Kyk net al die Fiësta-wenners by die Woordfees

Die 10de kykNET Fiësta-toekennings is Sondagaand, 9 Februarie, in die Kunstekaap gevier. Verskeie van die kunstenaars en produksies wat trofees huis toe geneem het, sal vanjaar in Stellenbosch vir die Toyota US Woordfees wees.

Die kykNET Fiëstas vereer jaarliks werk wat by kunstefeeste dwarsoor die land te sien was. Die ses vervaardigende feeste wat vir die Fiësta-toekennings 2020 in aanmerking gekom het, is die Toyota US Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaat Kunstefees en Aardklop. Die beoordelaarspaneel moes vanjaar om die 235 debuutproduksies oorweeg vir die pryse. 

Hier is die kunstenaars en aanbiedings wat oor bietjie minder as ’n maand in Stellenbosch sal wees:

Sandra Prinsloo het die Fiësta vir Beste spel in ’n solo-vertoning gewen vir Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell. Daar is agt vertonings van dié gewilde stuk by die fees, maar die kaartjies is reeds byna uitverkoop.

Jakkals & Wolf Onbeperk het twee toekennings gewen: Beste vroulike byspeler (Devonecia Swartz) en Beste duo of ensemble. Benewens Jakkals & Wolf sal Swartz ook haar eerste vollengte-album saam met Wilken Calitz by die fees bekend stel: Devonecia + Wilken. Frazer Barry, wat vir die musikale regie van Jakkals & Wolf verantwoordelik is, is ook met die Fiësta-genomineerde Woorde op akkoorde by die fees.

Cantona James was die wenner in die Beste opkomende kunstenaar-kategorie vir sy spel in Herschelle Benjamin se In Slavenhuis 39, wat vanjaar vir ’n tweede speelvak by die fees is.

Eet Kreef! (met o.a. Laudo Liebenberg en Schalk van der Merwe) is aangewys as Beste musiekgedrewe produksie: Podium, en dié aanbieding is reeds een van die topverkopers op die feesprogram. 

Brendon Daniels het die Fiësta vir Beste akteur vir sy spel in Queenie-hulle ontvang, en Antoinette Kellermann is as Beste aktrise vereer vir haar vertolking in Koningin Lear. Daniels is by die fees met Dis 20h15 – ’n komedie waarin hy teenoor Waldemar Schultz speel. Kellermann sal te sien wees in André Gerber se drama Die sonkamer met, onder andere, Lida Botha en Neels Coetzee.

Wolf Britz, wat die Fiësta vir Beste teaterontwerp met Statements After an Arrest Under the Immorality Actgewen het, is vanjaar by die Toyota US Woordfees die kurator van Plant, wat die die raakpunte tussen kuns en landbou in ’n kombinasie van vertoon- en installasiekuns verken. Hy behartig ook die stel- en beligtingsontwerp vir die drama Valsrivier.

José Dias is vir Hulde aan Nellie du Toit bekroon met die Fiësta vir Beste prestasie in klassieke musiek. Vanjaar bied hy by die fees Die Mamre Traviata aan met die soliste Arline Jaftha (sopraan), Wayne Mkhize (tenoor), Conroy Scott (bariton), Minette du Toit-Pearce (mezzosopraan) en Lauren Dasappa (sopraan).

Van die vier legendes wat Fiëstas vir hul Lewensbydrae tot teater ontvang het –  Elize Cawood, Virginia Davids, Janice Honeyman en Pieter-Dirk Uys – kom twee fees toe. Janice Honeyman behartig die regie van Valsrivier, ’n verwerking van Dominique Botha se veelbekroonde roman vir die verhoog deur Saartjie Botha met Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en ander in die rolverdeling. Pieter-Dirk Uys is met vier eenmanvertonings by die fees: Die drie PoggenpoelsEvita: Fake of popNever Too Naked en Ouma Ossewania praat vuil.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on google
Google+
Lees ander berigte