TOYOTA MUSIC FESTIVAL
Wen-vennootskappe is ‘Prima’
Produksie: Prima
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Met Ramon Alexander agter die klawers en ’n groep knap jazzmusikante wat hulle begelei, bring Dean Balie en Bianca Flanders ’n keur van die flambojante Siciliaans-Amerikaanse trompetspeler en jazzsanger Louis Prima se grootste treffers na die Drostdy-teater op Stellenbosch. Dit was waarlik prima, skryf Marina Griebenow, en die lang staande applous welverdiend.
Jy sal verskoon word as jy, soos ek, nie weet wie wyle Louis Prima was nie. Dié flambojante en invloedryke Siciliaans-Amerikaanse trompetspeler en jazzsanger met ’n rasperstem soos growwe klippies was bekend vir sy energieke vertolkingstyl en uitbundige verhoogpersoonlikheid.
Prima was min of meer ’n tydgenoot van Louis Armstrong en het as die Italiaanse Satchmo bekend gestaan. Albei was toevallig boorlinge van New Orleans, die jazz-hoofstad van Amerika, en oor verskeie dekades heen het hulle hul merkwaardige loopbane gevestig met groot invloed oor die genres en projekte waarby hulle betrokke was.
Prima was onbeskaamd Italiaans in ’n tyd toe diskriminasie teen swart mense ook sommer die Italianers ingesluit het. Trouens, hy was baie aspris en sou homself sommer méér Italiaans gehou het net om die bevooroordeeldes te irriteer.
Almal is huis toe met ’n swaai van die heup en ’n lied in die hart. Dit was onpretensieuse, hoogs onderhoudende en Prima-gehalte vermaak!
Prima se mees belangwekkende vennootskappe was met sy vierde vrou, Keely Smith (en ja, daar was ’n vyfde een ook), en die saxofoonspeler Sam Butera. Prima en Smith se vertoning was gegrond op kontras – sy amper maniese, onstuitbare persona teenoor Smith se lakoniese gesofistikeerdheid. Hulle vertoning by die Sahara in Las Vegas, waar hulle soms tot vyf optredes per aand gedoen het, was die tipe teatrale nagklubvermaak wat later met die Rat Pack-era vereenselwig sou word.
’n Soortgelyke suksesvolle vennootskap, maar plaaslik, is ons eie Dean Balie en Bianca Flanders. Met Ramon Alexander agter die klawers en ’n groep knap jazzmusikante wat hulle begelei, bring Dean en Bianca ’n keur van Prima se grootste treffers na die Drostdy-teater hier op Stellenbosch.
Dean was veral in sy noppies dat Janine Neethling ingestem het om die musiekregisseurstoel in te neem, terwyl Melissa van der Spuy vir treffende verwerkings gesorg het wat Muneeb Hermans (trompet), Henco Bester (saxofoon), Sam Carelse (bastromboon), Shaun Johannes (basspeler), Annemie Nel (tromme) en André Terblanche (sanger) met groot vaardigheid en aansteeklike entoesiasme uitgevoer het. Dis mos eintlik die heerlikste aspek van so ’n jazzkonsert – die musikale gesprekke tussen die musikante en sangers. Die een-vir-jou en een-vir-my vind groot byval by die gehoor.
Dean val weg met een van Prima se bekendste nommers, “Just a Gigolo”, wat dan oorgaan in “Sing, Sing, Sing”, een van Prima se komposisies wat destyds ’n groot treffer vir die jazzklarinet-virtuoos Benny Goodman was. Sy Italiaanse nommers “Buona Sera” en “Che la Luna” is by ons welbekend – wag net tot jy die eerste note hoor – asook romantiese liedere soos “Embraceable You” en “I’ve Got You under My Skin”. Dean se veelsydigheid as sanger en sy onderhoudende en gemaklike geselsies met die gehoor is sy grootste bates, hoewel sy stem met die verruklike timbre en sy natuurlike ritme ’n reuse-pluspunt is. Dieselfde geld vir Bianca.
My gunstelingnommer was “Nitey Nite”, ’n slaapliedjie wat Bianca passievol en beeldskoon vertolk het. Dit was regtig die mees geskikte manier waarop sy haar wye register en soet boonste tone kon tentoonstel. Sy vertel hoe sy gesukkel het om ’n geskikte slaapliedjie te kry vir hulle kleuter, Manu, tot Dean “Nitey Nite” voorgestel het. Dit werk glo klokslag.
Dis mos eintlik die heerlikste aspek van so ’n jazzkonsert – die musikale gesprekke tussen die musikante en sangers.
Die komiese hoogtepunt was gewis die Disney-lied “I Wan’na Be like You” (The Monkey Song) wat Prima destyds opgeneem het vir die stem van die karakter King Louie in The Jungle Book nadat Disney hom persoonlik genader het. Dean en sy “broer”, André Terblanche, het hulle gate uit geniet met dié nommer, om nie eens te praat van die gehoor nie.
Die einde het veels te gou aangebreek, maar ná ’n lang staande applous en ’n vermaning van Dean om tog in die oomblik te leef, sluit hulle af met “Enjoy Yourself”. Vir die gehoor sou laasgenoemde net ’n voortsetting wees van wat hulle die afgelope uur gedoen het. Almal is huis toe met ’n swaai van die heup en ’n lied in die hart. Dit was onpretensieuse, hoogs onderhoudende en Prima-gehalte vermaak!
Prima
10 OKT 17:00
Drostdy-teater
R165-R250 | R195-R280



