Mia, ’n depressiewe vrou in ’n futuristiese inrigting, word geteister deur ontstellende herinneringe. Sy ondergaan ’n baanbrekerterapie in ’n virtuele werklikheid om haar trauma te verwerk. Maar terwyl sy dié surrealistiese liminale ruimte verken, ontdek sy die terapie se verrassende oorsprong en moet sy die krag vind om haar eie demone te konfronteer en vergifnis te soek.
Die kykNET Silwerskermfees is ’n gesogte en volwaardige Suid-Afrikaanse en Afrikaanse filmfees wat reeds ’n dekade lank die plaaslike filmbedryf ondersteun, bemagtig en ontwikkel. Terwyl ’n aantal vollengte speelfims van gesoute filmmakers hulle wêrelddebuut of Suid-Afrikaanse buiging by dié prestige geleentheid maak, is die fees ook ’n vertoonvenster vir ontluikende talent: ’n rits kortflieks wat met die nodige mentorskap onder die feesvaandel vervaardig word, skyn jaarliks die kollig op hulle handewerk. Die Woordfees-filmfees wys met dank 8 kortfilms (opkomende filmmakers), 6 “shotgun”-kortfilms (gevestigde filmmakers) en 5 kort dokumentêre uit die 2024 Silwerskermfeesprogram. Volledige inligting is op ons webwerf beskikbaar. Hierdie kortfilms is onder mentorskap van kykNET en M-Net vervaardig en het by die 2024 kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gepremière.