Nie net was Theuns Jordaan ’n sanger en liedjieskrywer van formaat nie, hy het ook die gawe gehad om ander liedjieskrywers se werk sielvol weer te gee. Van die grootste name in Afrikaanse musiek kom bymekaar en bring hulde aan Theuns, ’n kunstenaar enig in sy soort, met ’n stem wat nog lank geluister gaan word: Anton Goosen, Bok van Blerk, David Kramer, Dozi, Dr. Victor, Gian Groen, Karen Zoid, Kurt Darren, Sima Mashazi, Tarryn Lamb en Valiant Swart. Die musiekregisseur is Melissa van der Spuy en van Theuns se grootste treffers is deel van die program: “Namibsroos”, “Soos bloed”, “Roeper van my hart”, “Hartseer vir die reën” en “Voor die storm kom”.