Vergeet van my 

Filmfees
Afrikaans
38 Minute

30 September

17:40

4 Oktober

16:40
Gratis

Toe die bekende akteur, draaiboekskrywer en voormalige tromslaner van Zinkplaat, Beer Adriaanse, se ouers in 2021 hulle stoorkamer skoonmaak, kom hulle op ’n vergete swart krat af. Hieruit dop toe foto’s, joernale en plastieksakke vol DV8-videokassette met opnames wat verskeie toere vasgevang het, en daarmee ook ’n byna vergete tydperk in plaaslike musiek. Argiefmateriaal, wat oor tien jaar strek, vertel ’n storie van ontdekking, jeugdige rebellie, grootword en die droom om deel van iets groters te wees teen die agtergrond van ’n oplewing in alternatiewe Suid-Afrikaanse klanke. Met musiek van Zinkplaat, Foto Na Dans, eF-eL, Straatligkinders, Tidal Waves, New Holland en verskeie ander geraasmakers van dié era is hierdie ’n dokkie waarop jy kan dans.

Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat reeds ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute film­makers hulle wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige geleentheid maak, is die fees ook ’n vertoonvenster vir ontlui­kende talent: ’n rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, skyn jaarliks die kollig op hulle handewerk. Die Woordfees-filmfees wys met dank 8 kortfilms (opkomende film­makers), 6 “shotgun”-kortfilms (gevestigde filmmakers) en 5 kort dokumentêre uit die 2024 Silwerskermfeesprogram. Volledige inligting is op ons webwerf beskikbaar. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2024 kykNET Sil­werskermfees in Kampsbaai gepremière.