LIFESTYLE
So 5 minute en 5 vrae (en ’n ekstra driekwartier) met Beer
Produksie: Bieruur met Beer
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
Nadine Petrick het besluit om die Bieruur met Beer by te woon, want sy het immers ’n heel billike algemene kennis. Of so het sy gedink.
Ek is net betyds vir die Bieruur met Beer, maar dit blyk toe ek is 15 minute vroeg. Ek gaan val summier in Beer se sop, want hy ís dan nou hier, so op sy eie, en ek ook. Blyk toe die bieruur is eintlik net ’n driekwartier lank. En toe praat ek sommer ’n bietjie kak met die diere. Sonder biere.
Wanneer het die Bieruur die eerste keer by die feeste begin?
Ek dink vier jaar terug by die KKNK, maar daar was nét vier mense by daai eerste gig. Maar nou het ek dit al by die meeste feeste gedoen, Innibos, Suidoosterfees… hier by die Woordfees. Hier is die bywoning beslis die beste. Al is dit nou nét ’n driekwartier.
Wie daag op?
Oud en jonk, maar hier veral ook die studente. Hopelik vir die feite, maar helaas, ook vir die bier. Maar die mense is regtig baie civil, en hulle help my vinnig reg as hulle dink ek is dalk verkeerd.
En toe praat ek sommer ’n bietjie kak met die diere.
Wat doen jy alles by die fees?
Ek doen ’n kinderboekvoorlesing van Silas en die Ysbeer op Tafelberg (10 Oktober om 09:00); die Bieruur, en ek doen ’n onderhoud saam met my broer Jaco oor my ma, Wilma, se nuwe boek. So ’n weird familieding! Ons het dadelik ja gesê, want dis altyd lekker om mekaar te sien. Nou kan ons háár ’n bietjie grill vir ’n slag. Ek wou die Shaka-bulhoringtaktiek op haar toepas waar ons haar omsingel en squeeze, maar ons sal maar sien hoe dit uiteindelik gaan werk. Verder speel ons nuwe band, Buurvrou, Vrydagaand by Die Khaya. En ek ondersteun vir Carla (Smith) obviously. Sy is hier met Atropa en Cry Baby.
Gepraat van Buurvrou, wat is die planne daarmee?
Ons wil beslis record, maar ons is nog besig om dit live uit te toets en te stress test. Die songs verander die hele tyd en as jy dit live doen, kry ’n mens lekker terugvoer. Die droom was om Desember op te neem, maar meer realisties Februarie. Ek was nou saam met die Zinkplaat-manne in die studio en toe dink ek net… oe, ja, kom ons doen dit. Kom ons record.
Waarmee is jy andersins besig?
Ek skryf ’n draaiboek wat ek hopelik aan een of ander miljoenêr kan verkwansel om dit te befonds. Nee, maak dit ’n miljardêr, want miljoenêrs kan dit nie meer bekostig nie! Daar is ook drie manuskripte op my desktop en dit hang maar af van hoe depressed ek die dag is oor watter een ek oopmaak en aan skryf. Ek en Nico [Scheepers] het ’n WhatsApp-groep, maar hy skop my gat op die oomblik. Ons praat glad nie op die groep nie, ons stuur net hoeveel woorde ons daardie dag geskryf het. En ek’s op nul.
My vyf minute is op, want die RSG-tent begin vol raak met mense wat hoopvol handjie opsteek om ’n bier met hulle algemene kennis te wen. Ek sit ook nader, want ek het immers ’n hele paar feeste gelede saam met slim spanmaats ’n paar rand by die einste Bieruur losgeraai. (Budget cuts, en so, blyk dit.) Welkom terug, Anita, sê Beer, en ek loer oor my skouer na my kompetisie.
Beer val weg, en binne enkele minute begin ek ongemaklik rondskuif. Ek ken net mooi fokol antwoorde. Want hierdie uitgawe van die Bieruur is gelaai met vrae oor sangers soos Drake, Taylor Swift, Cardi B, One Direction en Lizzo. Ek het vasgehaak by Tori Amos en Fleetwood Mac en Bruce, so ek sit en kyk hoe die een student ná die ander wegstap met ’n bier-voucher, en ek is eintlik nogal dors.
Welkom terug, Anita, sê Beer, en ek loer oor my skouer na my kompetisie.
Watter bekende persoon is Peter Hernandez? Ek weet nie.
Wat is die naam van Beyoncé se debuutliedjie? Ek weet nie.
Hoeveel lede is in die groep BTS? Ek weet nie, want ek het regtig nog nooit van hulle gehoor nie.
So hou dit aan en aan en uiteindelik vra Beer ietsie meer age appropriate, en ek is vinniger as Anita (ek dink sy het waarskynlik ook die antwoord geken), en toe ek Wham! uitskree, toe wen ek uiteindelik ’n bier. Maar my tjank is só afgetrap, ek het spontaan my dors verloor. Ek klou wel verbete aan my vouchertjie vas, want Stellenbosch gaan later die week weer warm raak. En ek gaan sonder twyfel weer dors word.
Iemand in die agtergrond het telling gehou van die wenners en uiteindelik bly twee mense oor. Ene Bianca en ’n man wie se naam ek nie gehoor het nie. Hulle het die meeste vouchers gewen, en gaan hopelik ook vanaand huis toe Uber. Maar benewens die bier kry hulle ’n uitklopronde en die kans om ’n bottel wyn (by die Bieruur) te wen.
Enkele vrae later wen Man-sonder-naam sy wyn, en ek stap, effens geruk, weg. Maar ek het dárem eers vir Beer gegroet.
Bieruur met Beer
7 & 8 OKT | 17:15
RSG/ATKV-vierkant
Gratis, bespreek wel ’n kaartjie.





