SPIER TONEEL
Wanneer daar ’n treinspoor deur jou huwelik loop
Produksie: ’n Middel
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Is dit vergesog om te sê in elke huwelik kom ’n tyd waar iemand wonder: Wat nou? In ’n Middel beleef ’n mens hierdie skermutseling eerstehands met Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam wat die gehoor deurgaans in die palm van hulle hand hou, skryf Ilza Roggeband.
Die horlosie teen die kombuismuur wys dis net ná vier. Dis donker buite. ’n Vrou staan by die stoof. Haar kamerjas hang los aan haar lyf en daar is ’n frons op haar voorkop. ’n Man stap in en vir die volgende 90 minute word die gehoor ooggetuies van ’n paartjie wat by ’n kruispad in hulle huwelik is.
’n Middel, ’n vertaling van die Britse dramaturg David Eldridge se Middle, speel in sy geheel in Maggie en Gerhard se kombuis af. Hulle is dertien jaar getroud, hulle dogtertjie is agt. Gerhard dink dis ’n gelukkige huwelik, maar dan trek Maggie die mat onder sy voete uit: Sy is nie meer lief vir hom nie.
Wanneer ontspoor ’n huwelik? Is daar een oomblik, of is dit iets wat met tyd kom? Hoogdrawend kan ek verklaar die huwelik was my nie beskore nie, maar in gewone taal kan ek maar net sê ek was nog nooit getroud nie. Maar selfs al het ek nie getrou nie, het ek al om my gesien hoe ander mense se huwelike begin wankel. Soms is daar ’n derde party, ander kere neem kinders oor, gereeld begin mense net verby mekaar lewe.
Dan dink ek ook aan ’n vrou wat eendag gesê het: Ek was min my eie mens. Die oomblik toe ek trou, was ek my man se vrou. Toe word ek my kinders se ma en later my kleinkinders se ouma.
Maggie en Gerhard se gesprek wys die slaggate in hulle huwelik uit. Jy het simpatie met al twee. Beide begin vra of dit dan nou is wat die lewe hulle gaan bied. Moet daar nie meer wees nie? Wat van al die drome en aspirasies wat hulle gehad het, die passie toe hulle nog jonggetroudes was? Het hulle agtergrond – hy uit ’n werkersklasgesin, sy wat ’n kar vir haar eerste jaar op universiteit gekry het – iets daarmee te doen? Op ’n kol vra Gerhard vir Maggie wanneer laas sy hom gevra het hoe dit werklik met hom gaan. Hulle is nie meer twee mense wat bymekaar is tot die dood hulle gaan skei nie, hulle is twee mense wat vir mekaar instruksies gee.
Gerhard en Maggie is nie meer twee mense wat bymekaar is tot die dood hulle gaan skei nie, hulle is twee mense wat vir mekaar instruksies gee.
Teen die tyd wat die horlosie op die kombuismuur halfses wys en die hadeda roep, is albei vuisvoos. Die skermutseling het gesorg vir woorde wat nooit teruggetrek kan word nie; gebreekte koppies wat nooit weer gelap kan word nie.
Tinarie van Wyk Loots en Stian Bam het elke minuut die gehoor net daar in die palm van hulle hand gehad. Die teks, wat deur Wessel Pretorius vertaal en na die noordelike voorstede van Kaapstad verplaas is, asook Cintaine Schutte se regie verdien lof. (Cintaine en Carel Nel was verlede jaar te sien in ’n Begin, die eerste stuk in David Eldridge se trilogie wat ook End insluit.)
Nell van der Merwe se stel vir ’n Middel werk nie net prakties uitstekend nie, die fyn detail soos die horlosie teen die muur wat die minute soos ’n tydbom aftik, dra by tot die geheelbeeld van twee mense wat soek na dít wat hulle aanvanklik bymekaargebring het.
Wanneer ’n gehoor hoorbaar hulle asem intrek en met tye kliphard lag, weet jy jy beleef teater wat met die hart praat. Gaan kyk. Gaan kyk veral as jou huwelik of verhouding op ’n plek is waar jy vergeet het hoekom jy daar is. Vat jou man saam. Vat jou vrou saam. Gaan teater toe en raak wys.
’n Middel
6 OKT 19:30 | 7 OKT 19:00 | 8 OKT 16:30 | 11 OKT 16:30
kykNET Idasvallei Primêr
R230-R290 | R260-R320




