Wenke vir ‘n fantastiese fees

Daar is meer as 1 000 aanbiedings op die program. Hou ons webwerf en sosiale media dop vir aanbevelings wanneer jy jou program beplan sodat jy die meeste uit die fees kan put. Volg die fees op Facebook, Instagram of Twitter en teken in op ons nuusbrief om ingelig te bly. Kry al die feesnuus, resensies en ander inligting in die feeskoerant, Ink, wat van Maandag tot Saterdag by alle venues verkoop word. 

Besoek gerus ons nuwe webwerf en mobi-werf vir eenstop-inligting, toevoegings, ekstra vertonings en nuus. 

NUWIGHEDE BY DIE 2020 WOORDFEES 

  • Ons het ’n nuwe mede-naamborg. Gebruik Toyota se gerieflike pendelbussies en geniet die Toyota-Tawwe 10 by die Jan Marais Park en Van der Stel Sportgronde. 
  • In ’n poging om inflasie en stygende pryse te klop, bied die fees vanjaar dag-, week- en Toyota-Tawwe 10-kaartjies vir die Boektent teen afslagpryse. Die Toyota-Tawwe 10 bied ook uitstekende waarde vir geld: Sien 10 konserte vir R1 000! 
  • Die Boektent en ATKV-Boeke-Oase is weer op die grasperk voor Wilgenhof (hoek van Victoria- en Ryneveldstraat). Die Netwerk24 Feeskafee skuif na die ATKV-Boeke-Oase. 
  • RSG saai weer vanaf Die Plataan uit. 
  • Uitstallings wat deel is van die Visuele Kuns-program, is te sien in die Stadsaal, met die uitsondering van feeskunstenaar Gerhard Marx se uitstalling en installasie Vehicle in die Landbousaal. 
  • Die Fringe Fees word op Monica-koshuis se tennisbaan aangebied. Ondersteun asseblief ons jong kunstenaars! 

PENDELDIENS EN GRATIS PARKERING 
Stellenbosch is ’n ou dorp met nou strate en min parkering. Laat dus genoeg tyd toe om van die een vertoning tot by die volgende te kom. Parkeer gratis by Hoërskool Stellenbosch in Jannaschstraat, by die Van der Stel Sportgronde en oorkant Rhenish Girls’ High School in Kochstraat, ingang uit Parkstraat. Pendel van hierdie parkeerplekke met ’n feesbussie teen R10 per rit na alle feesvenues, of koop dag- en week-afslagpakkette. 

KONTANTLOOS MET STANDARD BANK 
Die Toyota US Woordfees is ’n kontantlose fees. Betaal met enige debiet- of kredietkaart of gebruik SnapScan. 

ROLSTOELBESPREKINGS 
Met die uitsondering van drie ruimtes, is al die Woordfees se venues rolstoel- vriendelik. Slegs die Drostdy Teater, Upstage@Drostdy en Bibsaal is ontoeganklik. Dis wel noodsaaklik om vooraf reëlings te tref vir ondersteuning met toegang, en veral parkering. Vir navrae hieromtrent, skakel 087 238 2078. 

TEATER-ETIKET 
Skakel asseblief jou selfoon af voor klassieke musiek- en toneelvertonings. Neem ander feesgangers en kunstenaars in ag met jou gedrag en optrede tydens ’n vertoning. Geen laatkommers word toegelaat by opvoerings nie. Begroot minstens 30 minute vir aankope van verversings en drankies voor vertonings. 

WEERSAKE 
Maart is hoogsomer in Stellenbosch. Onthou ’n sonhoed en sonskerm en drink genoeg water. Al is die dae warm, word dit vinnig koud sodra die son ondergaan. Bring ’n trui, baadjie of kombers vir buitelugvertonings. 

WATER 
Hoewel die damme gelukkig voller is as in 2018, wil ons steeds soveel moontlik doen om ons voetspoor so lig as moontlik te hou. Gebruik asseblief water UITERS spaarsamig. 

TE ETE EN TE DRINKE 
Kosstalletjies en kontantkroeë is by die meerderheid venues beskikbaar. Ondersteun asseblief ons verskaffers. Piekniekmandjies en eie drank word nie by buitelugkonserte toegelaat nie.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on google
Google+
Lees ander berigte
Des 04
Beleef die room van die Fiësta-oes

Die kykNET Fiësta-benoemings is vandeesweek bekend gemaak. Debuutproduksies op die…

Nov 22
Johannesburg-programbekendstelling

Die Toyota US Woordfeesprogram vir 2020 is ook by ‘n intieme geleentheid in…

Nov 19
2020 Toyota US Woordfees-programbekendstelling

Die 2020 Toyota US Woordfees-program is Maandagaand 18 November by die Rust en Vrede…