Meesterstuk van vertroosting, hoop en vreugde

Johannes Brahms se belangrikste geestelike werk vir koor, orkes en soliste, Ein deutsches Requiem, word vanjaar by die Toyota US Woordfees opgevoer. Johan de Villiers dirigeer dié spesiale vertoning, en die Libertas-koor met Petri Salonen as konsertmeester, Zorada Temmingh op die orrel en soliste Lynelle Kenned en Conroy Scott om dié meesterstuk met ’n roerende boodskap van vertroosting, hoop en vreugde lewe te gee.

Johan vertel meer oor dié grootse werk.

Waarom Brahms se Requiem opvoer? Wat maak jou opgewonde daaroor?

My persoonlike “groot vyf” komponiste van alle tye is Bach, Mozart, Beethoven, Schubert en Brahms. Om enige van hulle geniale musiek uit te voer vervul my sonder uitsondering met die diepste bewondering en bevrediging. Onder oratoriums is Brahms se Ein deutsches Requiem met sy eiesoortige teks dié een waarin diepsinnige menslikheid en musikale toeganklikheid meesterlik gekombineer word. Ek beskou dit as ’n enorme voorreg om as dirigent vir twee uitvoerings daarvan te mag optree met medekunstenaars van formaat in ’n konsertsaal soos die kykNET Endler en by ’n fees soos die Toyota US Woordfees.

Brahms se Ein deutsches Requiem is een van die diepste persoonlike en godsdienstige koorwerke, maar dit vlog nie die tradisionele Latynse requiem-tekste nie. Hoekom dink jy het Brahms Duitse tekste gebruik?

Komponiste soos, onder andere, Mozart, Verdi, Berlioz en Fauré het vir hulle requiems tipies gebruik gemaak van die standaard Latynse dodemisteks, waarin klem gelê word op die reis van die pas-afgestorwene se siel. Johannes Brahms (1833-1897) het kort ná sy ma se dood in 1865 begin komponeer aan sy eie Ein deutsches Requiem en het besluit om eerder selfgekose Duitse tekste uit die Bybel te gebruik, waarin vertroosting van die agtergeblewenes ’n sentrale rol speel – vanaf die aanvanklike saligspreking “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” tot die finale “Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle”. Tussendeur is daar verskeie verwysings na die tydelikheid van die mens se aardse bestaan. Brahms is diep getref deur sy ma se dood en ek glo dat die skepping van hierdie meesterwerk hom gehelp het om ’n berustende perspektief op sy persoonlike verlies te ontwikkel.

Beïnvloed die historiese konteks van die Requiem jou denke en uitvoering van dié werk?

Ja, ek is van mening dat die uitvoerder van enige musiek baat daarby sal vind om soveel as moontlik agtergrond te verkry oor die komponis se omstandighede tydens die skepping daarvan. Uiteraard word musikale instinkte gevoed deur sulke kennis, met positiewe gevolge ten opsigte van die egtheid en integriteit van vertolkings. Die wete dat die afsterwe van Brahms se ma gelei het tot die komposisie van sy Requiemkom gereeld by my op tydens repetisies en uitvoerings daarvan.

Hoe het jy op hierdie ensemble besluit? 

Ek is sedert die stigting van die koor in 1989 nou al byna 31 jaar lank die dirigent van die Libertaskoor. Deur die jare het ek nou reeds meer as 50 uitvoerings van oratoriums met professionele orkeste en soliste gedirigeer het, insluitende Handel se Messiah, Mendelssohn se Elijah, Bach se Mis in B Mineur, en die requiems van Mozart, Brahms en Verdi. My keuse van die Libertaskoor was dus taamlik voor die hand liggend.

In verskeie van die oratoriums hierbo was Petri Salonen, ’n hoogs gerespekteerde plaaslike konsertmeester, verantwoordelik vir die samestelling van ’n professionele orkes bestaande uit ervare musici in die Kaapstad-omgewing. Hy was ook die konsertmeester vir ons uitvoerings van onderskeidelik Mendelssohn se Elijah en Verdi se Requiem by die 2018 en 2019 Toyota US Woordfeeste. Ek het dus nie vir ’n oomblik gehuiwer om hom weer te nader nie.

