SPIER THEATRE

Ou Eva-baby het ook toe nou genoeg gehad

Produksie: Eerste vir alles
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Gys Loubser

Wanneer die huwelik al eeue lank moeilik is – letterlik sedert die begin van die wêreld – is daar net een ding om te doen: lag. En dít presies is wat Wessel Pretorius se Eerste vir alles vir jou laat doen, skryf Nadine Petrick.

Alles het iewers begin – die eerste mens, die eerste soen, die eerste fight en die eerste vuil doek. En as jy in die Bybel, of in Wessel Pretorius glo, dan was dit iewers in ’n paradys, met ’n slang.

Desjare terug daag ’n vriendin by die Familieregklas op en vertel met ’n effense geskokte, maar tog ook geamuseerde glimlag dat haar ouma, ouderdom 80, besluit het om van haar oupa te skei. Tot hiertoe en doodeenvoudig nie een uur verder nie. Hoe absoluut omvattend gatvol moet jy nie wees om só ’n groot stap op só ’n rype ouderdom te neem nie?

Dis presies hoe Eva (Margit Meyer-Rödenbeck) aan die einde van Wessel Pretorius se Eerste vir alles oor die kwansuise oerhuwelik op aarde gevoel het. En ná 400 jaar van huismoles, hormone navigate, 56 kinders baar, skoonmaak, die minste wees, Appelslet genoem word, én met die addisionele las van die ganske wêreld se ondergang op haar moeë skouers, verstaan ’n mens haar impuls om caution to the wind te gooi. En om wéér ’n keer, eeue nadat Adam (Frank Opperman) en Eva uit die tuin verban is, die verleidelike stem van die slang (Tobie Cronjé) met sy onbehoorlike beloftes van ’n gemakliker lewe, met die nodige erns te bejeën.

Een kyk na Eva se boesem, en die wêreld is vir altyd in sy moer in.

Ou Eva-baby het ook toe nou genoeg gehad, al het sy verbasend lank uitgehou. Gaan sy hierdie keer haar lappe pak en finaal vir Adam aan sy eie lot oorlaat?

Die uitdrukking “The Battle of the Sexes” is skynbaar al in 1723 deur Samuel Wesley gecoin, maar dit was uiteraard nie waar die stryd tussen die geslagte begin het nie. Ons wéét sommer die kak het in die Paradys begin, en dis die premise van hierdie two-hander waarin Meyer-Rödenbeck en Opperman die mensdom se voorsate met die gemak van twee, wel, ou getroudes vertolk. Toe Adam se behoefte vir geselskap die oorhand kry, en hy die “Meneer” vra vir ’n maat (“Ek sal ’n arm en ’n been gee… Nee wag, dis bietjie ekstreem, wat kan ek kry vir ’n ribbetjie?”) het die grootste drama van alle tye begin ontvou. Een kyk na Eva se boesem, en die wêreld is vir altyd in sy moer in.

Wessel Pretorius moet onder geen omstandighede ophou snaaks wees nie. Lyn vir verkwiklike lyn word die skeppingsverhaal, en elke moontlike eerste wat daarna volg, by monde van Adam en Eva vertel. Met tipiese slim Pretorius-humor wat soms pikswart en immer giggelsnaaks is, kry ons ’n loergaatjie in die tuin van Eden, sowel as ’n blik op die metaforiese paradys – die ontwaking van ekstase, Adam se gebrek aan foreplay, die eerste hoofpyn en die eerste geveinsde orgasme. Wat natuurlik lei tot die eerste behoorlike fight

Gaan sy hierdie keer haar lappe pak en finaal vir Adam aan sy eie lot oorlaat?

Eva is dankbaar dat sy ’n mooi mannetjie gekry het, maar Adam, soos meeste mans ná hom, blyk dit, is uit die staanspoor onseker hoe om die skoner geslag te hanteer. Sy manier van doen word geslagte later nagedoen, en mééste vroue (ongelukkig nie almal nie) baklei steeds teen die stiksienige opvatting dat mans die kroon van die skepping is: “Jy is net hier om nice te wees, om na te kyk en om pluimvee gaar te maak.” Nou ja.

Intussen moet Eva óók leer hoe om die dood van haar tweede oudste seun te verwerk, klaar te kom met min slaap, hoe om met mans se moods om te gaan en die nare besef van “presies hoe baie ’n kind kan kak”. 56 “gillende spanspekke” is inderdaad ’n groot klomp nappies om te ruil.

“Is nou genoeg” of Issie soos hulle hom noem, is Adam en Eva se laaste kind, en dié mannetjie is een van haar min kinders wat Eva vreugde verskaf. Hy het styl, hy eet soesji, lyk soos sy pa, maar loop soos sy ma, en weet ook instinktief wanneer Eva se outfit ’n serpie kort. Adam se opmerking dat dit darem baie “onnatuurlik is”, is die ekstra rooi merkie uit Pretorius se pen, en verleen net daai bykomende tikkie nodige kommentaar aan eeue oue kwessies.

Frank en Margit is ’n heerlike kombinasie in hierdie hoogs vermaaklike produksie. Nie ’n minuut het verbygegaan sonder ’n snork of ’n bulder uit die gehoor nie. En hoewel Adam ’n stewige skootjie Ouboet in hom het, waarskynlik aspris, is dit lekker om die twee teaterveterane in dié prettige, maar relevante komedie sake te sien uitbaklei.

Hoop en liefde wen, al loop die duiwel nog los rond en al klink hy toe al die tyd nés Tobie Cronjé.

Eerste vir alles
9 OKT 11:00 | 11 OKT 14:00
Adam Small-ouditorium
R180-R295 | R210-R325 by die deur
Geen o/14

Facebook
Twitter
LinkedIn