Gerrie Nel by US Woordfees

Adv. Gerrie Nel, wat deesdae aan die stuur staan van AfriForum se private vervolgingseenheid, is een van die gaste by twee wydlopende gesprekke oor die binnewerking van staatskaping by die komende US Woordfees.

Sedert Nel in Januarie 2017 die Nasionale Vervolgingsgesag verlaat het om ’n nuwe loopbaan te begin as privaat aanklaer was hy ’n besige man. ’n Jong man wat sy lewe verloor het nadat sy Ford Kuga aan die brand geslaan het, ‘n gemeenskap in Limpopo wie se grond deur ‘n platinummyn oorgeneem is, ‘n media-aansoek om vrye toegang tot die verhoor wat verband hou met die moord op Rwanda se intelligensiehoof in Randburg – dit alles is sake op sy lessenaar.

Hy gesels hieroor en hoe opgetree kan word teen die grootskaalse korrupsie wat kenmerkend is van Suid-Afrika se era van staatskaping tydens ‘n middagete-gesprek van die US Woordfees op die landgoed Guardian Peak.

Saam met hom op die paneel is Vytjie Mentor, die ANC-parlementslid en fluitjieblaser. Veteraanjoernalis Ruda Landman lei die gesprek.

Mentor is die afgelope week na afloop van haar getuienis voor die Zondo-kommissie deur regter Raymond Zondo bedank dat sy bereid was om voor die kommissie te kom getuig. Zondo het gesê hy hoop ander sal haar voorbeeld volg. Mentor is ’n kabinetspos deur Zuma aangebied in ruil vir Gupta-gunste en gawes en was dit kwyt toe sy nie wou saamspeel nie.

Op 2 Maart gesels Mentor en genl.-maj. Johan Booysen,voormalige Valke-hoof van KwaZulu-Natal, oor hoe dit voel om as "verraaier" gebrandmerk te word. Joernalis Pearlie Joubert, wat in 2015 by die Sunday Timesbedank het oor etiese verskille met die bestuur en daarna ook swartgesmeer is, lei die gesprek. 

Booysen was destyds sy pos kwyt oor bewerings dat hy lid is van die sogenaamde Cato Manor-moordbende. Vier jaar lank is jag gemaak op hom. Hy was ses keer in die hof, is in sy kantoor voor al sy kollegas gearresteer, het doodsdreigemente ontvang, verskeie skorsings en vermoed sy selfoon is afgeluister. Dit, nadat hy ’n vlekkelose loopbaan van 38 jaar agter hom gehad het.

Hy skryf in sy boek oor hoe die land se vervolgingsgesag gekaap is, hoe ondersoekers in die ondersoekbank beland het, hoe misdaadintelligensie nie meer besig was om misdaad te jag nie, maar misdaad te pleeg, en hoe die grootste dryfveer vrees was.

Drie jaar later, en die Mokgoro-kommisie van ondersoek bekyk die rol van onder andere adv. Nomgcobo Jiba in die aantygings teen Booysen nadat aanbeveel is dat Jiba van korrupsie en meineed aangekla word. Booysen het in Januarie voor die kommissie getuig hoe ‘n neef van Zuma glo opdrag gegee het dat Booysen “se vlerke geknip word”.

KAARTJIES BY COMPUTICKET: 


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief