EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Ja, Van Zyl Slabbert wás ’n randfiguur
Deur: Ruhan Fourie
Wanneer Andries Bezuidenhout met Albert Grundlingh gesels oor Van Zyl Slabbert, word dit een van die lekkerste, slimste boekgesprekke nóg.
Biograwe is maar obsessief oor hulle onderwerp. En ek bedoel nie dat hulle totaal versot raak op hulle onderwerp en hom of haar verafgod, soos soms met aanhangers van groot figure uit die verlede gebeur nie. Nee, ’n biograaf se obsessie is juis om die kompleksiteit, teenstrydighede en motiverings van hulle onderwerp te verstaan en verwoord.
As jy dit verantwoordelik wil doen, is dit ’n hengse onderneming. Veral as dit iemand is vir wie maklike antwoorde ongemaklik sit, soos die historikus Albert Grundlingh. Voor hy hom in die lewe van Frederik Van Zyl Slabbert ingegrawe het, moes hy homself eers mooi afvra: “Wil jy werklik jou eie lewe aan ’n ander persoon s’n wy?”
Gelukkig vir ons het Grundlingh hierop bevestigend geantwoord. Die uiteinde is die verskyning van Frederik Van Zyl Slabbert: Soekende profeet, ’n deeglike biografie wat Donderdagoggend voor ’n volgepakte EasyEquities-skrywerskamer bespreek is. Die sosioloog Andries Bezuidenhout van die Fort Hare-Universiteit het hom uitgevra.
Historici is lank reeds agterdogtig oor vorige geslagte se beheptheid met die Groot Manne van ons geskiedenis. Om oor hulle te skryf is nie meer in vogue nie. En Van Zyl Slabbert is voorwaar een van ons Groot Manne. Hy word immers deur sommiges bestempel as die beste leier wat Suid-Afrika nóg gehad het nie.
Kort voor lank het Bezuidenhout sy notas weggebêre, agteroorgesit en aangekondig: ‘Nee, nou gaan ek my vrae eenkant sit, want ek wil liewer gesels.’
Bezuidenhout het met die deur in die huis geval deur tereg te wys op watter verrassing dit is dat Grundlingh ’n biografie oor so ’n hoofstroomfiguur skryf. Die oeuvre van dié voormalige departementshoof van geskiedenis aan die US is immers die sosiale geskiedenis van randfigure wat mag en sosiale status betref – die joiners en hensoppers van die Suid-Afrikaanse oorlog, manne om die honderesiesbane op die Rand in die jare dertig, en die afvalliges in die skadu van verbruikerskultuur in die jare sestig, om enkeles te noem. Grundlingh meen egter
Deur hierdie lens word die wisselwerking tussen Slabbert se reaksies op sy omgewing en die impak van sy omgewing op hom vertolk en vir lesers verstaanbaar gemaak. As kind het Slabbert byvoorbeeld só dikwels getrek dat hy nooit tot ruste gekom het in sy soeke na ’n tuiste – materieel óf emosioneel – nie. En tog het dit hom nie bang gemaak vir verandering nie. In tye van politieke skuiwe was dié soeke selfs sterker.
Kort voor lank het Bezuidenhout sy notas weggebêre, agteroorgesit en aangekondig: “Nee, nou gaan ek my vrae eenkant sit, want ek wil liewer gesels.” Wat gevolg het, was een van die lekkerste en slimste boekgesprekke waarby ek nog was. Grundlingh se geskiedkundige begrip van Slabbert en sy tyd is goed aangevul deur Bezuidenhout se begrip van die sosiologielandskap waarin Slabbert as dosent diep spore getrap het. Dit het gevoel soos twee kennisse wat oor ’n gemeenskaplike vriend uit hulle verlede gesels. Hulle het jolig staaltjies vertel en dit afgerond met insig en analise.
Op ’n vraag oor die openbare herinnering van Slabbert het Grundlingh opgemerk dat hy ook hier ’n randfiguur is. Daar is ’n geskiedkundige geheueverlies rondom figure soos Slabbert, veral by ’n jonger geslag.
As ’n mens in ag neem dat ek die enigste een in die vertrek was wat nie grys of bles was nie, lê daar dalk waarheid in Grundlingh se waarneming. Tog, wanneer ’n toekomstige geslag Slabbert dalk herontdek, sal Grundlingh se werk uitstaan as ’n besonderse bron.