Vandat ek haar die eerste maal in die Kunstekaap hoor sing het, was ek ’n bewonderaar van Lynelle Kenned se stem en verhoogpersoonlikheid, asook haar musikale veelsydigheid. Ek voel bevoorreg om haar as ons sopraansolis te hê. Conroy Scott was ook die baritonsolis in beide ons 2018- en 2019-oratoriums. Sy vertolking van die titelrol in die Mendelssohn Elijah in 2018 het die gehoor op hulle voete gehad en het aan hom ’n welverdiende Woordtrofee besorg in die afdeling vir die Beste prestasie in klassieke musiek: Vokaal.

In al die uitvoerings van oratoriums wat ek gedirigeer het, was Zorada Temmingh my keuse as orrelis. Haar aansien is legendaries en haar flair voeg ongelooflik waarde toe tot enige musiekproduksie.

Ons stemme het almal individuele klanke. Hoe kombineer jy die stemme vir die gewensde resultate?

Brahms is ’n komponis uit die laat-romantiese era , gekenmerk deur ’n sterk emosionele en dramatiese inslag. Ek moedig die koorlede dus aan om die musiek en teks sodanig te interpreteer, aangehelp deur  ’n beduidende dinamiese omvang, asook die geweldig betekenisgewende Duitse vokale en konsonante, waarin ons deurentyd onderrig word deur ’n koorlid afkomstig uit Berlyn.

Wat is die uitdagings verbonde daaraan om so ’n skouspel op die verhoog te bring?

In teenstelling met ander oratoriums waar daar vier soliste is wat in sekere dele alleen met die orkes optree,  het die Brahms Requiem slegs twee soliste in wie se gedeeltes die koor altyd  ook betrokke is. Die omvang van die koor se bydrae is gevolglik aansienlik. Daarby is die tegniese moeilikheidsgraad van die koorpartye dikwels hoog en verg dit deeglike inoefening om onder die knie te kry. Hiervoor het die Libertaskoor sedert verlede jaar hard gewerk en is ons feitlik gereed vir ons volle repetisies met die orkes en soliste, waarin ons die bevrediging gaan smaak van Brahms se geniale vermenging van die stem met instrumente se klankkleure. 

Geniet jy dit om die stuk te dirigeer? Het jy ’n persoonlike band met dié stuk?

Ja, ek geniet dit baie, maar altyd met ’n sterk verantwoordelikheidsgevoel teenoor die komponis en sy musikale skepping.

Die eerste maal dat ek die Brahms Requiem dirigeer  het was in Julie 1993 by die Grahamstad Kunstefees. Ná afloop van die konsert het ek die nuus ontvang dat my pa, Dirkie de Villiers, oorlede is. Volgens die presiese tyd van sy dood kon ek uitwerk dat ons toe besig was met die magtige tweede deel daaruit: “Denn alles Fleisch es ist wie Gras.” My pa het my van kindsbeen af in musiek ingelei en was vir my ’n groot inspirasie. My persoonlike verbintenis met die Brahms Requiem spreek dus vanself, maar daardie spesifieke deel sal altyd vir my uitstaan.

Jy het studeer om kore te dirigeer by Robert Fountain, een van die beste koordirigente en onderwysers. Wat onthou jy van jou ervaring onder sy leiding?

Robert Fountain was die ideale koordirigent vanweë  sy warm en opregte menslikheid, sy onwrikbare aandrang op presisie in koorsang, sy wonderlike sin vir frasering in musiek, sy magnetiese verhoogspersoonlikheid en sy onvergelykbare vermoë om sy koorlede tot altyd nóg groter hoogtes tydens konserte te lei.

Jy is ‘n wiskundige en tog is jy net so sterk aangelê vir musiek. Waarom, dink jy, is daar hierdie sterk verband tussen die twee dissiplines?

My teorie is dat daardie gedeeltes van die brein wat aktief is tydens die beoefening van onderskeidelik wiskunde en musiek beduidend oorvleuel.

Is hierdie optrede net vir klassiekemusiekkenners of sal mense wie se kennis van klassieke musiek beperk is ook aanklank vind?

Selfs by die eerste aanhoor daarvan is die Brahms Requiem toeganklik vir enige konsertganger, ongeag van musiekagtergrond. Die werk is ryk aan pragtige melodieë. Vertalings van die Duitse teks sal uitgedeel word sodat die gehoorlede hulle ten volle kan inleef.

Kry jou kaartjies hier.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on google
Google+
Lees ander berigte