Woordfeesveiling
Die jaarlikse kunsuitstalling en veiling van die Toyota Stellenbosch Woordfees, in samewerking met Strauss & Co, vind vir die duur van die fees aanlyn en in die Stellenbosse stadsaal plaas. Teresa Lizamore is die kurator van die uitstalling. Die kunswerke waarop vanjaar gebie kan word, sluit werke in van gevestigde én opkomende kunstenaars. Bieërs kan op hul persoonlike toestel aanlyn in die stadsaal bie óf vanaf enige ander ligging.
Hoe werk die veiling?
Die veiling duur vanaf 24 September tot 7 Oktober 14:00. Jy kan gedurende hierdie tydperk op enige item op die veiling bie.
Aankope kan slegs aanlyn op Strauss & Co se webwerf of via hul mobiele toepassing gemaak word. Vermy die moontlikheid dat iemand jou gaan uitstof deur ten minste ’n uur voor die sluitingstyd jou item te monitor en die geleentheid gebruik om weer te bie. Jy kan die items waarop jy gebie het, monitor deur die “Auction Favourites” knoppie onder “My Account” te klik.
As daar binne vyf minute voor ’n item se geskeduleerde sluitingstyd bodaktiwiteit is, sal daar ’n vyf minuut verlengingstydperk by daardie item gevoeg word totdat slegs een bieër oorbly. Hierdie verlengings sal onbepaald voortduur totdat daar geen bodaktiwiteit vir ‘n tydperk van vyf minute is nie, wat impliseer dat daar geen verdere belangstelling is nie.
Alle voornemende bieërs moet aanlyn registreer al het jy vantevore aan ’n Strauss & Co-veiling deelgeneem.
Vir meer inligting besoek straussart.co.za
Die uitstalling is gebaseer op die tema van die 2024 Woordfees, ‘SPEEL’. Wanneer dit in Engels vertaal word, het die woord ‘PLAY’ ’n dubbele betekenis, wat beide na die werkwoord en die selfstandige naamwoord verwys. Die selfstandige naamwoord ‘SPEEL’ het die kurator in staat gestel om ’n uitstalling te konseptualiseer wat beide die handeling van ‘speel’ asook die teater insluit, wat gepas is, aangesien die Woordfees se hoofdoel is om toneelspelers en die kunste as geheel te bemagtig.
Onder R10 000
Onder R30 000
Bo R30 000
Rondleidings
Rondleidings deur die veilinguitstalling word aangebied deur die Strauss & Co-spesialis
Elmarie van Straten en die kurator van die uitstalling Teresa Lizamore.
30 SEPT 10:00 | 2 OKT 15:00 | 4 OKT 10:00
60 min | Stadsaal
Gratis
Uitstalling:
Kurator: Teresa Lizamore
Teresa Lizamore van Strauss & Co is vir die tweede agtereenvolgende jaar die kurator van die Toyota Stellenbosch Woordfees se Stadsaal-uitstalling en -veiling. Hierdie jaar bring sy meer as 100 nuwe kunstenaars se werk en ’n paar bekendes om die Woordfees se Speel-tema te vier.
“Ons neem die definisie van die woord ’Speel’ (deelneem aan aktiwiteite vir genot en ontspanning) in Engels en speel met die woord se homoniem ‘play’ (teaterproduksie, bedoel vir ’n gehoor) vir die konsep van ons uitstalling. Dit is relevant vir die Woordfees aangesien teaterproduksies die hart en siel van die fees is.
“Die uitstalling sal afsonderlike kategorieë binne teater hê vir kunstenaars om mee te speel – Teater van komedie, drama, rillers, romantiek, fantasie, woordkuns en Teater van die Ander.
“As die kurator hoop ek die uitstalling bied ’n speelse en kreatiewe kykervaring wat die talente van Suid-Afrikaanse kunstenaars vier en die aandag sal vestig op die kunste in ’n groter konteks,” sê Teresa.
Die ‘Speel’-uitstalling sal bekendgestel word deur die bekende kunstenaar, Dr. Karin Preller, wie se solo-uitstalling Alles in foto’s in die voorportaal van die Stadsaal te sien sal wees.
Karin Preller
Karin Preller se kunswerke is nie op veiling nie, maar te koop by die uitstalling in die Stadsaal.
Preller se werk speel met die feestema in verskillende gedaantes. Afgesien van skilderye wat verwys na die magiese wêreld van die teater en gehore van toentertyd, kom Preller se bronmateriaal uit gevonde beelde uit ikoniese Suid-Afrikaanse fotoboeke (1950’s-1970’s), poskaarte en reisbrosjures uit Suid-Afrika se verlede. Die skilderye beklemtoon die melodrama, teatraalheid en eiesoortige humor van die fotostories se houterige rame. Pulp fiksie, nou noukeurig in verf weergegee, herleef as aangrypende, humoristiese en dikwels ontstellende kommentare op Suid-Afrika se verlede en op die hedendaagse samelewing.
Karin Preller woon en werk in Johannesburg. Sy het ‘n B.A. (skone kunste) (cum laude) aan Unisa verwerf, ’n M.A. (skone kunste) (cum laude) aan Wits en het pas haar Ph.D. in kuns en ontwerp aan UJ voltooi.
Solo-uitstallings sluit in Family Album by ABSA-galery (2001); Snapshots by Gordart-galery (2007); Aperture by Fried Contemporary (2008); Stills by Artspace (2009); City and Suburban by die Standard Bank-galery (2010); Just above the mantelpiece by Artspace (2013); Stilled lives by Lizamore and Associates (2015); Almost no memory by Lizamore and Associates (2020); en Beyond memory by die 2022 KKNK. Sy is by die 2022 KKNK met ’n Kanna-toekenning vereer en is genomineer vir ’n kykNET Fiësta in 2023. Haar werke is opgeneem in die versamelings van die Johannesburgse-kunsgalery, UNISA, ABSA, SASOL, Die Openbare Beskermer, Die Pretoria-kunsmuseum en Oliewenhuis-kunsmuseum.
Marlene Steyn
Die feeskunstenaar vir 2024 is die skilder en kleibeeldhouer Marlene Steyn. Haar benadering en kuns vind weerklank in die feestema met helder kleure, fantasie en vindingryke vorms waarmee sy droomagtige landskappe optower. Haar werk moedig kykers aan om hulle te verlustig in ’n eie speelsheid waarvan hulle dikwels nie eens bewus was nie. Sy bied vir die duur van die fees ’n uitstalling van haar werk aan wat al by verskeie versamelings en onlangse uitstallings ingesluit is, soos Home Bodies by die SMAC-galery op Stellenbosch en Non-Places in die Powerlong-kunssentrum in Shanghai, China. Die uitstalling is in die US Museum en Marlene neem op 2 Oktober om 14:30 aan ’n gesprek oor haar werk deel in die US Museum-anneks.
Later is sy weer in aksie in Breath Of Gaia: Exhibition And Fashion Show, waarin sy en die ontwerper Lezanne Viviers modeontwerp verken deur die lens van die uitvoerende kunste.