SPIER THEATRE

Wanneer jy jou woorde moet begin tel

Produksie: Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Verskaf

Dean John Smith en Mienke Ehlers moet hulle woorde tel, en in hierdie produksie doen hulle dit in die roerendste stiltes moontlik, skryf Nadine Petrick.

Wat sal jy doen en wat sal jy sê as jy elke dag net 140 woorde mag praat? Hoe sal jy jou woorde by die werk tel om seker te maak dat jy aan die einde van die dag iets vir jou geliefde oorhet? Wat is belangrik en wat kan jy bloot met ’n handbeweging of ’n skewe kyk kommunikeer?

In Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, soos verwerk en geregisseer deur Kanya Viljoen, is dit presies wat met Brendan (Dean John Smith) en Lisa (Mienke Ehlers) in hierdie onthutsende en onderhoudende stuk van Sam Steiner gebeur.

Die twee karakters ontmoet by ’n kat se begrafnis. Lisa is ’n passievolle musikant met ’n voorliefde vir protesaksies en aktivisme; Brendan ’n kandidaatprokureur wat die wêreld in skakerings van swart-en-wit aanskou. Die vonke spat onmiddellik, en die chemie tussen Ehlers en Smith ontvlam binne minute tot iets elektries. Die liefdesverhouding ontvou só gemalik, mens kan sweer dié twee is dalk werklik verlief. Die akteurs is welbekend met mekaar, en het saamgewerk op die gewilde sepie Suidooster, maar moenie dat dit jou vir ’n oomblik van stryk bring of afsit om die stuk te gaan kyk nie. Albei speel met ’n weerloosheid wat diep tref.

Op ’n gestroopte stel, met slegs ’n staalplatform waarop die karakters mekaar liefkoos, en konfronteer; baklei en mee skerts, ontvou dié aangrypende en soms heerlik humoristiese verhaal tweeledig. Aan die een kant ontknoop ’n liefdesverhaal met onderstrominge, verraad en tog ook baie deernis, en aan die ander kant word ’n nuwe Ingrypingswetgewing wat mense kwansuis moet veilig hou, maar uiteindelik bloot die land se inwoners se monde snoer, geïmplementeer. Met ontroerende gevolge.

Van die paartjie wat aanvanklik nie genoeg van mekaar kon kry nie, en waar die gesels nooit opgedroog het nie, bly daar soms net 14 of 49 of niks woorde oor nie. Hoe baklei jy met net tien woorde tot jou beskikking? Hoe sê jy “ek is jammer” of “ek het jou lief” as jy jou woorde by die werk opgebruik het? Want as jy meer as die toegelate 140 woorde per dag uiter, word jy geskok met ’n mikroskyfie wat deur die staat in almal se nekke ingeplant is. Jou horlosie hou nie net tyd nie, dit hou jou mond én jou emosionele binnewêreld in toom.

Die vonke spat onmiddellik, en die chemie tussen Ehlers en Smith ontvlam binne minute tot iets elektries. Die liefdesverhouding ontvou só gemalik, mens kan sweer dié twee is dalk werklik verlief.

Lemoene takel verskeie kwessies – kommunikasie, sensuur, menseregte. Maar op die ou end is dit ook net ’n verhoudingsverhaal van twee kwesbare mense wat mekaar innig en passievol liefhet, al stem hulle nie noodwendig oor alles saam nie, en al is daar baie dinge wat, selfs tussen die stiltes, ongesê kon bly.

In die lig hiervan is dit dan werklik jammer dat feesgehore nie altyd die seer agter die humor met meer sensitiwiteit kan hanteer nie. Jaar ná jaar en fees ná fees is daar altyd iemand wat lag wanneer hulle nie moet nie, en dit bederf grotendeels ’n kykervaring vir ’n meer sensitiewe kyker. Maar dan moet ’n mens seker nie te hard kla nie, want hulle het immers die moeite gedoen om te gaan kyk.

En as jy nog nie het nie, gaan kyk gerus. Ehlers en Smith sal jou betower. Hulle speel hulle harte uit, en selfs sonder enige woorde is daar ’n delikate verstaan van mekaar op die verhoog. En heel waarskynlik ook wanneer die verhoogligte finaal in stilte uitdoof.

Lemoene, lemoene, lemoene, lemoene, lemoene
9 OKT 13:00 | 10 OKT 17:00 | 11 OKT 19:30
kykNET Idasvallei Primêr
R180-R220 | R210-R250 by die deur
Geen o/14

Facebook
Twitter
LinkedIn