Dié dokumentêr verken die artistieke reaksie van staatsbefondste teatermakers op die apartheidstaat. Die fokus is op mense wat tussen 1970 en 1990 by Kruik (die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste) gewerk het, en ondersoek temas soos die implementering van apartheidswetgewing binne die raad, vorme van subversie in die Afrikaanse teater en die uitwerking van sensorskap op teatermakers. Produksies soos Titus Andronicus (1970), Kanna hy kô hystoe (1974), Bacchus in die Boland (1975), Christine (1986), Piekniek by Dingaan (1989) en Kinkels innie kabel (1989) kom ter sprake.