In ’n tyd van gevaarlike onsekerheid in ons land, is daar net een uitweg vir ’n eerlike man. Kom saam op ’n Groot Trek vanaf die droogste vlaktes van die Karoo tot die hoogste pieke van die Drakensberge. Beleef die passie van ‘n oorrompelende liefde met die donkerste skadu. Kyk geskok toe hoe die woede van jaloesie, vriende en vennote teen mekaar draai. Met gevare om elke kronkel en draai van hul reis, sal die ontembare gees van die Suid-Afrikaner oorleef? Vind uit in: Die Groot Twis.
Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat reeds ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hulle wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige geleentheid maak, is die fees ook ’n vertoonvenster vir ontluikende talent: ’n rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, skyn jaarliks die kollig op hulle handewerk. Die Woordfees-filmfees wys met dank 8 kortfilms (opkomende filmmakers), 6 “shotgun”-kortfilms (gevestigde filmmakers) en 5 kort dokumentêre uit die 2024 Silwerskermfeesprogram. Volledige inligting is op ons webwerf beskikbaar. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2024 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.