CLASSICAL MUSIC

KFO en solis oorrompel, oorgretige applous ten spyt

Produksie: Rapsodie vir ’n nuwe wêreld
Deur: Naudé van der Merwe
Foto’s: Charl du Plessis

Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes se Rapsodie vir ’n nuwe wêreld het die Standard Bank Endler met ’n klank-tsoenami gevul, maar onder Jason Atherton se leiding het balans geseëvier. Met Charl du Plessis as trekpleister in Gershwin se Rhapsody in Blue en Dvořák se negende simfonie as eindpunt was dit ’n gehoorvriendelike program wat sy staande ovasie verdien het, meen Naudé van der Merwe.

Dis altyd opwindend om die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) in ’n ander venue as hulle tuiste, die Kaapstad-stadsaal, te hoor. ’n Mens raak so gewoond aan die orkes se klank in hierdie ruimte dat ander sale se akoestiek jou met nuwe ore laat luister. Die Burgersentrum op Oudtshoorn, waar ek die KFO vroeër vanjaar tydens Klein Karoo Klassique gehoor het, het unieke uitdagings gebied. Daar sukkel enige klankgolf om selfs verder as die eerste tien rye te beweeg.

In die Endlersaal is daar nie sulke probleme nie. Jy word oorrompel deur ’n klank-tsoenami wat soms letterlik jou asem wegblaas, en wil-wil beheer verloor. Tydens Saterdagaand se konsert, getiteld Rapsodie vir ’n nuwe wêreld, het die dirigent Jason Atherton hierdie vloedgolf wel mooi in toom gehou. Die Endlersaal se akoestiek is van so ’n aard dat die strykers duideliker gehoor word as in die Kaap se Stadsaal. En tydens ’n program waar die koperblasers báie te doen gehad het, was dit ’n plesier. Balans het geseëvier!

Die programtitel was ’n onsubtiele knipoog na wat ’n mens van die konsert kon verwag. ’n Rapsodie van Gershwin? Tick. Dalk Dvořák se visie van die “nuwe wêreld”? Tick.

Jy word oorrompel deur ’n klank-tsoenami wat soms letterlik jou asem wegblaas, en wil-wil beheer verloor.

Dis sekerlik ’n uitdaging om vir ’n simfoniekonsert ’n program te kies tydens ’n fees soos die Woordfees. Om die tradisionele programstruktuur van ’n simfoniekonsert te volg (ouverture, iets vir solis en orkes, en dan ’n simfonie), en dan vanuit hierdie repertorium die beste, mees gehoorvriendelike treffers te kies, maak sin.

Die program het bestaan uit Dmitri Sjostakowitsj se Festival Overture, ’n bekende, opwindende werk, wat rats en energiek vertolk is; Gershwin se Rhapsody in Blue vir klavier en orkes; en Dvořák se negende simfonie.

Die nommereen-trekpleister vir die konsert was waarskynlik Charl du Plessis. Vandaar die uitverkoopte saal. Met sy jazztrio, en as Nataniël se pianis, het hy welverdiende lof en bekendheid verwerf. Pryse staan sy kaggelrak vol, hy’s internasionaal bekend en hy is ’n natuurlike showman. Al hierdie eienskappe help boggerol as jy nie die tegniese vaardighede het om reg aan Gershwin se Rhapsody in Blue te laat geskied nie. Daar is ook legio opnames en video’s van hierdie werk beskikbaar, so die verwagting kan by gehore ontstaan dat enige pianis Liberace, Yuja Wang en Leonard Bernstein gelyktydig moet channel om ’n indruk te maak. Gelukkig het Charl die talent, vaardighede en – dit moet gesê word – hare, om dit sy eie te maak. Hoewel hy ’n Steinway-kunstenaar is, het hy die Endlersaal se Bösendorfer laat dreun. En hy het ook tydens teer oomblikke aan hartsnare gepluk.

Hoewel hy ’n Steinway-kunstenaar is, het hy die Endlersaal se Bösendorfer laat dreun. En hy het ook tydens teer oomblikke aan hartsnare gepluk.

Die orkes het, met duidelike leierskap van Atherton, vir hoendervel-oomblikke gesorg tydens Dvořák se negende simfonie, oftewel die simfonie “uit die nuwe wêreld”. Dis geskryf toe dié Tsjeg in New York gewoon het. Weer eens het ek net besef in watter mate Hollywood-komponiste Dvořák se klankwêreld gebruik het om ’n tipiese rolprentklank te skep wat ons nou al goed ken. Musikoloë het al hulle vingers stomp getik oor hierdie onderwerp. John Williams se klankbaan vir Star Wars sou byvoorbeeld nie bestaan het as dit nie vir Dvořák was nie.

En die orkes het al die belangrike oomblikke tot hulle reg laat kom. Die staande ovasie was welverdiend.

Laastens: ek weet dis ’n fees en mense moet gemaklik wees. Maar sjoe, pak darem vir jou ’n pakkie Halls of Fisherman’s Friend in as jy weet die draai van die seisoen maak jou hoeserig en nieserig. Want dit het in ’n stadium meer soos ’n ongevalle-afdeling as ’n konsertsaal geklink.

En laastens-laastens: Ons het nou al verby die tyd beweeg waar ons nie omgee of mense tussen bewegings hande klap nie. Maar kan die oorgretiges die res van ons ’n kans gee om ’n bietjie met die stilte te sit, en ons gevoelens te voel, veral ná ’n aandoenlike stadige beweging?

Dankie en amen.

Rapsodie vir ’n nuwe wêreld is op 3 Oktober in die Standard Bank Endler aangebied.

Facebook
Twitter
LinkedIn