WENKE
Wenke vir 'n spelerige fees
Die Toyota Stellenbosch Woordfees is ’n inklusiewe basaarpoeding van menings, agtergronde, kulture en oortuigings. Ons bied ‘n fees aan in die hoop en strewe om deur diverse uitdrukking en ons onderskeie ervarings, eenheid én mekaar te vind en vier. In die gees van ons feestema vra ons dat jy mede-feesgangers respekteer en op ’n opbouende manier van mekaar verskil, soos en wanneer nodig.
Skakel asseblief jou selfoon af voor alle vertonings, los die baba en die hond by die huis, loop ’n draai voor jy gaan sit en deel jou lewensverhaal of opinie liefs ná die tyd. Geen laatkommers word by opvoerings ingelaat nie. Verversings is by die meeste venues beskikbaar. Ondersteun asseblief ons verskaffers – geen eie spys en drank word by venues toegelaat nie. Ruim minstens 30 minute in om verversings en drankies te koop voor vertonings.
Die Toyota Stellenbosch Woordfees groei organies en vir optimale benutting van ruimte lyk die feeskern in 2024 anders as die afgelope paar jaar:
- Ryneveld- en Victoriastraat word die hoofstrate van die fees.
- Die EasyEquities-boektent en US Museum-anneks huisves vanjaar die grootste deel van die EasyEquitiesskrywersfeesprogram.
- Die EasyEquities-boektent en ATKVboekwinkel, bedryf deur Exclusive Books, is weer by Die Plataan agter die US Museum. Daar is ook ’n gesellige restaurant met onder meer koffie en heerlike roosterkoek.
- Ons Diskoersprogram, wat die Netwerk24-gespreksreeks insluit, vind hoofsaaklik by die EasyEquities-boektent plaas. Van die diskoersgesprekke word in die US Museum-anneks en Adam Small-seminaarkamer gehou.
- RSG saai by Die Khaya-kafee uit in die parkeerterrein langs die Kruiskerk. Die Netwerk24-feeskafee is weer by Die Khaya-kafee.
- Die Woordfees-kunsuitstallingsword vanjaar in die Stadsaal en die US Museum gehou. Ons sluit ook uitstallings van feesvriende en -vennote op die program in– dit sal in verskeie ruimtes in en om Stellenbosch te sien wees.
- Volwassenes kan hulle innerlike kind uitleef in die Woordfees-speelkamer by die US Museum-vierkant. Hier kan jy touspring, blokraai en woordsoek speel, somme maak en vele meer.
Volg die Woordfees op Facebook, Instagram, Twitter of ons WhatsApp-kanaal en teken in op ons nuusbrief. Besoek ons eenstopwebwerf vir inligting, toevoegings, bykomende vertonings, programveranderinge en nuus. Hier kan jy ook ons feeskoerant, INK – met resensies, profiele en kommentaar – gratis gedurende die fees lees: woordfees.co.za
Die Woordfees is ’n kontantlose fees. Betaal met enige debiet- of kredietkaart.
DROSTDY-TEATER
Kom geniet iets te drinke by die kroeg voor of ná die vertoning. Danksy ’n nuwe hysbak is dié teater nou rolstoelvriendelik.
JAN MARAIS-NATUURRESERVAAT
Geniet ’n buitelugkonsert in dié Stellenbosse park met verskeie kosstalletjies (geen eie kos of drank word toegelaat nie). Onthou om warm klere saam te bring.
THE DAISY JONES BAR
By dié eenstop-musiekvenue op die Summerhill-wynlandgoed langs die Agter-Paarlweg, ongeveer 5 km buite die dorp, kan jy eet, drink én dans. Ruim genoeg tyd in om daar uit te kom, of gebruik die gerieflike feespendeldiens. ’n VIP-kaartjie bied toegang tot ’n private kuierplek-en-kroeg
Beurtkragskedules kan op baie kort kennisgewing verander, maar die Woordfees gebruik kragopwekkers in byna alle lokale en vertonings gaan voort as die krag af is. Vertonings sal dus selde weens beurtkrag gekanselleer of uitgestel word.
Stellenbosch is ’n ou dorp met smal strate en min parkeerplek. Laat dus genoeg tyd toe om van die een vertoning tot by ’n volgende te kom. Parkeer gratis regoor Rhenish Girls’ High in Kochstraat (ingang uit Parkstraat) of by die Oude Libertas-amfiteater. Pendel met ’n feesbussie van dié parkeerterreine af – dit kos R20 per rit na alle feesvenues. Dagkaartjies (R50) is ook beskikbaar, asook ’n kaartjie vir R180 vir die volle duur van die fees.
Met die uitsondering van twee ruimtes is al die Woordfees se venues ingerig vir mense in ’n rolstoele. Slegs die Dylan Lewis-beeldetuin en Neelsie Cinema 1 is ontoeganklik. Dit is wel noodsaaklik om vooraf reëlings te tref vir hulp met toegang en veral parkering – bel 072 231 7073 hiervoor.
Oktobermaand is lente – en bedags is dit warm op Stellenbosch. Bring ’n sonhoed en sonskerm saam, en drink genoeg water. Maar al is die dae warm, word dit vinnig koud sodra die son sak. Bring warm klere of ’n kombers vir buitelugvertonings.
’n Uitgebreide paneel kundiges woon alle vertonings van die Toyota Stellenbosch Woordfees by om die beste kunstenaars en aanbiedings in 18 kategorieë te bepaal. Die wenners word op ’n toekenningsgeleentheid in Oktober aangewys.
Nooddienste vanaf enige selfoon 112
Netcare 082 911 of 0860 638 2273
ER24 084 124
Mediclinic Stellenbosch (ongevalle) 021 861 2094
Stellenbosch- provinsiale hospitaal (ongevalle) 021 808 6100
Kampusgesondheidsdienste 021 808 3494/6
US Kampussekuriteit (noodgevalle) 021 808 2333
Stellenbosch-munisipaliteit
se Noodgevalle 24/7 021 808 8890
Stellenbosch-brandweer 021 808 8888
SAPD
Noodgevalle (nasionaal) 1 0111
Stellenbosch 021 809 5015/5000/5012
Woordfeeskantoor (algemene navrae) 072 231 7073
Rolstoelbesprekings 072 231 7073