Die Sun Quintet, wat bestaan uit voormalige studente van die US-musiekdepartement, het pas hulle debuutalbum, Embrace the Path, uitgereik. Die kwintet het in 2023 die ope kategorie van die US-ensemblekompetisie gewen en in ’n kort tydperk ’n groot aantal lojale aanhangers gekry.
Die kontemporêre klanke van die Kaap en die ryk tradisie van Suid-Afrikaanse jazz word vanjaar gevier met ’n reeks musiekkonserte in die opwindende buitelug-amfiteater van die US Konservatorium. Op die spyskaart is gunstelinge soos die Ramon Alexander Trio, die Katemba Quartet met Schalk Joubert, Muneeb Hermans, Blake Hellaby en Pascal Haas, én nuwe sterre soos Melisizwe Plaatjie en die Sun Quintet. Lede van die Maties Jazz Society sal die konserte begin. Bring jou instrument saam om na afloop van die konserte aan ’n jam-sessie saam met kunstenaars deel te neem. Studente en musiekstudente kry spesiale toegang.