GOEIE NUUS VIR MATRIEKS EN TEATERVLOOIE

Twee dramas, wat vir Afrikaans Huistaal in graad 12 voorgeskryf word, is vanjaar spesiaal vir Woordfees TV verfilm: Adam Small se Krismis van Map Jacobs en Reza de Wet se Mis.

Die feeskantoor word sedertdien oorval met navrae van skole en leerders wat graag na hierdie produksies wil kyk in voorbereiding op die naderende matriekeksamenvraestel op 25 November 2021.

Die Toyota US Woordfees het daarom besluit om hierdie twee dramas, wat met toptalent op die TV-planke gebring is, aanlyn beskikbaar te maak tot 27 November teen ’n gesubsidieerde prys van R65 per kaartjie wat by Quicket te koop is. Met elke kaartjie kan jy die stuk vier keer tot en met 27 November kyk.

Let wel: Sodra jy op die skakel klik wat jy saam met jou kaartjie ontvang het, begin jy die eerste keer kyk. Jy sal dan nie ’n uur of twee later verder kan kyk sonder om een van jou vier kanse te verbeur nie.   

Dié produksies is egter beslis nie net vir matriekleerlinge ’n geskenk nie. Ook vir teaterfynproewers is hierdie merkwaardige produksies van twee klassieke werke ’n vroeë Krismisboks.

“Wat ’n mens verloor het van die intimiteit van ’n saal, verhoog en akteurs enkele meters van jou af, word ruim teruggegee deur uitstekende kinematografie. Elke nuanse, slim beligting en skerp redigering – die produksie op die klein skerm staan nog groot danksy fyn filmwerk en puik akteurs,” skryf Jo-Ann Floris in haar resensie van Krismis van Map Jacobs op LitNet. Klik hier om haar resensie te lees. Meer inligting en kaartjies vir die stuk is hier beskikbaar.

Willem Bester is in sy resensie van Mis vol lof vir Wolf Britz se teaterregie en Jaco Bouwer se filmregie: “Te oordeel aan wat Britz en Bouwer vermag het, is Afrikaanse teater steeds kerngesond en staan nie vir die beste in die wêreld terug nie. Die meer filmiese benadering, eerder as om net staties te fotografeer, beteken dié aanbieding van Mis kan nog lank as riglyn bly staan.” Klik hier om sy resensie te lees. Meer inligting en kaartjies vir die stuk is hier beskikbaar.

Facebook
Twitter
LinkedIn