Twee Grobbelaars wen groot  in die 2019 Woordfeeskortverhaalbundel-kompetisie

Twee Grobbelaars wen groot in die 2019 Woordfeeskortverhaalbundel-kompetisie

Die Woordfees vier vanjaar sy twintigste verjaardag en die feestema is Jonk. Die bruising en drif van dié tema word weerspieël in die rekordgetal van 323 inskrywings wat vir die 2019 Woordfeeskortverhaalbundel, die vierde in die reeks, ontvang is. Die Jonk-bundel is op 1 Maart by die US Woordfees in Stellenbosch bekend gestel en by dié gesellige geleentheid is die wenners van die twee groot pryse van die kompetisie aangekondig.

Du Toitskloof Wyne borg vir ’n derde maal die prysgeld van R30 000, wat vanjaar gaan aan Hendie Grobbelaar vir die wenverhaal “Die ruimteskip”. Elkeen van die 25 skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem is, ontvang R5 000 van Du Toitskloof. Soos die afgelope twee jaar sal kykNET een van die verhale in ’n kortfilm omskep wat tydens die Silwerskermfees in Augustus vertoon sal word. Vanjaar se wenner van die kykNET-filmprys is Enrique Grobbelaar vir sy kortverhaal “Binnelandse sake”.

Suzette Kotzé-Myburgh, die sameroeper van die beoordelaarspaneel, is baie opgewonde oor die nuwe bundel: “Jonk bestaan uit 25 werklik besonderse verhale wat ’n hele kaleidoskoop van ervarings uit ons samelewing verteenwoordig.” Valda Jansen, Madri Victor en Kotzé-Myburgh was die drie samestellers van Jonk.

Die volgende skrywers behaal met vanjaar se bundel ’n tweekuns: Emma Bekker, Anri Botha, MS Burger, Hendie Grobbelaar, Marlize Hobbs en Clari Niemand – verlede jaar se wenner van die kortverhaal- én filmprys met haar kortverhaal “Non(Kompos)Mentis”. Vir Deborah Steinmair is dit ’n driekuns, terwyl Gerda Taljaard in elkeen van die vier bundels opgeneem is.

Jonk is gedurende die fees van 2 tot 10 Maart in die ATKV-Boeke-Oase op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat te koop. Ná die Woordfees kan die bundel aanlyn op SUN Media se webwerf bestel word: http://www.africansunmedia.co.za/

 


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief