Marlene Steyn is op Stellenbosch gebore en woon en werk in Kaapstad. Sy verwerf in 2011 ’n graad in die skone kunste aan die US, en daarna ’n M.A. in skilderkuns aan die Royal College of Art in Londen. Sy speel graag met helder kleure en fantasie om beelde in droomagtige landskappe te skep. Steyn put inspirasie uit die psigoanalitiese teorie en gebruik herkenbare beelde uit die geskiedenis en popkultuur om die waarnemer bewus te maak van die drange in die onderbewussyn. Haar werk word vergelyk met dié van die Nederlandse meester Hieronymus Bosch, maar sy tree ook in gesprek met ander kunstenaars. Buiten haar skilderye is Marlene ook bekend vir haar kleibeeldhouwerk. Sy speel vindingryk met vorm en kleur en moedig waarnemers aan om hulle te verlustig in ’n eie speelsheid waarvan hulle dikwels nie eens bewus was nie. Die skaal van haar beeldhouwerke het ’n omvangryke fisieke teenwoordigheid wat die toeskouer dwing tot selfrefleksie. Soos in haar skilderye speel sy voortdurend met vorm en kleur, iets wat spreek van spontaneïteit. Haar werk is ingesluit by verskeie versamelings, en onlangse uitstallings sluit in Home Bodies by die SMAC-galery op Stellenbosch; die groepuitstalling
X PINK 101 in die X-museum in Beijing, China; NON-PLACES in die Powerlong-kunssentrum in Shanghai; en die Kaapstadse kunsmark in die Kiks.
UItstalling is daagliks om 09:00-18:00 oop