TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Die rym ruk mal

Produksie: Taalgenoot-Ruk en rym-finaal met Van Pletzen
Deur: Zandri van Greunen
Foto’s: Emma Snyman

By Taalgenoot se vierde Ruk en rym-kompetisie was een ding duidelik: Die alternatiewe Afrikaanse musiektoneel is in goeie hande. Pous Calla het uiteindelik met die rooi skedeltrofee weggestap, maar die finaliste het almal gewys alternatiewe Afrikaanse musiek is lankal nie meer ’n one size fits all nie, skryf Zandri van Greunen.

Afrikaanse musiek is in goeie hande, was Peach van Pletzen se woorde by die eindronde van Taalgenoot se jaarlikse Ruk en Rym-kompetisie vir alternatiewe Afrikaanse musiek. Die uiteenlopende topvier-kunstenaars in die eindronde was ’n uitstekende voorbeeld hiervan.

Katjie het met koddige katore ons aandag getrek, maar Tatum het ons ewe goed laat verstaan sy is nie daar om te hanna-hanna nie. Terwyl Two die gehoor aan elke pluk van die elektriese punk-kitaarsnare laat hang het, het die skaam Pous Calla – ’n Kerkorrel met lang hare – met die rooi Ruk en Rym-skedeltrofee weggestap. Dit is beslis nie die soort musiek wat op RSG speel terwyl jy in die oggendverkeer sit nie en tog is dit juis die beautiful ding daarvan.

Die Afrikaanse musiekbedryf is nie ’n one size fits all nie, maar iewers moet daar ook ruimte gemaak word vir die Doc Martens wat nie noodwendig saam met Kurt op die tafels dans of saam met Brendan ’n toer om die vloer wil maak nie. Iéwers moet daar ’n verhoog wees waar die silwerkettings om die kunstenaars se nek kan skitter en die skaduwees tussen verhoogligte en tatoeëermerke met mekaar wegkruipertjie speel.

Oor die afgelope vier jaar het ons ’n trajek gesien van gehalte wat jaarliks verbeter en ’n groter verskeidenheid. Hierdie jaar het ons die mees professionele, agtermekaar kunstenaars op die verhoog gesien. Ek dink nie enigiemand wat vandag hier was, sou dink dat dié mense nog redelik aan die begin van hulle loopbaan is nie.

Angie Gallagher, assistent-regisseur van die finaal, het gesê die kompetisie skep daardie ruimte vir alternatiewe Afrikaanse kunstenaars. “Ons maak dit baie duidelik jy moet kom soos jy is, want dit is wat ons wil sien.”

Met die vyfde jaar van Ruk en Rym om die draai was dit vir Angie ook ’n goeie tyd om oor die projek na te dink. “Oor die afgelope vier jaar het ons ’n trajek gesien van gehalte wat jaarliks verbeter en ’n groter verskeidenheid. Hierdie jaar het ons die mees professionele, agtermekaar kunstenaars gesien op die verhoog. Ek dink nie enigiemand wat vandag hier was, sou dink dat dié mense nog redelik aan die begin van hulle loopbaan is nie. Dit hou seker verband met die groei in alternatiewe toneel, wat ook uitspeel in musiek.”

Vir Pous is die hele wenstorie nog ’n bietjie vreemd, maar die belangrikste ding wat hy uit die ervaring geleer het, is “om nie so self-critical te wees nie”. “Ek dink partykeer moet jy net glo in jou sound en jou woorde,” het Pous gesê.

Soos die son sak oor die halfleeg bierglase op die Daisy Jones Bar se grasperk, bly Pous se woorde by my spook. In ’n wêreld waar almal so bang is om cringe te wees, is hierdie groep musiekmakers se talent en oorspronklikheid soos die eerste trek van ’n sigaret nadat jy lanklaas gerook het. Mag die alternatiewe Afrikaanse scene nog vir lank die establishment ruk met die note en woorde wat hulle met mekaar maak rym.

Taalgenoot-Ruk en rym-finaal met Van Pletzen is op 4 Oktober in die Daisy Jones Bar gehou.

Facebook
Twitter
LinkedIn