bedrywe – ’n komedie oor wat alles skouspelagtig agter die skerms by ’n fees kan skeefloop, gevolg deur ’n drama oor emigrasie en twee ouers wat alleen agterbly. Frank Opperman en Joanie Combrinck is as beste akteur en aktrise vir hul spel hierin benoem. Dit kom ook in aanmerking in die kategorieë vir beste regie, nuutgeskepte Afrikaanse teks, ensemble, teaterontwerp, asook die Beste aanbieding.

Die Stellenbosser Wolf Britz is nie net saam met Nicole Holm vir hul regie van Toutjies benoem nie – Britz het ook drie van die vier benoemings vir Beste teaterontwerp ontvang vir Toutjies, Hierdie lewe en GodgOdgoD. Vir laasgenoemde is hy saam met Ilana Cilliers genomineer. Ook dié plekspesifieke en visueel oorrompelende stuk, wat speels met al die groot menslike vrae omgaan, sal by die Woordfees te sien wees. (Holm en Cilliers is eweneens teatermakers van die Eikestad.)

Klippe wat val, deur Philip Rademeyer, spog met die tweedemeeste Fiësta-benoemings en kom ook weer volgende jaar Woordfees toe. Klippe met Wilhelm van der Walt, Dean-John Smith en Gideon Lombard is vir vyf Fiëstas genomineer, onder meer vir beste regie (Rademeyer) en akteur (Van der Walt).

Huishou, nog ’n drama uit Rademeyer se pen, het vier benoemings gekry. Beide Nadia Valvekens en Cintaine Schutte is as Beste aktrise vir hul spel in hierdie tweekarakter-toneelstuk genomineer.

Ander Fiësta-benoemde aanbiedings wat by die Woordfees 2019 te sien sal wees, is Babbelagtig, Bal-oog en Brommel, Raak, Rokkie, Rooilug en Lepeltjie vol snare met Frazer Barry en Oom Hannes “Slide Spoon” Coetzee, wat in die kategorie “Beste musiekgedrewe produksie: Teater” benoem is.

Die kykNET Fiësta-toekenningsgeleentheid word op 14 Februarie in Kaapstad aangebied en word regstreeks op kykNET uitgesaai. Daar sal geen kaartjies aan die publiek beskikbaar wees nie. Die publiek sal wel vanaf 3 Desember die geleentheid kry om vir hul gunsteling-fees te stem in die Fees van die jaar-kategorie. Aardklop in Potchefstroom was vanjaar die wenner.

Die US Woordfees vind van 1 tot 10 Maart 2019 in Stellenbosch plaas. Feesgidse is gratis by die Woordfeeskantoor beskikbaar – Erfurthuis, Ryneveldstraat 37. Die volledige program kan ook hier as PDF afgelaai word: KLIK HIER

 

 


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief