TWEE BEKROONDE DRAMAS VAN PHILIP RADEMEYER BY VRYSTAAT KUNSTEFEFEES

TWEE BEKROONDE DRAMAS VAN PHILIP RADEMEYER VANJAAR BY DIE VRYSTAAT KUNSTEFEFEES

Met Wild en Klippe wat val het die opwindende jong dramaturg-regisseur Philip Rademeyer teaterliefhebbers gaande. Beide hierdie US Woordfeesproduksies sal vanjaar by die Vrystaat Kunstefees (6-15 Julie) op die planke wees.

Wild het by die Woordfees 2017 gedebuteer en het intussen verskeie teaterpryse verower, onder meer WoordTROfees vir die Beste teaterstuk en Beste speler (Tinarie van Wyk Loots). In Wild word ‘n jong meisie, Vlooi (Van Wyk Loots) – ontdek op ’n plattelandse dorp. Haar gedrag toon meer ooreenkomste met diere as mense, en sy loop handeviervoet. Dié drama, waarin ook Albert Pretorius en Joanie Combrinck te sien is, ondersoek uiteindelik wat die mens méns maak.

“Die stuk vra vrae oor wat menswees nou eintlik is,” sê Rademeyer. “Is dit biologie, is dit taal, is dit hoe ons omgaan met ander mense? Watter eienskappe is eie aan die mens? En is menswees en 'n menslike bewussyn beter as nie menswees nie, om soos 'n dier in 'n aanhoudende, onbewuste teenwoordige tyd te lewe? Die stuk poog dan om menswees, die mens, vreemd te maak deur dit wat ons as vansselfsprekend aanvaar, te betwyfel.”

Rademeyer se jongste drama, Klippe wat val, het vanjaar die WoordTROfee vir die Beste Woordfeesdebuut ontvang. Dié tweemanstuk gaan oor twee boesemvriende wat saam op ’n Karoo-plaas grootgeword het. Hulle ontmoet mekaar weer wanneer Kannetjie (Wilhelm van der Walt) nie die plaas kan oorneem nie en Abrie (Dean-John Smith), die seun van plaaswerkers, ná ’n afwesigheid van 15 jaar terugkeer om sy ou vriend te help.

Rademeyer sê dié stuk bied groot uitdagings aan die twee akteurs: “Elkeen speel drie verskillende ‘weergawes’ van hul karakters – as grootmens, as negejarige en as 15-jarige. Dan speel Dean ook nog albei karakters se ma.”

Die akteur Gideon Lombard het intieme kitaarmusiek vir dié stuk geskryf wat hy op die verhoog gedurende die opvoering speel.

Wild word op 9, 10, 11 en 12 Julie in die Wynand Mouton-teater in Bloemfontein opgevoer. Klippe wat val is op 9, 10 en 11 Julie in die kykNET Scaena-teater in Bloemfontein te sien. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

 


Kontakinligting
Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch
+27 (0) 21 886 5036
+27 (0) 87 238 2078
adminfees@sun.ac.za
Meld aan vir ons nuusbrief