Zen is ’n derdejaar-B.Mus.-student aan die US Konservatorium waar hy onder leiding van Winand Grundling in orreluitvoering spesialiseer. Sy program sluit in ’n Barok-pastorale van Bernardo Pasquini en ’n laat-Romantiese pastorale van Paul Pierné. Saam met werke van Percy Whitlock, Jehan Alain en Theodore Dubois poog sy program om uiteenlopende emosies aan verskillende aspekte van die natuur te koppel.
Vanjaar se orreltema is Pastorale, ’n werk waarin ’n landelike toneel deur klankskildering uitgebeeld word, dikwels met ’n fluitagtige melodie en ondersteun deur ’n dreunbas. Die meeste pastorales is rustig wiegend van aard, hoewel dramatiese natuurverskynsels verrassende uitbarstings tot gevolg kan hê. Elke orrelis se program sluit minstens twee pastorales in. Die besonderse Moederkerk-orrel se verskeidenheid van klankkleure word ten toon gestel, en nabybeelde van die orrelis se hande en voete word op die skerms vertoon. Vanjaar is daar drie nuwe orreliste.