Gys se lewe is ’n gemors, en hy bevind hom in ’n besonder donker hoekie. Sy baas, Roelf, moet sorg vir en skoonmaak agter ’n hondjie wat hy uitdruklik nie wou hê nie. Nou dwing hy vir Gys om sy vuil werk te doen en vir Buksie te laat uitsit. Dis óf sy werk óf die woef. Maar hoe kry enige iemand dit oor sy hart om ’n onskuldige brakkie wat niks makeer nie, uit die lewe te help? Gys moet ’n plan maak.
Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat reeds ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hulle wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige geleentheid maak, is die fees ook ’n vertoonvenster vir ontluikende talent: ’n rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, skyn jaarliks die kollig op hulle handewerk. Die Woordfees-filmfees wys met dank 8 kortfilms (opkomende filmmakers), 6 “shotgun”-kortfilms (gevestigde filmmakers) en 5 kort dokumentêre uit die 2024 Silwerskermfeesprogram. Volledige inligting is op ons webwerf beskikbaar. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2024 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.