Mia Spies, multimediajoernalis en TV aanbieder, gesels met prominente figure en meningsvormers.
Maandag | 30 September | 16:00 | Die Onderhoud met dr. Christo Wiese
Dr. Christo Wiese het sy sakeryk opgebou met slim sakebesluite en strategiese vennootskappe. Toe bars die Steinhoff-bom en hy verloor ‘n groot deel van sy fortuin. Wiese deel van die lesse wat hy geleer het oor doeltreffende samewerking, waarby hy glo die regering van nasionale eenheid (RNE) kan baat vind. En wat verwag die sakesektor van die regering?
• Dinsdag | 1 Oktober | 16:00 | Die Onderhoud met Helen Zille
Ná dekades van kollektiewe politieke depressie het baie Suid-Afrikaners weer hoop gevind in die vorming van die regering van nasionale eenheid (RNE). Helen Zille, federale leier van die DA, was deel van die RNE-onderhandelingspan. Sy bespreek die kritieke kruispad waar Suid-Afrika gestaan het, die toutrekkery tussen politieke partye om ‘n regering te vorm, en haar verwagtinge vir die toekoms.
• Woensdag | 2 Oktober | Die Onderhoud met dr. Imtiaz Sooliman
Die onbaatsugtige hulpverlener dr. Imtiaz Sooliman se doel in die lewe is om lewens te red, lyding te verlig en hoop te bied. Dit is die rede waarom hy meer as drie dekades gelede Gift of the Givers gestig het. Sooliman deel van sy onvergeetlike ervarings, van veldhospitale in Sirië tot droogtehulp in die Karoo, en verduidelik hoe hy daarin slaag om nie moed te verloor nie. Hy beklemtoon ook die belangrikheid daarvan dat gewone burgers bydra en nie net wag vir ingryping nie.
• Donderdag, 3 Oktober – Die Onderhoud met minister Gayton McKenzie
Die nuwe minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, het kort voor sy inhuldiging vir Netwerk24 belowe dat hy te sien gaan wees op kunstefeeste. Getrou aan sy woord, sal hy op die verhoog by die Woordfees praat oor die uitdagings van die kunstebedryf en sy planne om dit te ondersteun en op te hef. McKenzie sê hy gaan die daad by die woord voeg en nie vir sport voortrek in die portefeulje nie, maar ook die kunste in die kollig plaas.