EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Die musieknote het mooi geval vir Masote
Onderhoud: Kutlwano Masote
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Die tjellis en dirigent Kutlwano Masote deel in sy memoires, Imperfect Harmony, die vele hoogtepunte in sy roemryke loopbaan, maar is ewe eerlik oor die laagtepunte, soos die drankduiwel wat hy moes oorwin. Jo-Ann Floris het met voor sy boekgesprek by die Toyota Stellenbosch Woordfees met hom gesels.
Daar is dae dat Kutlwano Masote terugkyk op sy loopbaan as musikus en opnuut besef hoe mooi die note vir hom geval het. Op 53 kan hy dit nou waardeer, want in daai einste loopbaan was daar saam met die hoogtepunte uiters lae oomblikke ook.
Kutlwano sit rustig onder die bome by die Toyota Stellenbosch Woordfees kort voordat hy voor ’n gehoor moet praat oor sy memoires, Imperfect Harmony, wat uitgegee is deur Xarra Books. Dit is hier waar hy ook vir die eerste keer in jare weer self die tjello in die openbaar gespeel het sedert hy in 2006 as dirigent op die verhoog begin stap het.
Sy musiekpad het begin in ’n musikale ouerhuis in Soweto, toe word hy ’n tjellis en nou verpoos hy as dirigent – verpoos, ja, want sy musiekpad is nog lank nie klaar nie.
’n Mens kan nie Kutlwano se storie vertel sonder om by sy oorlede pa, Michael, te begin nie – eintlik loop dit nóg verder terug, want almal in die familie was gemoeid met musiek.
Michael, ’n vioolmeester wat in 2017 op 76-jarige ouderdom gesterf het, het die heel eerste swart orkes in die land gestig. Dit het gegroei tot die Soweto Symphony Orchestra waaruit ook die Soweto String Quartet ontstaan het. Maar sy groot triomf was om Handel se Messias in nege swart tale te vertaal, wat in 1983 die eerste keer in sy geboorteplek uitgevoer is. In 1996 het hy dit aangepas om die veranderende land te weerspieël en van die oorspronklike Engelse teks asook Afrikaans ingesluit.
Maar die tjello, o die tjello praat met jou soos ’n mens. Hulle sê jy neem die persoonlikheid aan van die instrument wat jy bespeel.
Kutlwano het besluit om eerder die tjello te speel omdat hy wou wegkom van die viole af. “Al die cool ouens wat ek geken het, het die tjello gespeel. Ek hou steeds van die viool – dit was tog die eerste instrument wat ek leer speel het. Maar as kind het dit altyd vir my geklink soos ’n hardlywige kat, veral as jy nog leer speel.
“Maar die tjello, o die tjello praat met jou soos ’n mens. Hulle sê jy neem die persoonlikheid aan van die instrument wat jy bespeel. Dit was van die begin af duidelik ek het ’n aanvoeling, ’n geneentheid, tot die tjello.”
In 1984 is sy pa deur pres. Lucas Mangope van Bophuthatswana, destyds een van die tuislande, genooi om musiekontwikkeling daar te kom doen. Mangope het in daardie stadium ’n radiostasie begin, en sy droom was om ’n orkes van Tswana-kinders van die grond af te kry.
“Hy was ’n man wat baie lief was vir kuns en kultuur, en binne ses maande het my pa die orkes gestig.”
Kutlwano beskryf hulle tyd in Mahikeng (destyds Mafikeng) as “’n oase”.
“Oraloor die land het die townships gebrand, maar ons is glad nie daardeur geraak nie en kon ons skooljare sonder onderbreking voltooi.”
Daar was egter ’n ander uitdaging. Die tjello-onderwyser was in Johannesburg, en een keer per maand moes hulle die langpad aandurf. “Deur Ventersdorp, nogal. En ons het mos geweet dis die tuiste van Eugène Terre’Blanche, so ons het maar altyd gesorg dat ons vinnig daar verby kom!” lag hy.
Op 13 het hy vir die eerste keer gehoor van die befaamde Amerikaanse tjellis Yo-Yo Ma, en hy was meer as ooit oortuig dis die rigting wat hy wil inslaan. Dit is egter ’n beurs van die wêreldberoemde dirigent wyle Yehudi Menuhin wat hom die geleentheid gegee het om by sy musiekakademie in Switserland te gaan studeer.
Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1998 het Kutlwano hom aangesluit by die Nasionale Simfonie-orkes, wat intussen ontbind is. In 2006 het hy rigting ingeslaan as dirigent.
Vanaf sy studiejare het ’n ander uitdaging hom bekruip, en teen sy tiende huweliksjaar met sy vrou, Masi, het hy besef wat hy gedink het beheerste drankgebruik was, was eintlik ’n groot probleem.
Vanaf sy studiejare het ’n ander uitdaging hom bekruip, en teen sy tiende huweliksjaar met sy vrou, Masi, het hy besef wat hy gedink het beheerste drankgebruik was, was eintlik ’n groot probleem.
“Dit help nie ’n mens is nie eerlik daaroor nie. My pa is die enigste mens wat ek ken wat soos hy ouer geraak het, meer en meer gedrink het. Ná sy aftrede het dit net erger geraak, so erg dat die kleinkinders hom Oupa Sip-Sip genoem het. Toe beland ek in dieselfde spiraal. Daar sit en speel ek saam met mense wat baie ouer is as ek, en na die tyd dink hulle nie twee keer om vir my ook drank te koop nie. Dit het goed gevoel op daai tydstip, maar ek het nie aan die gevolge gedink nie.”
Maar op ’n dag het hy sy twee seuns so bekyk – hulle was toe onderskeidelik 7 en 5 jaar oud – en besef hy moet “die ding” onder beheer kry. Hulle is nou jong manne van 22 en 20 jaar.
“Ek het geweet ek moet daar wees vir my kinders. Ek het ook geweet as ek by die spreekwoordelike groot tafel sit, moet ek doen wat nodig is.
“Daar was oggende wat ek heel eerste gaan kyk het of die kar nie dalk gestamp is nie, want ek kon glad nie onthou hoe ek tot by de huis gery het nie. Dis nie die pa wat ek vir my kinders wou wees nie.”
Dit is nou langer as 15 jaar dat hy laas aan drank geraak het. “Dis hier waar die dissipline van musiek en die oefening ingeskop het, want toe die besluit gemaak is, was daar nie omdraaikans nie.”
Masi is die krag agter sy sukses, sê hy.
“Sy is my inspirasie, my muse – en die een wat sorg dat ek betaal word en vir die gesin kan sorg. As dit van my afgehang het, sou ek maar net musiek maak!
“Daar was baie ander engele en mentors op my pad, onder andere die musiekonderwyser Margaret Nabarro. Sy het my een aand ná ’n konsert eenkant geroep en die volgende ding was ek ingeskryf by St. Johns College vir my finale skooljare. Toe ek universiteit begin, het ek selfs by haar en haar man, prof. Frank Nabarro, gebly.
“Wat ek weet, is dat jy ’n produk van jou omgewing is, maar die invloede wat jy in jou lewe toelaat, kan jou soveel verder vat.”



