VOORSKOU

Fees van klassieke musiek wag dié naweek

Naudé Van Der Merwe

Die Toyota US Woordfees is al vyf dae volstoom aan die gang, maar oor die volgende twee dae tel die fees verder spoed op. Die naweek is propvol uitvoerings en produksies met plaaslike en internasionale kunstenaars.

Vrydagaand om 20:00 is die Universiteit van München se Charles Mingus-ensemble aan die beurt met The Black Saint and the Sinner Lady in die Endlersaal. Dit is ’n komposisie van die Amerikaanse baskitaarspeler, komponis en digter Charles Mingus en vereis streng dissipline én groot vryheid van die musici. Definitief iets wat nie misgeloop moet word nie.

Saterdag is Elna van der Merwe en Zorada Temmingh terug met ’n uitvoering op klavier, Beste Blondes, saam met Schalk Joubert (baskitaar) en Neville Arnolds (tromme). Die Blondes is feesgunstelinge, en hulle program met werke van onder andere Chopin, Lizst en selfs die Beatles beloof om groot pret te wees.

Terselfdertyd, in Recuerdos de España, vermaak die Stellenbosse Kitaarkwartet gehore saam met die flamenco-danser Che Adams. Hierin word hulde gebring aan die ryke geskiedenis en invloed van Spaanse musiek en beloof om visueel en boeiend te wees.

Die sopraan Janel Speelman en US-klavierdosent en pianis Pieter Grobler deel ’n program van vrouekomponiste: Boulanger, Bonds en Larsen. Die feit dat die werke van vrouekomponiste steeds so min uitgevoer word is ’n blinde kol in die klassiekemusiek-establishment, en die glasplafon word met dié konsert ’n bietjie gekraak. Moenie dit misloop nie.

Die naweek lewer die Libertaskoor twee konserte van dieselfde program, Libertaskoor sing Oratoria. Daar sal orkes- en orrelbegeleiding wees, met bekende werke uit onder meer Elias van Mendelssohn en Handel se Messias op die program. 

Die sopraan Zanne Stapelberg de Lange is ook weer terug op die verhoog, met Une fête Francaise: Franse opera, kunslied en kabaret. Sy world begelei deur die pianis Albie van Schalkwyk. Dit is ’n program oor liefde, verlies, hartstog, vreugde en pure drama.

Dis min dat Bach se concerto vir vier klawerbordinstrumente uitgevoer word, maar Woordfees-gehore kry die geleentheid om Luis Magalhães, Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins en Esthea Kruger, saam met ’n orkes van 20 agter die klavier te sien inskuif.

As die video’s op sosiale media enige aanduiding is, behoort hierdie groot sports te wees.

In Twee Liefdes, met Franco Prinsloo (komponis en voorleser), Eugene Joubert (klavier) en Chris Vale (bariton), is I.D. du Plessis se “Vreemde liefde” en Lord Alfred Douglas se “Two Loves” die vertrekpunt vir ’n musikale verkenningstog.

In Best of Both neem die bekroonde pianiste-egpaar-duo Francois Botha en Yohan Chun die gehoor op ’n reis van Mozart en Khachaturian tot by Chick Corea.

In Lockdown Fallout, ’n musikale whodunit, wys van die voorste sangers in die Kaap hulle staal, en die fees se klassiekemusiekprogram sluit af met Opera in die Boland.

Klik hier om meer te lees en kaartjies te koop.

Facebook
Twitter
LinkedIn