SPIER THEATRE

Hoe gryser, hoe snaakser

Produksie: Gryp elke grasHolm
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld

Vir 75 minute het die hele Bloemhof-saal vibreer soos die gehoor na asem gesnik het by Marion Holm se vertoning Grys elke grasHolm, skryf Duné van Jaarsveld.

Ek stap die saal binne en begin dadelik hoes. Outannie-parfuum – ongelooflik baie daarvan. Dit lyk of elke woordfeeskat en haar vriendin hier is. Toe Marion Holm eers haar eerste drie grappies vertel, verstaan ek waarom. Dit gaan oor menopouse en oudword, twee temas wat ek met ou tannies assosieer.

Maar ek wil ook dadelik byvoeg daar is min persoonlikhede wat 600 mense kan laat skaterlag. Die hele Bloemhof-saal het vibreer soos die gehoor by tye na asem gesnik het. Al was die temas dalk gerig op ’n spesifieke teikenmark, het almal in die gehoor dit geniet.

Marion het ’n klomp stories oor haar lewe gedeel en verduidelik die doel van Gryp elke grasHolm is om die silwerrandjie van elke donker wolk te soek en uit te wys en om mense te motiveer en hulle te leer om eers die snaaksigheid of die mooi in die sleg raak te sien. Sy sê dit is hoe sy haar 60’s wil deurbring, en in moeilike tye sal sy na elke grashalm gryp. Wat ’n inspirasie.

Al was dit net Marion en ’n enkele stoel op die verhoog, was dit meer as genoeg. Hierdie is immers ’n vrou wat ’n groot gehoor vir 75 minute aan die lag kan hou met ’n mengsel van grappige verhale en ’n ligte dosis lewenswysheid.

  • Die speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees is verby.
Facebook
Twitter
LinkedIn