Andrea is ’n musiekdosent aan die Universiteit van Pretoria en ’n gevestigde samewerkende kunstenaar, veral as koorbegeleier. Haar program sluit in vier pastorales uit die Romantiek: dié van Théodore Salomé, Josef Rheinberger, Alfred Lefébure-Wély en Charles-Marie Widor (uit sy Simfonie No. 2), tesame met werke van die vrouekomponiste Brenda Portman en Emma Lou Diemer.
Vanjaar se orreltema is Pastorale, ’n werk waarin ’n landelike toneel deur klankskildering uitgebeeld word, dikwels met ’n fluitagtige melodie en ondersteun deur ’n dreunbas. Die meeste pastorales is rustig wiegend van aard, hoewel dramatiese natuurverskynsels verrassende uitbarstings tot gevolg kan hê. Elke orrelis se program sluit minstens twee pastorales in. Die besonderse Moederkerk-orrel se verskeidenheid van klankkleure word ten toon gestel, en nabybeelde van die orrelis se hande en voete word op die skerms vertoon. Vanjaar is daar drie nuwe orreliste.