SPIER THEATRE
Wanneer jy jou woorde moet begin tel
Produksie: ATKV-Tienertoneel se nasionale wenproduksie
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Die Hoërskool Stellenbosch se waardige wenproduksie, Die kandidaat, is ’n uitdagende stuk waarmee die regisseur, André Gerber, mense wil laat lag, maar meer nog, mooi laat nadink oor waar hulle hul kruisie gaan trek in die komende verkiesing, skryf Nadine Petrick.
Die ATKV se Tienertoneelkompetisie is al 62 jaar lank dié vereniging se vlagskip- en oudste projek. Van die land se bekendste werkende regisseurs soos Christiaan Olwagen, Nico Scheepers en Philip Rademeyer het hulle tande met hierdie kompetisie geslyp en dis tydens hierdie landwye projek waar jong talent op stowwerige skoolsaalverhoë ontgin word. Dis ’n wonderlike voedingsbron vir die bedryf. Van die land se bekendste werkende regisseurs soos Christiaan Olawagen, Nico Scheepers en Philip Rademeyer het hulle tande met hierdie kompetisie geslyp en dis tydens hierdie landwye projek waar jong talent op stowwerige skoolsaalverhoë ontgin word. Dis ’n wonderlike voedingsbron vir die bedryf.
Vanjaar se waardige wenproduksie, Die kandidaat, deur Hoërskool Stellenbosch, is laasnaweek bekroon en speel die naweek by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Dis ’n uitdagende stuk dié. Die regisseur, André Gerber, hoop dit laat mense lag, maar meer nog, dat dit hulle mooi sal laat nadink oor waar hulle hul kruisie gaan trek tydens die komende verkiesing. Want dit is wat dié stuk in al sy malle politieke gatkruipery, gelaai met korrupsie, leuens en koalisies, met satire en gewaagde humor uitstekend belig. Soos Nita Cronjé van die ATKV na afloop van die stuk sê: “Hierdie tieners wys vir ons dat hulle nie grootmense se *** opvreet nie. Hulle sien regdeur alles.”
Iewers in die 60’s, in ’n klein Poolse dorpie, sterf daar twaalf mense en ‘n kat in ’n ontploffing. Die dorp en sy mense verval, maar die burgemeester, heerlik vertolk deur Johan Swanepoel (aangewys as beste akteur tydens die Nasionale kompetisie) is duidelik meer begaan oor sy eie status as oor die gepeupel wat skielik sonder huise sit. Nuwe kandidate kom na vore, en dis hier waar die stuk na sesde rat oorskakel. Die oorbluffende talent van Emelyn Snyman (die kind is in graad 9!) steel absoluut die kollig.
As die glibberige dr. Joanna Dąbrowska met verskeie geheime en sluwe agendas vertolk sy die rol soos iemand wat al jare haar brood op Woordfeesverhoë verdien. Sy word dan ook as beste aktrise tydens die nasionale kompetisie aangewys. Kowalski, die ander kandidaat, is seksbehep en dink niks daarvan om vroue van die dorp te misbruik en te verkrag nie. Hy is ook nie die skerpste potlood in die pennesakkie nie: “Elke keer as jy jou mond oopmaak, verander iemand in ‘n lebsiër!” gil Dąbrowska hom toe. ’n Komiese weggooilyn wat later veel meer betekenis kry.
Die uiteinde van die “verkiesing” neem ’n verrassende wending – ’n onwaarskynlike kandidaat neem oor as burgemeester, en dis dan wanneer die gruwelikheid van mag, en die nagevolge daarvan, alles spektakulêr laat ontrafel.
Gerber kry dit reg om met ’n baie minimalistiese stel en die gebruik van sterk beligting en stellasies op wiele, die kontras tussen die magspelers en die gepeupel verder te onderstreep. Dis slim en effektief, en die spelers gaan bedrewe en geoefen met die rekwisiete om.
Benewens die gewone waansin van politiekery word geslagsidentiteit ook belig, en daar is geen gebrek aan seksuele innuendo’s en suggesties nie. Om skoolkinders op die verhoog te hoor kreun en steun en vloek is nogal onthutsend, maar dit versterk op ’n manier die absurditeite van sisteme wat veelvlakkig in mekaar tuimel.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur van die ATKV, wil hê gehore moet weet dat die vereniging dit ten sterkte ondersteun dat die status quo uitgedaag word en dat aktuele sake deur die jongmense aangespreek word: “Dis ’n interessante, maar gewaagde teks, en ’n weerspieeling van wat in Suid-Afrika en die wêreld aan die gebeur is. Dis absoluut relevant tot die wêreld waarin ons leef.”
Dis egter belangrik om te verduidelik dat hierdie toneeltekste met versigtigheid en sensitiwiteit aangepak word. Dit word gementor en gewerkswinkel sodat die kinders kan besef presiés waarmee hulle te doen het, en daarna word hulle ook behoorlik gedebrief. Met die kompetisie probeer die ATKV voortdurend om sónder sensuur uit te daag, maar immer met groot verantwoordelikheid, omdat dit tieners is waarmee hulle werk.
Dis wonderlik om te sien hoe hierdie jong kinders dan uiteindelik op ’n feesverhoog skitter. Die bedryf is waarskynlik binnekort nog ’n ster of twee ryker.
ATKV-Tienertoneel se nasionale wenproduksie
11 OKT 14:00
Open Window-kampus
R80-R120 | R110-R150 by die deur




