van ons

hoofborge

Saam is ons sterker

Ons het almal die geweldige mag van nasie-eenwording met die Rugbywêreldbeker in Japan ervaar. Nou is dit tyd om saam te kom by die Woordfees.

Daar is min geleenthede in Suid- Afrika waar mense kan gaan sit en gesels om die positiewe aspekte van ons ongelooflike kleurryke kultuur te vier. Die Toyota US Woordfees is een so ’n kosbare bymekaarkoms, wat gemeenskappe op twee baie belangrike maniere verenig – deur middel van taal en deur middel van musiek. Toyota wil deel wees van hierdie vereniging van ons mense.

Die Woordfees erken ons ryk kulturele en artistieke verskeidenheid en vier die mag van een nasie – ons Reënboognasie. Die Verenigde Nasies het 2019 tot die internasionale jaar van inheemse tale verklaar – nie net om bewustheid te skep en die mense wat hierdie tale praat se welstand te bevorder nie, maar ook sodat ander die belangrike bydrae wat tale tot die kulturele en artistieke diversiteit van ons wêreld lewer, kan waardeer.

Ons is met die oog daarop so trots dat die Toyota US Woordfees hier op die prentjiemooi Stellenbosch ’n unieke geleentheid bied om die trots en die krag van alle Suid-Afrikaners van die Reënboognasie te deel en te ervaar. Kortom, die Toyota US Woordfees is vir almal. Hoewel dit die kulturele erfenis bevorder van die groot verskei- denheid van mense in ons land wat Afrikaans praat, koester dit – baie belangriker – ’n gees van eenheid onder alle Suid-Afrikaners.

Calvyn Hamman
Senior Visie-President: Verkope en Bemarking Toyota Suid-Afrika Motors

Kom steek grense oor!

Die Woordfees beloof om weer uit sy nate te bars met vars produksies en belewenisse – alles onder die vaandel van ’n fees wat 21 word. As gehoor sal ons weer uitgedaag word en sal ons ook weer saam kan gesels. Ons sal mekaar, ons stories, deur die kunste kan beleef en ons in ander se skoene kan plaas.

Hier sal weer heelwat ou bekendes en geen tekort aan nuwe vriende wees nie. Die nuut van die program sal jou aangryp en die bekende dele sal jou onmiddellik tuis laat voel.
Meer nog, soos in die verlede, nooi die Woordfees jou uit om saam grense oor te steek. Die fees stel almal van ons bloot aan iets nuuts en skep die platform vir Suid-Afrikaners van reg oor ons land, asook internasionale besoekers, om mekaar te ontmoet en om saam
fees te vier.

Die Woordfees sou nie moontlik wees sonder die steun van ons borge nie. Oor die jare het ons borge ons getrou ondersteun en só diep belê in die kunste en daarmee ook in ander, sagter moontlikhede vir ons pragtige land. Van my kant dus groot dank aan ons borge – in besonder aan Toyota as medenaamborg.

En sonder jou sou daar inderdaad geen fees wees nie. Baie dankie vir jou volgehoue steun!

“Aanhou beweeg en geraas maak” – dit is ’n tema soos min. Dit wys op wat was en wat nog sal kom. Meer nog, dit nooi elkeen van ons uit om direk deel te hê aan die fees. En juis dit is die aard van die Toyota US Woordfees – vrolik, oop en vriendelik. Welkom!

Dr. Leslie van Rooi
Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, Stellenbosch Universiteit

Een vir die boeke!

Namens Media24 ’n hartlike geluk aan die Woordfees met jul mondigwording! Die Woordfees was nog altyd ’n hoogtepunt op ons kalender en dis ’n groot eer om hierdie mylpaal saam met die organiseerders, kunstenaars, mede-borge en besoekers van heinde en ver te vier!

Woorde is ons brood en botter, en dis hoekom die Woordfees so ’n natuurlike pasmaat vir Media24 is, want hier word elke jaar ’n oase rondom woorde in alle vorme geskep: deur middel van poësie, prosa, debat, drama en musiek. Daar wag jaarliks ’n groot verskeidenheid nuwe ervarings op feesgangers, en bied beslis iets vir die hele gesin. Die fees is egter nie net ’n viering van die kunste nie; dit plaas ook die kollig op ons samelewing en die talle uitdagings waarvoor ons daagliks te staan kom.

Dit bied die geleentheid om ons land se topskrywers, -digters en -kunstenaars bymekaar te bring om kreatiewe oplossings te vind en nuwe rigtings in te slaan.

Ons publikasies en boekuitgewers is oudergewoonte deel van die fees – kom sê gerus hallo!

Geniet die fees, die nuwe ervarings en herinneringe – soos gewoonlik gaan Woordfees 2020 een vir die boeke wees.

Ishmet Davidson
Uitvoerende hoof: Media24

Die liefde is aanhou beweeg en geraas maak

kykNET glo in die woorde van Jan Rabie en Breyten Breytenbach en is nou al 20 jaar aan die geraas maak en aan die beweeg. En ons doen dit in Afrikaans.

kykNET glo in die toekoms van die skeppende en uitvoerende kunste en vermaak in moedertaal en daarom is ons betrokke by die dinamiese Woordfees. kykNET, kykNET & Kie en kykNET NOU! is meer as net TV kanale – ons belê in ons kykers en ons bedryf. Daar word soms gesê ons vertel te min van die verskil wat ons op die Afrikaanse landskap maak. Oor die afgelope 20 jaar het ons as mediavennoot en borg, Afrikaans in verskeie streke van ons land en Namibië lojaal ondersteun. Die Toyota US Woordfees is ’n uitsonderlike fees wat al die genres van ’n kunstefees insluit en, soos kykNET, belê in die ontginning en blywende ondersteuning van nuwe talent en ’n volhoubare platform skep vir gevestigde en veteraan kunstenaars.

kykNET is ook die enigste kanaal wat plaaslike klassieke musiek verfilm en uitsaai. Ons is passievol oor Afrikaans en daarom dryf ons projekte soos die Silwerskermfees, die Fiëstas, die Ghoema Musiekpryse, Nasionale Toneelkompetisie en vele meer. Kom kuier gerus by die Konservatorium en en Hoërskool Stellenbosch en word vermaak en ontroer. Kom kyk hoe Emo Adams en die finaliste van Maak My Famous drome moontlik maak, of geniet Karen Zoid saam met die Kaapse Simfonieorkes by die Van der Stel Sportgronde.

Karen Meiring
Direkteur: M-Net Afrikaanse kanale