EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Allesbehalwe ’n naai
Onderhoud: Mia Arderne
Deur: Dianne Albertze
Foto’s: Verskaf
Mia Arderne, skrywer van How to stop being a naai, skrik nie om die goed te skryf wat ons te bang is om te erken nie. Met dié satiriese selfhelpboek wou sy sin maak van haar eie naaiery, het sy aan Dianne Albertze vertel.
Dis ’n teer saak om te erken dat jy een is: ’n naai. Dit vat guts – nie om een te wees nie, maar wel om die doringwoorde oor jou lippe te lat loop. Mia Arderne, skrywer van How to stop being a naai, skrik egter nie om die goed te skryf wat ons te bang is om te erken nie.
Maar moenie die storie verkeerd kry nie, die boek is fiction. En die hoofkarakter, Lucian aka DJ Leeg, is baie ver verwyder van wie die slim en plat-op-die-aarde brunet is. Ek en die briljante brein agter die boek doen ’n video call oor WhatsApp. Sy sit in die agterjaart en trek kort-kort aan haar vape. Smaak my sy het al die son aan haar kant van die wêreld.
Mia vertel sy het in Bellville-Suid grootgeword en was maar ’n soet meisie met haar kop gedurig in die boeke. Haar Afrikaanse onnie het agtergekom sy hou van lees en vir haar boeke begin leen, onder meer Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie. Sy het die sardoniese humor in die roman geniet en die donkerte verstaan, maar haarself toe nog ingehou.
Die gelag stop eers. Ons skep asem, want ons albei het al met verslawing ’n kooi gedeel. Ja, ons drug of choice was dalk nie dieselfde nie, maar dit maak nie saak wat jou poison is nie, want addiction is addiction.
Eers ná skool as dramastudent aan Rhodes-Universiteit en later UCT het Mia haarself toegelaat om haar hare behoorlik los te maak. Maar dit was ook nie net ’n jol nie. Dit was die tyd van #FeesMustFall en #RhodesMustFall en groot politieke onrus op kampusse. Vir Mia was dit niks nuuts nie, want albei haar ouers was aktiviste.
“Both my parents were in the Struggle. My mom was detained in Pollsmoor,” sê sy in haar kenmerkende sagte rasperstem. ’n Matter-of-fact way van praat. Moeiteloos mooi is sy sonder make-up met sagte donkerbruin oё.
Oor haar ma is Mia veral erg. Sy gee ’n groot glimlag wanneer sy vertel hoe supportive haar ma is. Toe ek vra wat haar ma van die boek se titel dink, sê sy met haar is haar ma alles gewoond. Hulle is close en staan mekaar by, al het daar ook al lang skadu’s oor haar pad geval.
“Look,” sê sy en puff aan haar electronic entjie, “I got addicted to benzos which was initially prescribed to me.”
Sy lag. Hierdie is ’n vrou wat haar duidelik nie te lank in die donker vasstaar nie en met haarself kan spot.
“I started drinking it with my dop. Going out of control. It was heavy,” sê sy.
Ek wil wegkyk, maar voel ook te kak om notas te maak terwyl sy haar broken heart openbaar. Mia kyk my vas in die oё en sê: “And this is where I really became a naai.”
Ons lag. Die klank daarvan klink seer.
Ek sien flitse van Lucian in sy gunstelingkroeg, besig om te DJ vir ’n empty house. Ek voel weer die leegheid in haar roman. Die leemtes wat die karakters probeer vul met dop en dooie drome.
Die gelag stop eers. Ons skep asem, want ons albei het al met verslawing ’n kooi gedeel. Ja, ons drug of choice was dalk nie dieselfde nie, maar dit maak nie saak wat jou poison is nie, want addiction is addiction. Dis daai brandkol wat Lucian se entjie op sy vrou, Layla, se kosbare mat los. Daai swart gat wat altyd agterbly. Ek haal my hoed – en my pruik as ek een gehad het – vir haar af.
Mia trek haar vingers vol verskillende ringe deur haar hare en praat verder: “One day I just decided I’m gonna stop taking these pills. And when I did, I got a grand mal seizure, cause you’re not supposed to immediately stop. Cutting this thing was a fucking situation.”
Al die kruise wat sy al oor die lewe se klippepad moes dra, het haar nog meer deernis vir die weggesmyte en eenkant karakters van die lewe gegee. En dis hoekom Mia mense vol krapmerke so menslik kan teken.
Deesdae is sy op ’n baie beter plek in haar lewe. Sy het aan die boek begin skryf toe sy uit ’n psigiatriese inrigting gekom het. Sy wou sin maak van haar eie naaiery en het begin journal. Later word dit toe ’n satiriese selfhelpboek oor hoe om ’n beter mens te word. Haar uitgewer, Stevlyn Vermeulen van Kwela, het haar aangemoedig om dit in ’n roman te omskep. Mia was nuuskierig en die drade in haar kop het begin vonk. Sy besluit toe om die storie weg van haarself te skryf, en dis hoe Lucian gebore is.
Ek staan en verkyk my aan dié Mia Arderne. Sy wat skryf asof haar pen met arseen gevul is en wat sulke toeganklike en tog veelvlakkige goed kan skryf. En dan is die girl nog plat op die aarde. I mean, really?
Mia laat haar karakters toe om hulle eie storie te vertel – ’n “As you go”-proses.
Lucian is ’n klomp goed: ’n kak pa, afwesige lover, suiplap. Een ding is vir seker: Hy is ’n sleg kontse kjeent, en nog erger, ’n naai. In dié satiriese selfhelpboek kry ’n mens ’n pynlik realistiese blik op die lewe van ’n man wat leeg op die bodem van ’n dolleë brandyglas lê.
Ek staan en verkyk my aan dié Mia Arderne. Sy wat skryf asof haar pen met arseen gevul is en wat sulke toeganklike en tog veelvlakkige goed kan skryf. En dan is die girl nog plat op die aarde. I mean, really? Sy pause sommer die interview en vra my: “So girl, how are you holding up?”
Ek smaak om soos Lucian ook die hele wêreld in sy moer te stuur en vir Mia te vra of ek nie eerder in een van haar boeke kan gaan leef nie. Al is dit hoe vol tragic plot-twist, weet ek sy het daai Spike Lee-bou: politiek bewus, glad met dialoog, vol ironie. Daai klink okay vir my, want die lewe hier buite is maar vol naaiers wat baie erger is as dié in haar boek. Boonop het ek vandag geleer dat Mia self allesbehalwe ’n naai is.
Mia Arderne is ook die skrywer van Mermaid Fillet (2020) wat by Kwela verskyn het en A thousand eyes on you (2024), uitgegee deur LAPA.




